• Login
  • Search Icon

Sekere opsies en implikasies rakende die verhoogde minimum loon vir plaaswerkers

May 2013

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: SENIOR BESTUURDER: ARBEIDSVERHOUDINGE, AGRI SA

Vanjaar het die minimum loon vir plaaswerkers met 52% verhoog. Die loon vir ‘n plaaswerker wat 9 ure per dag werk, het verhoog na R5 574,82. Die loon is van toepassing op plaaswerkers, huisbediendes en sekuriteitsbeamptes wat werksaam is op die plaas.

Dit het ‘n groot finansiële las vir produsente veroorsaak. Daar word nou deur produsente allerhande planne gemaak om die syfers te laat klop. Wat is die opsies? Daar is verskeie opsies, naamlik aflegging van werkers, om aansoek te doen vir Artikel 50 variasie, verandering in aantal ure wat die werkers werk en verandering in plaaspraktyke, soos die uitkontraktering van sekere aktiwiteite, pligte, take en funksies.

Indien ‘n produsent sou oorweeg om een of meer van bogenoemde opsies uit te oefen, moet die implikasies van arbeidswetgewing asook die Wet op die Uitbreiding van Verblyfsekerheid in ag geneem word. Daar moet ook in gedagte gehou word dat vakbonde hul pogings gaan verskerp om plaaswerkers as lede oor die volgende paar maande te werf. Produsente mag nie hul werkers afdank weens vakbond-betrokkenheid nie of omdat die werkers hul arbeidsregte uitgeoefen het nie aangesien dit outomaties as onbillike ontslag geag kan word.

Huidige diensvoorwaardes van toepassing op plaaswerkers mag ook nie eensydig verander word nie en daar moet eers met werkers gekonsulteer word en hulle instemming verkry word alvorens diensvoorwaardes verander word. Dit is ook van toepassing indien ‘n produsent wil aansoek doen vir die Artikel 50 aansoek vir variasie. Dit is ‘n onbillike arbeidspraktyk en die werkers kan ‘n klagte teen die produsent na die CCMA verwys.

Aangesien werkers klaar vanaf 1 Maart geregtig was om die hoër loon te verdien, kan ‘n produsent nie ‘n voordeel gee en dan wegvat nie. Wanneer daar onderhandel word met werkers om minder te betaal, moet hierdie in gedagte gehou word. Indien aansoek gedoen word vir Artikel 50 variasie, moet die produsent met sy werkers konsulteer oor ‘n aanvaarbare vergoeding vir die volgende jaar asook infaseringsreëlings om by die vasgestelde verhoogde loon uit te kom.

Indien die werkers deur ‘n vakbond verteenwoordig word, moet die vakbond gekonsulteer word en moet die vakbond ook afteken op die ooreengekome bedrag en proses. Indien daar nie ‘n vakbond op die plaas teenwoordig is nie, moet die produsent ‘n beëdigde verklaring aanheg waarin hy bevestig dat geen vakbond die werkers op daardie spesifieke plaas verteenwoordig nie.

Verder moet die produsent die plaas se inkomste- en balansstaat ook by die aansoek aanheg. Die aansoek word gedoen op ‘n BCEA 6 vorm wat by die Departement van Arbeid beskikbaar is en ook daar ingedien moet word, vir die departement om te besluit of die versoek toegestaan gaan word al dan nie. Indien die versoek nie toegestaan word nie, moet die produsent die verhoogde loon betaal, terugwerkend vanaf 1 Maart vanjaar. Dit is derhalwe baie belangrik dat geen diensvoorwaarde of praktyk wat in die verlede op ‘n plaas gegeld het, eensydig deur die produsent verander word nie. Enige verandering moet met die geaffekteerde werkers en/of hulle vakbond onderhandel word.

image

Publication: May 2013

Section: Input Overview

Search