• Login
  • Search Icon

Septembermaand in die grondboonland

September 2013

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Planttyd is voor die deur en die bedrywighede rondom die grondboonlande raak besig. Wisselboubeplanning is in volle swang. Met die vasstelling van watter lande wel vir grondboonproduksie gebruik gaan word, is dit nodig om grondmonsters te raadpleeg om sodoende die voedingstatus van die lande vas te stel.

Beplanning is die sleutelwoord tot sukses, daarom is dit nodig dat voorafgaande herstelwerk aan planters en implemente vinnig afgehandel moet word. Daar is niks so ongemaklik soos ‘n stukkende planter terwyl die grond wag om beplant te word nie.

Begin vroegtydig met die aankope van gifstowwe en gips wat benodig word om ‘n goeie oes te verseker. Doen navorsing oor saadbehandelings om te verseker dat die beste produk gebruik gaan word. Dit is belangrik dat die nodige kennis vir die toediening van saadbehandelings ook weer opgeknap word.

Om goeie stand te bewerkstellig, is die beginpunt goeie kwaliteit saad. Maak seker dat saad wat aangekoop word, SANSOR-geregistreerde saad is. Daar moet ook gewaak word teen die praktyk om teruggehoude saad te plant, aangesien daar geen kiemingsuitslae vir dié tipe saad is nie. Dit sal ‘n groot risiko wees, aangesien die kwaliteit van die saad nie bepaal is nie.

Die vraag bly altyd: Watter kultivar moet geplant word? Hierdie besluit kan vergemaklik word deur kultivarevaluasieverslae te raadpleeg asook om die verwerker, met wie kontrakte gesluit gaan word, te raadpleeg oor kultivarkeuses. Probeer om meer as een kultivar te plant om sodoende die risiko te versprei.

Pas die produksiepraktyke aan by die produksiestelsel van die plaas sodat reeds bestaande implemente gebruik kan word. Dit is ook raadsaam om met omliggende produsente te gesels sodat inligting op dié manier ook ingewin kan word.

Onthou grondbone is ‘n bestuursintensiewe gewas. Maak seker dat jy altyd op hoogte bly van wat in die grondboonland gebeur – ‘n goeie grondboonprodusent se voetspore is van planttyd tot oestyd in sy lande.

Publication: September 2013

Section: Input Overview

Search