• Login
  • Search Icon

Skildag

March 2014

image

Beste Grootneef

Kyk, dese dae kry jy nasionale dae vir elke ding denkbaar. Dis Nasionale Braai dag, Nasionale Staakdag (dit is elke dag), Moedersdag, Vadersdag en die dag van die groot verdrukking (dis nou elke man se troudag).

Ou Neef, anderdag in die "ma-pick-en-papay" se winkel, sien ek perskes te koop – sulke lekker taaipitgeles. Die goed lê los en dan moet jy dit laat weeg vir 'n prys – die skaal trek die goed toe op R16,99/kg. Net daar besluit ek basta met mielies, nou plant ek taaipitgeelperskebome by die hektaar...Ek meen, dit is R17 000 per ton!

Ou Neef, met die enkele perske geweeg en gekoop teen R16,99/kg, sit ek toe en terugdink aan ons eie Nasionale Skildag van toeka. Dié was gewoonlik jaarliks in Februarie. Maar dit was nie sommer vir skil nie – dit was 'n hele prosessie. Skildag was ook nie elke jaar op dieselfde dag nie, die dag het homself aangekondig wanneer die taaipitte begin geel-wang maak het.

Die dag van die groot skil is voorafgegaan met 'n toetslopie in die boord met 'n lekker skerp knipmes. Dan is daar hier gepluk en daar geproe, net om seker te maak die bome besluit saam dat die oes reg is. As die steekproef geslaagd was, met die geelheid en soetheid van die oes bevestig, is die Skildag van die jaar afgekondig.

Eers het die vroue gekom. 'n Streep van die statte se kant af met helder kopdoeke. Met die stoor skoon en die bokseil uitgerol, is die messe geslyp en die skottels uitgedeel. Jy kan maar sê die span was slaggereed. Die gekuier van jolige Sotho-stemme het ver in die oggendlug getrek.

Die manne het dan die boord met lere en kruiwaens genader en is boom vir boom vir die oes omsingel. Vele hande maak ligte takke en vol kruiwaens. Net die heel boonste perskes is vir die voëls gelos.

Die kruiwaens is volvrag stoor toe, waar die taaipitgeles eers in 'n drom water gedompel is. Vandaar na vrouehande met flinke vingers en skerp messe. Met die skil af, was dit een ferm snit rondom en is die pit uitgedop. En daar lê ta in twee volmaakte goudgeel helftes!

Die geskilde taaipit is daarna in 'n emmer soutwater gegooi, waarna dit op die droograkke uitgepak is.

Met die jaarlikse Skildag was daar genoeg vir almal. Wanneer die droograkke volgepak was, is die res van die oes vort na die skillers se huise – elk met 'n mudsak op die skouer. Kyk, op Skildag het tot die otte geweet dit is Krismis in Februarie – al die skille is by die varkhokke afgelewer.

Met die oes veilig op die droograkke, was dit oor na die son om die perskes droog te bak. 'n Geur van somer het getalm wanneer verby die sonstoep gestap is. 'n Goeie slot en grendel was nogal 'n goeie belegging...

Ná so drie weke het Ma gaan proe-toets om te kyk of die oes droog genoeg was. As die sondroogtoets geslaag het, is die perskes een vir een van die rak losgewikkel en in 'n linnesak toegewerk. Dié is dan in die spens opgehang met 'n geur wat steeds deur die linnesak geadem het.

Kom winter, was dit tyd om die droëperskes met 'n beesbredie of wildspastei voor te sit. Winterkos uit die Aga-stoof, wanneer die ysige suidewind oor die vlaktes gejaag het.

Die anderdag ry ek 'n agterpad verby die ou plaaswerf, nou in puin. Deur die draad kon ek sien dat enkele perskebome steeds moedig bo die kakiebos uitbeur. In die top van die een ou boom, kon ek wraggies 'n geelperske tussen die blare sien uitloer. Toe dag ek by myself – die bome onthou nog om ietsie vir die voëls te los.

Groete op die Oosgrens

Kleinneef

Publication: March 2014

Section: E-mails

Search