• Login
  • Search Icon

Saadpryse vir die 2013/2014-somergraanproduksieseisoen

July 2013

CORNÉ LOUW, SENIOR EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA EN PETRU FOURIE, EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Klagtes van produsente word toenemend ontvang oor stygende saadpryse. Waar saadkoste in die verlede wegnemend min tot ‘n produsent se lopende produksiekoste bygedra het, raak hierdie koste nou noemenswaardig. Toegang tot tegnologie in saad word al meer, wat tot ‘n mate die bydrae van saadkoste tot produksiekoste verhoog, maar produsente raak bekommerd oor skerper, volgehoue stygings.

Graan SA het hierdie jaar weer saadpryse by die verskeie saadmaatskappye verkry. Terwyl daar mieliekultivars is
wat met 41% gestyg het, het daar ander met 18% gedaal. Op ‘n gemiddelde basis het mieliesaadpryse met 7%, sojaboonsaadpryse met 9,9%, sonneblomsaadpryse met 14,3% en graansorghumsaadpryse met 18,1% teenoor die
vorige seisoen gestyg.

Dit is belangrik om kennis te neem dat dit nie geweegde gemiddeldes is nie. Sien meegaande tabelle vir prysvergelykings tussen die verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Dis ook raadsaam om nie net een kultivar vir die totale aanplanting te gebruik nie.

Riglyne met die aankoop van saad

Met die aankoop van saad is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 20 kg en 25 kg sakkies of in pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook 150 000 en 180 000 pitte per sakkie verpakkings beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik deur die LNR-IGG getoets is en dat die prestasie bewese is. Moenie onnodig groot risiko’s met ‘n nuwe kultivar loop nie.
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe en siek teen plaagweerstand van ‘n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-IGG se 2013 MIG of die betrokke kundiges.
  • Met aankope, maak seker dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes, asook aan dít wat op die sakkie staan, voldoen; veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en dit ook van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ‘n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir kortings waar moontlik.
  • Ten laaste, kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad

Saadmaatskappye staan nie in vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ‘n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie.

In die geval waar ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies

Met die aankoop van Bt-saad, word ‘n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ‘n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ‘n toevlugsarea in.

Daar is twee opsies wat gevolg kan word: óf ‘n 5% aanplanting van nie-Bt-saad, waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ‘n 20% aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5% opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20% opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan.

Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplant van ‘n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder andere so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ‘n toevlugsarea aangeplant word nie, ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting gedek word, mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugsplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word moet ook dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet ook binne sewe dae ná mekaar geplant word.

Sonneblomsaadpryse

image

Mieliesaadpryse

image

image

image

Sojaboonsaadpryse

image

Publication: July 2013

Section: Input Overview

Search