• Login
  • Search Icon

Sjoe, wat 'n rekord!

October 2016

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

23,92 t/ha...vermoedelik 'n nuwe Suid-Afrikaanse rekord! Ja, jy het reg gelees: 23,92 t/ha. Dít is hoeveel geelmielies mnr Erik Cloete van die plaas Sanctuary, Cradock, die afgelope seisoen onder vloedbesproeiing gestroop het.

Cloete het Cradock Saadverspreiders se 20 ton-mielieklubkompetisie gewen – wat vir hom R40 000 se prysgeld in die sak gebring het. SA Graan/Grain het met hom daaroor gesels.

"In Genesis 1:28 staan: 'Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.' Wat 'n groot opdrag – wat ons nie altyd verstaan nie.

"Indien ek terugkyk na my 23,92 t/ha mielie-opbrengs en ek bestudeer die Verenigde Nasies se mielie-opbrengs, vind ek dat hulle al by 33,39 t/ha gedraai het. Dit is 35% meer as ons – wat wys dat daar nog baie ruimte vir verbetering is.
"Ek dink die besluit wat ons produsente moet neem, is: 'Wil ek alles insit om elke jaar beter te presteer of is ek tevrede met 'n gemiddelde oes?' 'n Mens hoef nie noodwendig jou insetkostes dramaties te verhoog om te verbeter nie, maar slegs deur die regte boerderypraktyke te volg en jou grond te bewaar, maak alreeds 'n groot verskil – veral oor die lang termyn.

"Ek wil ook graag die mieliesaadmaatskappye gelukwens met hul nuwe basterkultivars – wat by baie toestande aangepas is en veral bydra tot hoër opbrengste. Ons maak gebruik van Cradock Saad se kundigheid om vir ons raad te gee en bemesting- en spuitprogramme uit te werk. Omdat hul personeel persoonlike diens op die plaas lewer, gee dit baie gemoedsrus," vertel Cloete.

20 ton-mielieklubkompetisie

Cradock Saad bied die kompetisie reeds die afgelope drie jaar aan.

"Hul reëls is dat jy meer as 10 ha moet plant en dat jy dan 1 ha moet aanwys om te stroop. Ek hou nie van kompetisies nie, maar dit het tog 'n strewe na beter oeste in my wakker gemaak. Die eerste jaar van die kompetisie het nie een deelnemer 20 ton gehaal nie en vanjaar was nie een van die top drie onder 20 ton nie," het Cloete gesê.

"Aan die res van ons land se produsente wil ek sê dat ons gedurende die droogte en politieke onstabiliteit aan almal dink. Ons weet dat die reën op die regte tyd gaan kom.

"Baie dankie aan die landbou leiers wat daarna streef om vir ons gunstige landboutoestande te skep en die politiek op 'n daaglikse basis namens ons hanteer. Die heel belangrikste is dat ons alles in afhanklikheid van die Here moet doen," het hy afgesluit.

Publication: October 2016

Section: Relevant

Search