• Login
  • Search Icon

Sojabone op die wenpad

April 2012

ANNELIE DE BEER, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

image

Volgens die Oesskattingskomitee het produsente die afgelope plantseisoen 15% meer sojabone as verlede jaar geplant, dit ten spyte van ‘n droë voorsomer. In sy voorlopige skatting beraam die komitee dat 480 000 ha sojabone geplant is – wat die meeste sojaboonhektare in die geskiedenis is.

Die plaaslike sojaboonproduksie het oor die afgelope aantal jare dramaties toegeneem en is ook gekenmerk deur nuwe toetreders tot die mark. Daar is in die 2010/2011-produksieseisoen 77,8% (708 750 ton) meer sojabone geproduseer as die gemiddeld (398 600 ton) vir die vorige vyf jaar.

Mpumalanga produseer ongeveer 42% van die totale sojaboonproduksie gevolg deur die Vrystaat (32%), terwyl die ander provinsies aansienlik minder produseer. Die mikpunt van die Proteïennavorsingstigting (PNS) is om teen 2020, 1 miljoen ha sojabone plaaslik te produseer teen gemiddeld 2,2 ton/ha tot 2,5 ton/ha.

As daar egter gekyk word na die gemiddelde produksie van 1,70 ton/ha die afgelope oesseisoen, is dit duidelik dat, in ag genome die 2020-mikpunt, daar baie ruimte vir verbetering is. Alhoewel die lae gemiddelde produksie ook te wyte is aan onervare eerste toetreders tot die bedryf, is heelwat navorsing nodig wat die verhoging in produksie kan bevorder.

Wisselbou

Sojabone word toenemend deur produsente in bewaringspraktyke, soos geenbewerking en wisselbou met veral mielies, geplant. Navorsing wat gedoen is deur dr André Nel, LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG), dui op die voordeel van wisselbou met mielies, grondbone en sojabone, teenoor monokultuurmielies op sandgronde by Viljoenskroon.

Volgens Nel kan die opbrengsverhoging van mielies ná ‘n peulgewas, nie net toegeskryf word aan die stikstofbinding nie, maar ook aan verhoogde mikrobiese aktiwiteit, verminderde wortelsiektes en plae wat die omvang en doeltreffendheid van die wortelstelsel verbeter.

‘n Peulgewas se waardetoevoeging in ‘n wisselboustelsel kan uitgedruk word as die stikstofverplasingswaarde, wat aan die hand van Grafiek 1 verduidelik word.

image

Die optimumbemestingspeil vir mielies in onderskeidelik ‘n wisselboustelsel (punt A) teenoor ‘n monokultuurstelsel (punt B) is bepaal. Die opbrengs van die mielies in wisselbou was 6,16 ton/ha teenoor die 5,61 ton/ha vir monokultuurmielies by ooreenstemmende optimum stikstofpeile van onderskeidelik 50 kg/ha en 85 kg/ha.

Die opbrengs van die wisselboumielies was 0,55 ton/ha hoër, terwyl die optimum stikstofpeil 35 kg/ha laer as dié van die monokultuurmielies was. Die stikstofvoordeel beloop, teen die huidige kunsmispryse, ongeveer R490 ton/ha (R14/kg vir stikstof x 35 kg/ha).

Dit sluit egter nie die waarde van die opbrengs verskil van 0,55 ton/ha mielies in nie.

Kultivarkeuse

Roundup Ready sojabone word veral gebruik in minimumbewerkingstelsels waar dit met groot vrug in wisselboustelsels ingesluit word. By die aanplant van groot oppervlaktes sojabone, moet meer as een kultivar gekies word om voorsiening te maak vir strooptyd, omdat sojabone geneig is tot oopspring en dus groot skade tot gevolg kan hê. In hierdie geval sal daar veral na korter en langer groeiers asook plantdatums gekyk word.

Ander faktore wat ook ‘n invloed op kultivarkeuse uitoefen, is Sclerotinia, sandgronde met aalwurmprobleme asook die gebied waarin jou plaas geleë is. In gebiede waar Sclerotinia ‘n risiko is, moet daar verkieslik korter groeiseisoen-kultivars, met ‘n nie-bosagtige groeiwyse, in wyer rye aangeplant word. Dit sal verhoed dat gunstige omstandighede tot stand kom vir die ontwikkeling van Sclerotinia.

In sandgronde waar knopwortelaalwurm ‘n probleem is, moet kultivars wat aalwurmverdraagsaam is, oorweeg word. Tans is daar net een kultivar, naamlik Egret, kommersieel beskikbaar. Die LNR-IGG het sewe belowende aalwurmverdraagsame lyne ontwikkel, waarvan ten minste twee, hopelik binne die volgende twee tot drie jaar kommersieel beskikbaar sal wees.

Sojabone is daglengtegevoelig en die omgewingstoestande speel ‘n baie belangrike rol. Ander faktore, soos groeiwyse, peulhoogte, oopspring asook die olie- en proteïenpersentasie van die verskillende kultivars, is belangrik by die keuse van ‘n geskikte kultivar vir jou omstandighede.

Wanneer ‘n pakket van verskillende kultivars vir jou omstandighede saamgestel word, moet daar nie net na saadproduksie gekyk word nie. Dit is egter belangrik om na al die bogenoemde faktore asook na die oessekerheid van ‘n kultivar, te kyk wanneer kultivarkeuses gemaak word. Die oessekerheid van ‘n kultivar is ‘n opbrengsgrens by ‘n bepaalde opbrengspotensiaal wat die kultivar in nege uit die tien gevalle behoort te oortref. Oessekerheid neem die kultivar se opbrengsstabiliteit en omgewingsinteraksies in berekening.

Die voortdurende en deeglike evaluering van kultivars is uiters belangrik, daarom doen die LNR-IGG, in samewerking met en met finansiële ondersteuning van die Proteïennavorsingstigting (PNS), elke jaar Nasionale Kultivarproewe in die belangrikste produksiegebiede, maar ook in gebiede met uitbreidingspotensiaal.

Hierdie seisoen is daar 27 Nasionale Kultivarproewe op 24 lokaliteite (droëland en besproeiing) regoor die land aangeplant. Daar is 23 kultivars van vyf organisasies in die proewe ingesluit. Produsente word uitgenooi om die LNR-IGG in Potchefstroom te kontak om uit te vind watter proef die naaste aan jou geleë is. Gaan besoek gerus hierdie proewe en vergewis jouself van hoe die verskillende kultivars in jou omgewing presteer.

Die nuutste inligting ten opsigte van kultivareienskappe en opbrengste in die verskillende produksiegebiede, kan verkry word vanaf die LNR-IGG. Skakel me Annelie de Beer by (018) 299-6355.

Publication: April 2012

Section: Input Overview

Search