• Login
  • Search Icon

Saadhantering kan jou maklik jou vingers laat verbrand

March 2013

NICOLETTE VAN DER MERWE, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM

Saadvermeerderings met alles wat daarmee gepaardgaan, is ‘n tydrowende proses wat sistematies met deeglikheid en presisie uitgevoer moet word. Met die hantering van saad is daar ‘n legio plekke waar kultivarvermenging kan plaasvind. “Dit gaan te lank neem!” of “Daar moet plekke wees waar korter paaie gevolg kan word!” kan jy sê. Glo my, die kortste pad is reeds gevind en volg jy dit nie, kan jy maklik jou vingers verbrand en jouself groot skade op die hals haal!

Agtergrond

Vir baie jare het Sensako die Nasionale Basissaadskema vir wintergraankultivars namens die Koringraad bedryf. Dit het beteken dat Sensako verantwoordelik was vir die produksie van teler- en basissaad van wintergraankultivars (onder die wakende oog van die Koringraad se graderingsinspekteurs), wat deur die destydse Departement van Landbou (nou die Landbounavorsingsraad) ontwikkel is. Basissaad is dan op bestelling aan koöperasies verskaf en wel teen ‘n gesubsidieerde prys, as gevolg van ‘n toekenning wat aan Sensako gemaak is uit die destydse Koringraad-navorsingsfonds.

Hierdie prosedure het egter saam met die Koringraad en die een kanaalbemarkingstelsel (einde 1997) verval en om te verseker dat voldoende basissaad van die betrokke kultivars steeds aan die onderskeie bedrywe beskikbaar gestel word, doen die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) nou hierdie saadvermeerderings op aanvraag.

Die hawerkultivars wat tans steeds op hierdie manier vir die hele saadbedryf vermeerder word, is Overberg, SWK001 en Witteberg. Hierdie hawerkultivars het geen planttelersregte wat daarop geregistreer is nie.

Wat behels planttelersregte?

Telers en eienaars van kultivars word deur die Planttelersregtewet (Wet 15 van 1976) die geleentheid gebied om beskerming te verkry. Ongemagtigde vermeerdering en verkope van beskermde kultivars is ‘n oortreding van hierdie wet. ‘n Etiket met hierdie woorde verskyn op elke saadsak van ‘n kultivar van die LNR-KGI waarop planttelersregte uitgeneem is. Planttelersregte wat op ‘n koringkultivar uitgeneem is, is geldig vir ‘n periode van 20 jaar en op hawer en korog, 15 jaar. Die hawerkultivar Maluti en die korogkultivars Falcon en Korhaan, is egter uitsonderings en hul Planttelersregte is ook vir 20 jaar uitgereik.

Spesifieke kultivars van verskillende graansoorte (met planttelersregte) tot gesertifiseerde saad, se alleenreg of sub-lisensie vir die bemarking en vermeerdering daarvan, is aan die instansies (soms twee), soos genoem in Tabel 1, toegeken. Die Planttelersregte van talle kultivars van die LNR-KGI het alreeds verval, maar word steeds verbou, byvoorbeeld Kariega. All-Gro, die bemarker van Kariega, betaal nog altyd tantieme oor aan die LNR-KGI op elke sakkie gesertifiseerde saad van hierdie kultivar wat verkoop word.

image

Saadvermeerderings

Die LNR-KGI het navorsingstasies op Bethlehem (somerreënval – droëland), Vaalharts (tussen Jan Kempdorp en Warrenton – besproeiing), Rietrivier (‘n halfuur anderkant Kimberley, op pad Hopetown toe – besproeiing) en in die Wes-Kaap (Stellenbosch, Riviersonderend [Tygerhoek] en Moorreesburg [Langgewens] winterreënval – droëland). Drie inspekteurs wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) gemagtig is om, onder andere, verteenwoordigende monsters te neem en landinspeksies uit te voer, is ook in diens van die LNR-KGI. Saadvermeerderings is ‘n voortdurende proses. Kernsaad (afkomstig uit die vermeerdering van enkel-aarseleksies) word elke jaar van elke kultivar soos wat saad benodig word, aangeplant en geëvalueer vir telersaadproduksies, ten einde alle bestaande kultivars – oud en nuut – wat in die bedryf ingaan, geneties suiwer te hou. LNR-KGI se saadvermeerderings word streng volgens die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema gedoen.

Wat is die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema?

Op 1 Julie 1989 is SANSOR, ‘n artikel 21 maatskappy (sonder winsbejag), deur die Minister van Landbou aangewys as die gesag om die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema, soos ingestel kragtens die Plantverbeteringswet (Wet 53 van 1976), toe te pas en te administreer. SANSOR het ongeveer 140 inspekteurs landswyd.

Hierdie inspekteurs is werksaam by verskeie instansies en woon deurlopend werkswinkels by om opgeskerp te word om SANSOR in Suid-Afrika behulpsaam te wees in die handhawing van die hoë standaard van saadsertifisering en die talle aspekte wat daarmee gepaardgaan. Daar bestaan verskeie voorwaardes en vereistes waaraan voldoen moet word alvorens saad gesertifiseer kan word. Dit word kortliks in Tabel 2 omskryf.

image

Landinspeksies

Die feit dat inspeksies van saadlande nie behoorlik vanuit/vanaf ‘n voertuig gedoen kan word nie, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Verskillende ander grane/aftipes in byvoorbeeld ‘n koringkultivaraanplanting, sal nie altyd op ‘n afstand sigbaar wees nie – hulle kan dalk korter wees en nie waarneembaar uitstaan nie.

‘n Saadinspekteur behoort so dikwels moontlik en verspreid gedurende die groeiseisoen, deur sy saadaanplantings te stap. Lande moet fisies skoongetrek word van aftipes, ander graan en ongewenste onkruid of met die toepaslike gif bespuit word. Siektes en plae, indien teenwoordig, is ook duideliker waarneembaar in ‘n land as vanuit ‘n voertuig en moet chemies of op ‘n natuurlike wyse beheer word.

image

Strooptyd en die prosesse daarna

Die stroper moet baie goed skoongemaak word voordat die stroopproses begin. Lande word eers gesoom om voorsiening te maak vir isolasiestroke en om die stroper mee te spoel. Hierdie graan word nie as saad aangewend nie, maar kommersieel verkoop. Tussen die stroop van verskillende kultivars, word die stroper weer deeglik skoongemaak om saadvermenging te voorkom. Indien die saad nat is (bo 12,5% vog), word dit eers in losmaat droërbakke gedroog. Indien saad droog gestroop is (onder 12,5% vog), word dit in duidelik gemerkte staalbakke van ongeveer een ton (massa verskil van graansoort tot graansoort en kultivar tot kultivar) gegooi en die bakke getel.

‘n Onverwerkte verteenwoordigende monster word uit die bakke getrek. Hierdie monster word verdeel – 1 kg word deur die LNR-KGI Saadlaboratorium ontleed en 1 kg word die daaropvolgende plantseisoen deur die LNR-KGI as na-kontrole van hierdie saad, uitgeplant. Die saadverwerkingseenheid by die LNR-KGI is baie klein en elke proses word afsonderlik gedoen. Hierdie prosesse behels die verwerking, behandeling en verpakking van die saad. In die geval van hawer en korog, gaan ‘n monster van hierdie saadlot na SANSOR as na-kontrolemonsters vir sertifisering. Koringsaadlotte word dan behandel met Anchor Red (hawer en korog word nie behandel nie) en verpak. ‘n Verteenwoordigende, behandelde monster wat ook dieselfde pad as alle ander LNRKGI-monsters loop, word van die behandelde koring getrek.

Dit is een van hierdie monsters (in die geval van koring) wat ná verdeling na SANSOR as na-kontrole vir sertifisering gaan. Sakke word dan toegestik, geëtiketteer en verseël. ‘n Totaal van twee of drie monsters van elke saadlot word dus deur die LNR-KGI Saadlaboratorium ondersoek en ook deur die LNR-KGI as na-kontrole uitgeplant. In die teelproses van nuwe kultivars is die instandhouding en voorsiening (deur saadvermeerdering) van voldoende geneties en fisies suiwer saad van hierdie kultivars, ‘n baie belangrike en logiese uitvloeisel. Die teel van nuwe kultivars – met méér siekte- en uitloopweerstand, ‘n hoër opbrengspotensiaal en primêre graderingsfaktore wat tot nóg beter bakkwaliteit bydra – is immers een van die LNR-KGI se vernaamste funksies.

Skakel die LNR-KGI by (058) 307-3400 vir enige navrae.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search