• Login
  • Search Icon

Só verbeter jy GRONDVRUGBAARHEIDS­BESTUUR

July 2018

ADRI THERON, SA Graan/Grain redaksiespan

Boerdery in Suid-Afrika is onder geweldige druk. Behalwe vir politieke en klimaatdruk is dit ook vasgevang in ‘n kosteknyptang. In hierdie opsig is dit opvallend hoe hoog stikstofkoste in alle provinsies in Suid-Afrika is vergeleke met dié van die res van die wêreld. 

“Oorbemesting is ‘n realiteit. Dit kos die produsent nie net geld nie, maar verlaag ook die gesondheid van sy grond en maak die grond as’t ware verslaaf aan kunsmis. Graanprodusente in Suid-Afrika het bogemiddelde insetkoste – en veral kunsmiskostes is geweldig hoog gemeet teen internasionale syfers en moet aangespreek word,” so het mnr GP Schoeman, uitvoerende hoof van Agrisol, tydens die Bewaringslandboukonferensie van 13 en 14 Maart vanjaar op Ottosdal, sy aanbieding ingelui.

Daar is ‘n paar beginsels wat vir Agrisol by grondvrugbaarheidsbestuur belangrik is:

  • Verhoudings tussen elemente; dat daar sinergisme en antagonisme is; en die feit dat een element ‘n invloed op ‘n ander element het. As daar te veel van een voedingstof is, moet ‘n ander een plek maak.
  • Kalsium en magnesium en die verhouding tussen die twee voedingstowwe is uiters belangrik. Die elemente is belangrike voedingstowwe en het ‘n groot invloed op die pH van die grond. pH is belangrik, maar grond waarvan die pH reg is, kan steeds uitdagings hê soos swak infiltrasie, kompaksie, droogtegevoeligheid en versuiping – om maar ‘n paar te noem. Voedingstowwe is meer beskikbaar by ‘n spesifieke pH, maar dit is nie al waaroor dit gaan nie. pH is die gevolg van die regte katioonbalans in die grond. Dit gaan oor voeding, maar ook nie net oor voeding nie. Katioonbalans het ‘n groot invloed op die struktuur van die grond en struktuur het ‘n beduidende invloed op ander aspekte soos dreinering, versouting, gaswisseling, grondlewe en bewerkingskoste. (Sien voorbeelde van goeie en swak gestruktureerde grond in Figuur 1.)
  • Grondgesondheid. Grondlewe is belangrik en is nog altyd onderskat. Dit verminder risiko, bring rande in produsente se sakke en maak boerdery volhoubaar.

Vertrekpunt
“Eerstens moet die variasie in ‘n land sover moontlik uitgeskakel word. Ons doen dit deur elke twee tot vier jaar ruitontledings te neem en variërende regstellings aan te beveel. Agrisol het oor tyd algoritmes ontwikkel wat die belangrike verhoudings op die spesifieke plek op die land in ag neem en ons in staat stel om aanbevelings op grond van die spesifieke eienskappe van die grond te maak,” het hy gesê.

Tweedens word daar voor elke nuwe aanplanting grondgesondheidsontledings gedoen. Op grond van hierdie inligting word ‘n bemestingsplan vir die jaar opgestel wat grondgesondheid, beskikbare anorganiese sowel as organiese voedingstowwe en ook die gewas en opbrengsdoelwit in ag neem. Slegs voedingstowwe waarvan die vlakke te laag is, word dan aangevul. 

Die resultate van die produsent se bewaringslandboupraktyke word op dié manier gemeet en die produsent kan die voordeel daarvan benut. Oor die algemeen is die kunsmiskoste dan heelwat laer as wat normaalweg die geval sou wees. Gewoonlik is daar ook die daaropvolgende jaar meer voedingstowwe beskikbaar as wat verwag word, omdat die grondgesondheid herstel en grondmikrobes ‘n groter rol begin speel – dit help indien voedingstowwe in balans is. Sodoende verlaag die insetkoste verder.

Derdens word die lande dan deur die seisoen deur landboukundiges gemonitor deur gebruik te maak van ‘n selfoontoepassing. Die toepassing bied ‘n verskeidenheid kaarte, jou huidige posisie, kommunikasie tussen rolspelers en rekordhouding. 

“Ons het wel al lande teëgekom wat arm en geloog is en waar alles wat nodig is, toegedien moes word. Dan is daar gronde waar stikstof tot hoë vlakke opgebou is en min toegedien hoef te word – dit is hier waar die stikstofopbou eintlik negatief vir grondgesondheid is.”

Die ideaal is om meer organiese stikstof en fosfate beskikbaar te hê, wat die koste verminder omdat voedingstowwe “verniet” beskikbaar gestel en benut kan word. 

“Op ‘n land wat arm en geloog is, moet ‘n produsent 23 kg/ha stikstof toedien; en op ‘n land wat ‘n mate van anorganiese stikstof het en ‘n klein bietjie organiese stikstof, kan jy wegkom met 15 kg/ha. Dan is daar lande waar ‘n klomp anorganiese stikstof (kunsmis) lê, waar ‘n produsent nie veel hoef te bemes nie – en daar is lande wat min anorganiese stikstof het en wat min bemesting benodig, want in so ‘n geval is die grond lewendig en lewer die grondorganismes ‘n beduidende bydrae in die produksie van organiese stikstof,” verduidelik hy.

Schoeman het ‘n land van mnr Cobus van Coller (voormalige hoofbestuurslid van Graan SA – Viljoenskroon) voorgehou (sien Figuur 2), waarvan die standaard Mehlich 3-ontledings volgens hom op die oog af nie te sleg lyk nie, maar die pH redelik naby aan reg is; kalsium en magnesium effens laag en kalium uitermate hoog is. Die land het nie presteer nie.

“Op die grondgesondheidsontledings wat ons gedoen het, het dit gewys dat daar 270 kg anorganiese stikstof in daardie land se grond lê. Opvallend is ook dat daar 26 dpm fosfaat volgens die Mehlich 3-ontleding is, maar as ‘n mens die grondgesondheidsontleding bestudeer, is daar maar 6 kg/ha beskikbaar vir die plant om te benut. So, daar was regtig ‘n groot uitdaging op daardie land wat fosfaat betref en daar was geweldig baie stikstof beskikbaar.

“Wat ons gedoen het, is om heelwat minder stikstof as normaalweg toe te dien en daarop te fokus om fosfate meer beskikbaar te maak. Met die hoë kalium (daar is 1 259 kg/ha beskikbaar) was dit nie nodig om kalium toe te dien nie. Dit is rande wat daar vir die produsent lê en wag om benut te word.” 

Daar is besluit om bitter min stikstof, hoër fosfaat en geen kalium toe te dien nie – wat heelwat anders is as ‘n bemestingsplan wat gegrond is op onttrekkingsyfers.

Hoe word gewasbemesting benader?
Volgens Schoeman “meet” Agrisol die anorganiese voedingstowwe, tel die organiese gedeelte by en doen dan die aanbeveling per gewas, per land en volgens die opbrengsdoelwit. Om al hierdie dienste te lewer, het dit onder hul aandag gekom van hoe belangrik data en die verwerking daarvan is. Daarom het hulle ‘n uitstekende IT-departement, waar sagteware ontwikkel word om hiervoor aan te wend.

Hul interne sagtewarespan en landboukundiges het ‘n webstelsel ontwikkel, waartoe elke produsent en sy medewerkers toegang het – as die produsent aan hulle toegang wil gee. Hulle het heelwat geïnvesteer om dit so eenvoudig moontlik aan die produsent weer te gee en die proses eenvoudig en verstaanbaar te maak. 

Omdat dit ook ‘n uiters belangrike inset is, het hulle boonop ‘n kalkmodule ontwikkel, omrede die bedryf na hul mening redelike chaos beleef. Hoe hulle dit benader het, is om vas te stel hoeveel kalsium en hoeveel magnesium ‘n plaas benodig. Die ontleding en effektiwiteit van elke bron word dan in ag geneem om te bereken hoeveel van daardie spesifieke produk die nodige regstellings kan maak. Dan bereken hulle die afstand van die plaashek na al die kalkbronne (al die kalkmaatskappye is daarop) en verskaf dan binne ‘n dag of so ‘n lys aan die produsent van die goedkoopste tot die duurste manier waarop hy die regstellings kan maak – die effektiwiteit van die kalk in ag genome. 

“Dan het ons ook ‘n toepassing (app) ontwikkel (iOS en Android) wat ons glo in die toekoms ‘n groot bydrae tot navorsing kan lewer – in dié sin dat ‘n mens meer waarde uit die data kan ontsluit – en dat almal wat op ‘n plaas aankom van dieselfde stel data af kan werk. Inligting kan dan selfs in studiegroepe, sowel as ander forums, gedeel word,” aldus Schoeman.

Watter metode word aanbeveel?
“Ons glo dat die tafel gelyk gemaak moet word, so ons doen min of meer elke derde jaar presisie-ontledings op grond waarvan ons die balans na ongeveer drie oeste regstel of gelyk maak.”

Grondgesondheid word jaarliks na elke gewas gemeet. Wat hulle in KwaZulu-Natal doen, is om 2 ha-ruitmonsters te trek en ‘n gekombineerde grondontleding daarvan te maak, die grondgesondheid te ontleed sodat ‘n mens oor tyd die tendense daarvan kan sien en, ook te bepaal watter organiese en anorganiese elemente beskikbaar is en wat nog benodig word – en dan elke land daarvolgens te bemes. 

“Ons het al geweldige besnoeiings in kunsmis gedoen en steeds groot suksesse behaal. As voorbeeld het mnr Chris Bothma-hulle van die Viljoenskroon-distrik teen die Vaalrivier, wat ook redelik voor is met bewaringslandbou en geweldig daarin belangstel, verlede jaar met 42 kg/ha stikstof geplant waar hy gewoonlik 90 kg/ha toegedien het. Daar was reeds heelwat anorganiese en ‘n klompie organiese stikstof in die grond beskikbaar. Die doelwit was 4,8 t/ha en hulle het op die ou einde 6 t/ha afgehaal. Hulle chemiese verbruik was die laagste van almal by die maatskappy waar hulle hul chemikalieë gewoonlik koop. Hulle het daarom geweldige lae koste daarmee gerealiseer en lae onkruiddruk beleef – chemiese en voedingstofwanbalanse kan ‘n groot invloed op onkruiddruk ook hê. Boonop het al hul lande vir die eerste keer dieselfde opbrengs gelewer – met klein variasie binne die lande.”

Ander dienste wat hulle beoog om binnekort te lewer, is om meer detail presisiekaarte te begin trek, waar hul met elektro-magnetisme die lande skandeer (EM-fisiese opnames), detail fisiese eienskappe-ontleding en om oppervlakdreinering en diep, ondergrondse dreinering te meet. 

Rig enige navrae aan GP Schoeman by 018 297 8516, 076 775 0359 of gp.schoeman@agrisol.co.za.

Publication: July 2018

Section: Focus on

Search