• Login
  • Search Icon

Sojaboonproduksie in die weste

August 2018

DR DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

Sojaboonproduksie in Suid-Afrika is die afgelope paar seisoene ‘n uiters gewilde onderwerp. Weens die druk op mieliepryse het al hoe meer produsente opsies soos oorlêstelsels of wisselboupraktyke begin oorweeg. Sojabone is natuurlik ‘n besonder gewilde opsie vir ‘n wisselboustelsel omdat dit hulp verleen in die vrystelling van stikstof en dit mielieproduksie só bevorder. 

Dit is interessant dat wisselbou- en bewaringslandboupraktyke aan die orde van die dag is in lande wat nie by subsidies baat nie. 

Met die uitbreiding van die perskapasiteit in Suid-Afrika het sojaboonproduksie sodoende ook dramaties uitgebrei: Tans verwag die Oesskattingskomitee die grootste oes (1,4 miljoen ton) nóg. Uit die 1,4 miljoen ton word daar verwag dat die Noordwes Provinsie 55 800 ton gaan produseer en die Vrystaat 517 500 ton. Die 573 300 ton is meer as wat die hele land in 2010 geproduseer het. 

Met nuwe bykomende kultivars en nuwe kundigheid is daar oor die afgelope paar jare ‘n drastiese groei in die produksie van sojabone in die westelike deel van die land. Vir vele produsente is die produksie van sojabone nog amper soos die Wilde Weste-flieks, want jy weet nooit hoe dit gaan eindig nie. Sommige produsente in die weste noem dit selfs die “kansboontjie”: Een jaar het jy ‘n kans om ‘n goeie inkomste in te win en die volgende jaar weer om alles te verloor. 

Nietemin is daar ‘n groei in produksie en is daar ook verskeie produsente wat dit regkry om sojabone winsgewend in die weste te produseer – en die aanplantingsyfers weerspieël dit. 

Dit maak spesifiek in die Noordwes Provinsie sin om sojabone aan te plant – nie net weens wisselbouvoordele nie, maar ook vanuit ‘n finansiële oogpunt. As daar bloot net gekyk word na spotpryse en opbrengste gerealiseer, is mielies en sojabone nie té verskillend in terme van winsgewendheid nie (Grafiek 1 en Grafiek 2). Uit Grafiek 2 is dit duidelik dat sojabone wel meer winsgewend is as pryse teen oestyd in ag geneem word. Dit was selfs die afgelope paar jaar ‘n reddingsboei wanneer die winsgewendheid van mielies nie so goed was nie. In goeie jare as mielies nader aan uitvoerpariteit beweeg, is die winsgewendheid van sojabone wel onder druk.

Die waarde kom in as albei se winsgewendheid teen uitvoerpariteitpryse gemeet word. As ‘n gemiddelde oes realiseer, kan sojabone teen uitvoerpariteit nog winsgewend wees. Neem in ag dat werklike historiese opbrengste in ag geneem is.

‘n Goeie aanduiding in terme van winsgewendheid en produksiebesluitneming is ook om die prysverhouding tussen sojabone en mielies te ontleed. Die duimreël is dat die sojaboonprys twee keer dié van die mielieprys moet wees: Dus ‘n prysverhouding van twee en groter. Sedert 2010 was die prysverhouding 60% van die tyd bo twee (Grafiek 4).

Die wisselvalligheid in opbrengs bly ‘n uitdaging in die westelike produksie-area, soos gesien in Grafiek 5 en dit ontmoedig produsente soms om sojabone te plant. Die oostelike produksie-areas, soos byvoorbeeld Mpumalanga, het ‘n meer stabiele produksiepatroon. Natuurlik glo Graan SA ook dat as die teling-­en-tegnologieheffing inskop, nuwe saadtegnologie na die mark gaan vloei – wat moontlik meer stabiliteit in terme van produksie – en selfs ‘n verhoging in opbrengs – kan meebring. Sommige van die multinasionale maatskappye het reeds met proewe begin.

Die inligting bewys weer eens dat sojabone winsgewend in die weste van die land verbou kan word – sonder om die voordele van wisselboupraktyke in ag te neem. Die afgelope twee seisoene was daar groot oordragvoorrade vir beide mielies en sojabone en die verwagting is dat dit in die toekoms die norm sal bly omdat daar meer van ‘n nat fase in terme van weerpatrone in vooruitsig gestel word. 

As die twee gewasse teen uitvoerpariteitpryse vergelyk word en ‘n gemiddelde oes realiseer, wat gewoonlik die geval teen uitvoerpariteit is, kan sojabone nog steeds winsgewend verbou word. Die uitvoer van sojabone kan in die toekoms ook makliker plaasvind omdat meer markte sojabone as witmielies invoer. 

Asië se markte (meer spesifiek China) se verbruik van sojabone styg drasties. Met die handeldispute tussen China en Amerika kan dit, wat uitvoere betref, Suid-Afrika in ‘n gunstige posisie plaas.

Publication: August 2018

Section: Mini-Focus on Soybeans

Search