• Login
  • Search Icon

Sojaboonverbouing as wisselgewas in die Noordwes Provinsie

September 2012

image

CORNÉ VAN DER WESTHUIZEN, LANDBOUKUNDIGE, PANNAR SAAD

Roundup Ready sojabone is die ideale wisselbougewas vir mielies. Sojabone bied groot opbrengsverhogende voordele vir die opvolgende gewas asook die gerief van Roundup Ready bestuur.

Grond

Sojabone kan op enige grond wat vir mielieproduksie geskik is, verbou word. Dit vaar egter swakker op sanderige grond wat laag in organiese materiaal is en beter op swaarder grond.

Gronde wat maklik toeslaan moet vermy word – die hipokotiel van die sojaboonsaailinge breek maklik onder druk.

Reënval en temperatuur

Sojabone kan verbou word by reënval van 600 mm en hoër, maar dit kan egter nie in droëgrond geplant word nie. Sojaboonsaad moet minstens 50% van sy eie saadmassa in vog opneem voordat dit sal ontkiem, vergeleke met die 30% van mielies.

Die gewas kan droogte vroeg in die seisoen goed hanteer, maar is egter baie gevoelig vir droogte vanaf die blomstadium.

Vogbehoefte is op sy hoogste tydens graanvulling. Aangesien sojabone oor ‘n langer periode blom, is dit minder gevoelig vir vogtekorte gedurende hierdie stadium as mielies. Dit is veral waar vir die tipes met ‘n onbepaalde groeiwyse.

Indien min vog beskikbaar is, word opbrengste nadelig beïnvloed as temperature bó 30°C styg. Temperature laer as 13°C vir lang periodes tydens die blomstadium, benadeel weer blom- en saadvorming.

Kultivars verskil wat dagligsensitiwiteit betref, wat beteken dat ‘n spesifieke kultivar gewoonlik slegs vir ‘n sekere gebied aangepas is.

Grondvoorbereiding

Grondvoorbereiding is daarop gemik om ‘n fyn, ferm, egalige, opkruidvrye saadbed te bewerkstellig, waar ontkieming vinnig en maklik kan plaasvind. Plantdiepte wissel van 1 cm - 5 cm vir klei of sanderige gronde. Plantestand is die belangrikste bestuursaspek waaroor die produsent beheer het. Die ideale stand wissel tussen 320 000 - 370 000 plante per hektaar, afhangend van die rywydte.

Sojabone moet dig geplant word ten einde ‘n goeie plantestand (Tabel 1) vir optimale peulhoogte en opbrengs te kry. ‘n Hoër plantestand en nouer tussenry-spasiërings kan peulhoogte verhoog.

Grondtemperatuur moet bo 16°C wees vir effektiewe en doeltreffende ontkieming en dit bereik gewoonlik vanaf 15 Oktober tot 25 November die ideale ontkiemingstemperature.

Sojabone behoort binne vyf tot sewe dae ná planttyd deur die grondoppervlakte te breek. Stadige ontkieming lei tot swak saailinge en gevolglike oesverlies. Dagliglengte beïnvloed die oorgang vanaf vegetatiewe ontwikkeling na die reproduktiewe fase.

By kultivars met ‘n bepaalde groeiwyse staak die vegetatiewe ontwikkeling sodra die blomstadium ‘n aanvang neem. Anders as by mielies, word die stroopdatum nie dramaties beïnvloed deur die plantdatum nie. Kultivarkeuse en groeiklas speel hier ‘n belangrike rol.

image

Kultivarkeuse

Aspekte van belang by kultivarkeuse is:

  • Groeiklas
  • Groeiwyse – bepaald of onbepaald
  • Staanvermoë
  • Oopspring
  • Groenstamme
  • Groenpeule

Dit word algemeen aanvaar dat kultivars met ‘n langer groeiseisoen beter aangepas is vir areas met ‘n warmer klimaat, terwyl medium groeiseisoen-kultivars beter in gebiede met ‘n gematigde klimaat aangepas is.

Die stroopdatum moet in ag geneem word as groot aanplantings beplan word en deur verskillende kultivars te gebruik, word die stroopdatum verleng. Plantdatum is ook belangrik aangesien kultivars op dagliglengte reageer. As die plantdatum laat is, soos in baie gevalle waar sojabone ná koring geplant word, moet daar van ‘n kort groeiklas-kultivar gebruik gemaak word.

Staanvermoë en stroopbaarheid word grootliks bepaal deur ‘n kultivar se peul- en planthoogte. Langseisoen-kultivars het gewoonlik ‘n hoër peul- en planthoogte as kortseisoen-kultivars onder soortgelyke groeitoestande.

Kultivars met ‘n bepaalde groeiwyse word gewoonlik onder besproeiing en onbepaalde kultivars onder droëland aanbeveel.

Stikstof

Sojabone beskik oor die vermoë om stikstof met die hulp van Rhizobium bakterieë te bind. Indien sojabone suksesvol geënt is, sal die Rhizobium in die plant se stikstofbehoeftes voorsien.

Rhizobium bakterieë kom nie natuurlik in Suid-Afrikaanse gronde voor nie en die saad moet dus met ‘n vars, lewenskragtige entstof behandel word.

Aspekte van belang wanneer saad behandel word:

  • Entstof is lewendig en moet met sorg hanteer word; en
  • Direkte sonlig, hoë temperature en chemiese middels kan bakterieë vernietig.

Bemesting

Sojabone reageer goed op algehele grondvrugbaarheid. Die gewas beskik oor ‘n baie sterk wortelstelsel en kan voedingstowwe effektief benut. Dit reageer nie so goed soos mielies op bandgeplaaste kunsmis nie, maar
eerder op grondreserwes wat oor die langtermyn deur middel van die bemesting van vorige gewasse, opgebou is.

Werk bemesting in tydens grondvoorbereiding eerder as om dit te bandplaas. Maak seker dat fosfaat- en kaliumvlakke voldoende is en bemes met voldoende fosfaat en kalium indien grondontledings dit aandui.

Die voedingsbehoefte van sojabone per ton graanopbrengs is aansienlik hoër as dié van mielies.

Bekalking

Waar die grond se pH (KCL ) laer as 4,5 - 5 is, word bekalking aanbeveel. Boor-, sink- en ystertekorte kan ondervind word by ‘n grond pH van 6 en hoër. Molibdeentekorte kan voorkom by ‘n pH van 5 en laer. Molibdeen(Mo) speel ‘n belangrike rol in die stikstofbindingsproses. Tekorte kan nie met blaarbespuitings aangevul word nie; dit moet tydens die plantproses aangespreek word en kan dán met ‘n blaarbespuiting aangevul word.

Onkruidbeheer

Alle sojabone is gevoelig vir Atrasien-tipe onkruiddoders. Indien gronde enige residuele atrasien bevat kan atrasien as gevolg van bekalking vrygestel word vanaf die kleideeltjies.

Beheer van onkruide is kritiek in die verbouing van sojabone. In die vroeë ontwikkelingstadium word die jong saailinge beroof van lig, vog en voedingstowwe.

Onkruide kan meganies of chemies beheer word. Indien onkruide meganies beheer word, is dit belangrik om geen walletjies of voortjies te vorm wat die stroopproses kan belemmer nie. Indien chemiese beheer met behulp van ‘n Roundup-onkruiddoder plaasvind, kan dit vanaf grondkraak tot net voor blom toegedien word.

Begin met ‘n skoon saadbed en doen dan die eerste bespuiting slegs ná die eerste saamgestelde blaar sigbaar is. Waar opvolg - bespuitings gedoen word om spesifieke onkruid te beheer, moet die tweede toediening nie binne tien dae ná die eerste toediening volg nie.

Met die regte plantspasiëring kan ‘n goeie skadu-effek binne vyf tot ses weke ná plant verkry word. Onkruidprobleme na afloop van hierdie periode is dus onwaarskynlik mits ‘n goeie plantestand gehandhaaf word.

Insekte

Grondinsekte, soos snywurms en draadwurms kan moontlik die plantestand beïnvloed en dit is belangrik dat hierdie plae in die vorm van bespuitings op die ry, met of kort ná planttyd beheer word. Bolwurms beskadig die blare en peule en bespuitings met kontakdoders wanneer die plae voorkom, gee goeie beheer.

Siektes

Sojaboonroes is ‘n swamsiekte wat hoofsaaklik deur wind versprei word. Swamdoders van die Triazole-groep is baie effektief vir die beheer van sojaboonroes. Sojaboonroes is hoofsaaklik ‘n siekte wat in KwaZulu-Natal voorkom en is nog nie in die Noordwes-streek waargeneem nie.

Sclerotinia stamvrot is ‘n swamsiekte en word gekenmerk deur die skielike doodgaan van plante later in die seisoen. Growwe, wit swamgroei kan aan die wortel in laer stamgedeeltes waargeneem word. Wisselbou met nie-gasheerplante, soos mielies en sorghum, kan help om die siektedruk te verminder.

Oesinsameling

Oesinsameling moet begin sodra die meeste blare afgeval het, maar terwyl stamme nog buigbaar is. Op hierdie stadium sal net enkele peule oopbars en die pitte sal nie so droog wees dat hulle breek nie.

Graan se vogpersentasie is dan gewoonlik 14%. Stroop so na as moontlik aan die grond oppervlak om te verhoed dat te veel peule in die stoppels agterbly.

‘n Stroper wat toegerus is met ‘n koringtafel word gebruik om sojabone te stroop op ‘n hoogte van ongeveer 12 cm. Die rypwordingsproses is betreklik kort en beskikbaarheid van voldoende stroopkapasiteit is dus noodsaaklik.

Sojabone word slegs in een graad gegradeer. Vreemde sade, oesreste en beskadigde sade kan gradering negatief beïnvloed.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search