July 2012
CORNÉ LOUW, SENIOR EKONOOM: BEDRYFS DIENSTE, GRAAN SA EN PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA
Uit die veld word al meer klagtes van graanprodusente ontvang oor die toenemende koste van saad. Graan SA is op ‘n gereelde basis in gesprek met saadmaatskappye oor hierdie bekommernisse. Die vraag is of graanprodusente op ‘n stadium gaan kom waar hul weerstand gaan bied teen hoë en deurlopend stygende saadpryse.
Graan SA het hierdie jaar weer saadpryse by die verskeie saadmaatskappye verkry. Op ‘n gemiddelde basis het mieliesaadpryse met 6,3%, sojaboonsaadpryse met 9,6%, sonneblomsaadpryse met 3,7% en graansorghumsaadpryse met 8,4% teenoor die vorige seisoen gestyg.
Dit is belangrik om kennis te neem dat dit nie geweegde gemiddeldes is nie. Die Produksie-insetwerkgroep van Graan SA, se prysmonitor van gewilde mieliesaadkultivars toon egter dat pryse van gewilde mieliesaad met gemiddeld 9,4% gestyg het.
Sien die meegaande tabelle vir prysvergelykings tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.
Dit is ook raadsaam om nie net een kultivar vir die totale aanplanting te gebruik nie.
Riglyne met die aankoop van saad
Met die aankoop van saad is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:
Behandeling van saad
Saadmaatskappye het besluit dat hul nie meer gaan instaan vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ‘n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO geakkrediteer is, gedoen word nie.
In die geval waar ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.
Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.
Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad, word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ‘n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ‘n toevlugsarea in.
Daar is twee opsies wat gevolg kan word: óf ‘n 5% aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ‘n 20% aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas word.
Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20% opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Btmielies en 80 ha Bt-mielies bestaan.
Toevlugsareas moet so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie. Toevlugsareas moet uit nie minder as ses rye bestaan nie.
Mieliesaadpryse
Link Seed en Agricol
Pannar
Pioneer
Monsanto en K2 Agri
Graansorghumsaadpryse
Pannar en Agricol
Sonneblomsaadpryse
Pannar en K2 Agri
Pioneer en Agricol
Sojaboonsaadpryse
Pioneer, Pannar en Link Seed
Publication: July 2012
Section: Input Overview