• Login
  • Search Icon

SOMERGEWASSE: wat moet ek plant en hoeveel gaan dit my kos?

August 2012

image

PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die daarstel van produksiebegrotings, voor die aanplant van gewasse, is noodsaaklik aangesien dit produsente help om produksiebesluite te neem. Produsente word aangeraai om die produksiebegrotings van die verskillende gewasse te ontleed en hul bruto marges en gelykbreekopbrengste te bepaal. Gebruik realistiese en haalbare mikpunt -stellings en produkpryse.

Produktiwiteit

Dit is van kardinale belang dat produsente hulself eers deeglik vergewis van die produksiekoste van verskillende graangewasse asook die effek daarvan op winsgewendheid.

Produsente is oor die algemeen prysnemers en met die toenemende styging van insetkoste heers daar bekommernis oor of inkomste die koste kan dek. Omdat produsente prysnemers aan die inset- sowel as die uitsetkant is en daarom nie veel aan insetpryse kan doen nie, sal maniere gevind moet word om insette optimaal aan te wend. Alternatiewe opsies sal ook oorweeg of toegepas moet word om produktiwiteit
‘n hupstoot te gee.

Nuwe produksiepraktyke wat op die beginsels van minderbewerking- of bewaringsbewerkingsaspekte geskoei is, vind tans wêreldwyd al hoe meer plaas en om hierdie rede beskou Graan SA bewaringsbewerkingsnavorsing as noodsaaklik om sodoende toekomstige produktiewe produksie te bevorder.

Noodsaaklikheid van ‘n gewasbegroting

‘n Begroting is niks anders nie as ‘n geskrewe plan oor toekomstige optrede, uitgedruk in fisiese en finansiële terme. Aangesien dit om planne vir die toekoms gaan, word hierdie vooruitbeplanning op vooruitskattings, historiese gegewens, aannames en ondervinding gebaseer.

Niemand kan egter die toekoms met al sy risiko’s en onsekerhede akkuraat voorspel nie. In die lig hiervan moet produsente, as gebruikers van begrotings, daarvan bewus wees dat begrotings asook die aannames waarop dit berus, voortdurend aan veranderinge onderworpe is.

Begrotings moet gevolglik nie as rigiede of vaste planne beskou word nie, maar eerder gesien word as ‘n bestuurshulpmiddel.

Die belangrikheid van volledige gewasbegrotings kan nie genoeg beklemtoon word nie. ‘n Goed opgestelde begroting vorm ‘n basis vanwaar produksiebesluite geneem kan word en om die uitwerking van besluite vooruit te bereken.

Kostestruktuur van bedryfstakke

Die kostestruktuur van ‘n vertakking word uit veranderlike en vaste koste saamgestel. Sedert die koms van die vrye mark, moet produsente self besluit of die Safex-prys voldoende is om te produseer al dan nie. Slegs deur alle koste te bereken kan ‘n sinvolle besluit vir volhoubare produksie geneem word. Vervolgens moet vasgestel word hoeveel geld nodig is om die vaste en oorhoofse koste van die onderneming te dek en watter vertakkings hoeveel daarvan gaan bydra.

Vaste koste

Die vaste of oorhoofse koste is gewoonlik uitgawes wat aangegaan moet word of daar nou geproduseer word of nie. Voorbeelde van vaste koste, is salarisse, huur, lewenskoste, elektrisiteit en nog vele meer.

Uit ‘n onlangse studie, wil dit voorkom of die vaste koste per hektaar vir ‘n gemiddelde somersaaiboerdery tussen 30% en 50% van die totale koste kan wissel. Hierdie koste moet by die veranderlike koste per hektaar getel word om die totale produksiekoste te bereken.

Veranderlike koste

Die veranderlike koste is gewoonlik daardie koste wat maklik met die vertakking geassosieer word. In die gewasvertakkings sal veranderlike koste byvoorbeeld bestaan uit saad, kunsmis, onkruiddoder en diesel.
Die afgelope paar jare is heelwat nuwe veranderlike koste tot die vertakkings bygevoeg, soos byvoorbeeld verskansingskoste, bemarkingskoste en oesversekering, om net ‘n paar te noem.

Hierdie koste verander soos daar meer of minder van die inset gebruik word. Uit die meegaande tabelle is dit duidelik dat bemesting die grootste komponent van die veranderlike koste uitmaak.

Produksiekoste vir die 2012/2013-produksieseisoen

In Tabelle 1 tot 3 word die totale koste van graanverbouing vir die westelike, oostelike en sentrale produksie-areas aangedui.

image

image

image

Verskillende aannames word met die opstel van begrotings gemaak. In die geval van kunsmis, is ‘n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste (Juliemaand) vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) bereken en in die begrotings geïnkorporeer.

Met die berekening van byvoorbeeld die brandstofkoste is drie verskillende dieselpryse beraam. Eerstens ‘n prys vir bewerking tot plant, tweedens ‘n prys vir plant tot voor stroop en derdens ‘n prys vir stroop en wegry. Die vooruitskattings is met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en toekomstige ruoliepryse vasgestel.

Westelike streek
In Tabel 1 word die produksiekoste van GM-vrye mielies, GM-mielie (stapelgeen) en sonneblom in die westelike streek vir die komende seisoen getoon.

Produksiekoste van droëland GM-vrye mielies en GM-mielie (stapelgeen)
In die eerste en tweede kolom van Tabel 1 word die begrote produksiekoste van GM-vrye en GM-witmielie (stapelgeen) vir die 2012/2013-produksieseisoen uiteengesit.

Die totale veranderlike koste vir ‘n 3,5 ton/ha opbrengs beloop R4 632/ha vir GM-vrye mielies en R5 069/ha vir ‘n GM-mielie (stapelgeen)-kultivar. ‘n Berekende vaste koste van R2 039/ha en R1 882/ha word onderskeidelik bygetel om ‘n totale produksiekoste van R6 671/ha en R6 951/ha daar te stel.

‘n Julie 2013 Safex-mielieprys van R2 200/ton is gebruik, wat min of meer R1 996/ton in die produsent se sak kan beteken ná inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie.

In die tabel word die produksiekoste van ‘n 3,5 ton/ha en 4,5 ton/ha opbrengsmikpunt ten toon gestel. Indien hierdie prys teen die begrote insetkoste realiseer, moet die produsent vir albei, die GM-vrye mielies en GM-mielie (stapelgeen), ‘n minimum van ongeveer 3,5 ton/ha
stroop om gelyk te breek.

Let daarop dat Graan SA se begrotingsmodel volledig is en grotendeels alle koste wat deur produsente aangegaan kan word, in ag neem. Indien ’n opbrengs van 3 ton/ha behaal word, sal ’n Safex-prys van
R2 330/ton vir GM-vrye mielies en ‘n prys van R2 414/ton vir GM-mielie (stapelgeen) nodig wees om gelyk te breek.

Produsente word aangeraai om hulle sommetjies vir mielieverbouing deeglik te doen aangesien die heersende swak ondergrondse vogtoestande beperkings op opbrengste kan hê.

Produksiekoste vir sonneblom
Die derde kolom van Tabel 1 bevat die insetkoste vir die verbouing van sonneblom. Sonneblompryse vir
Mei 2013 word tans goed ondersteun deur internasionale en plaaslike markfaktore. ‘n Mei 2013 Safexsonneblomprys van R4 670/ton is gebruik, wat ‘n prys van ongeveer R4 421/ton in die produsent se sak beteken ná inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie.

Gegewe die begrote insetkoste, kan ‘n minimum van 1 ton/ha sonneblom in die westelike streek gestroop word om gelyk te breek, mits die begrote insetkoste verwesenlik. Volgens die begrotings en berekeninge lyk dit of sonneblom relatief winsgewend in die weste verbou kan word, maar ons weet dat produsente ligvoets is vir Sclerotinia.

Oostelike streek
In Tabel 2 word die produksiekoste van GM-vrye mielies, GM-mielies (stapelgeen) en sojabone in die oostelike streek vir die komende seisoen geïllustreer.

Produksiekoste van droëland GM-vrye mielies en GM-mielie (stapelgeen)
In die eerste en tweede kolom van Tabel 2 word die begrote produksiekoste van GM-vrye en GM-mielies (stapelgeen) vir die 2012/2013-produksieseisoen vir die oostelike streke uiteengesit.

Dieselfde as vir mielieverbouing in die westelike streek, is ‘n Julie 2013 Safex-graanprys van R2 200/ton gebruik.

In die tabel word die produksiekoste van 4 ton/ha en 6 ton/ha ten toon gestel. Volgens berekeninge wil dit voorkom of ‘n minimum van 4,5 ton/ha vir die GM-vrye mielies gestroop moet word om gelyk te breek en indien die GM-mielie (stapelgeen) aangeplant word en die pryse teen die begrote insetkoste bewaarheid word, moet ‘n produsent 5 ton/ha stroop om gelyk te breek met sy koste. Produsente in die oostelike streek word ook aangemoedig om deeglike berekeninge te maak aangesien die huidige swak ondergrondse vogtoestande opbrengste kan belemmer.

Produksiekoste vir sojabone
Die derde kolom van Tabel 2 illustreer die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente
teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is.

Dit is welbekend dat sojabone sonder stikstof aangeplant kan word, alhoewel dié begrotings ‘n koste vir N, P sowel as K insluit. ‘n Mei 2013 Safex-sojaboonprys van R4 480/ton is gebruik en aangesien sojabone geen vervoerdifferensiaalkoste het nie, kan ‘n moontlike prys van R4 421/ton in die produsent se sak realiseer.

Hanteringskoste en bemarkingskommissie is wel koste wat in berekening gebring moet word en van die Safex-prys verhaal moet word. Volgens Tabel 2, moet ‘n opbrengs van tussen 1,5 ton/ha en 2 ton/ha behaal word om gelyk te breek met sojaboon-insetkoste in die oostelike streek.

Die produksiekoste vir die sentrale streek kan in Tabel 3 besigtig word.

Produsente word aangeraai om hul risiko te versprei en meer as een gewas aan te plant, sodat daar nie net op een gewas staatgemaak hoef te word nie. Met die daarstel van die boonste gewasbegrotings kan effektiewe en tydige kontroles vir pro-aktiewe besluitneming uitgeoefen word.

Produsente en ander rolspelers kan die basiese produksiekoste op die Graan SA webwerf besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is. Stuur ‘n e-pos aan petru@grainsa.co.za tesame met jou Graan SA-lidnommer om die model te ontvang.

Publication: August 2012

Section: Wenartikels

Search