• Login
  • Search Icon

Saadgrootte, kieming en groeikragtigheid van mielies bekyk

March 2018

DR MARYKE CRAVEN, MARELENE VAN DER WALT en DR JEANETTA SAAYMAN-DU TOIT, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

In ‘n samelewing waar “groter” altyd “beter” is, het menige produsent dalk al vrae gehad oor korrelgrootte en hoe dit die verskillende fasette van kieming, groeikragtigheid, opbrengs of die saad se “raklewe” beïnvloed. Hier volg ‘n paar antwoorde op die algemeenste vrae.

Hoe verskil kieming van groeikragtigheid?
Kieming en groeikragtigheid is twee faktore wat saad se fisiologiese potensiaal beïnvloed. Albei bepaal die teoretiese vermoë van die saad om kritiese funksies te kan uitvoer onder beide gunstige en ongunstige omstandighede. 

Saad bereik hul maksimum potensiaal naby, of kort na, fisiologiese rypheid, vanwaar die saadkwaliteit egter geneig is om af te neem na gelang van die oestyd, omgewingstoestande, drogingsprosesse, prosessering en storingtoestande.

Kieming verwys na die vermoë van die saad om onder optimale groeitoestande van die gewas die noodsaaklike strukture te vorm wat tot ‘n normale plant aanleiding gee. Met saailingkiemingstoetse, word onkieming na ‘n bepaalde tyd van saalinggroei geëvalueer en tellings uitgedruk in die getal normale saailinge.

Groeikragtigheid daarteenoor toets die saad se vermoë om onder ongunstige toestande (byvoorbeeld koue) te kan ontkiem en oorsprong te gee aan ‘n gesonde saailing. Die doel van groeikragtigheidstoetse, in byvoorbeeld privaat saadmaatskappye, is om verskille tussen saadlotte met soortgelyke kiemingspersentasies te identifiseer. Sodoende kan saadlotte wat ‘n groter moontlikheid (of potensiaal) toon om te presteer na plant of gedurende storing, uitgewys word.

Kieming en groeikragtigheid
Die antwoord op hierdie vraag is: Nie noodwendig nie. Figuur 1 toon die verband tussen kieming en groeikragtigheid soos waargeneem vir twee saadlotte van verskillende kwaliteit (X = goeie kwaliteit saad; Y = swakker kwaliteit saad). Goeie kwaliteit saad se verskil tussen waargenome kieming en groeikragtigheid is kleiner as dié van swakker saad. 

By implikasie beteken dit dat met ‘n swakker kwaliteit saad, ‘n aanvaarbare graad van kieming verkry kan word, maar dat die groeikragtigheid van die saad swak is. Die saad sal dus ontkiem, maar onder stremmingstoestande sal die saailinge swak vaar.

Verskillende groottes en vorms van saad
Saadgroottes van ‘n spesifieke baster sal van jaar tot jaar, asook van land tot land, verskil. Dit is weens die feit dat verskeie faktore ‘n invloed het op die uiteindelike saadgrootte wat verkry word. Faktore wat ‘n invloed uitoefen, sluit in die eienskappe van die baster, ouerlyneienskappe asook heersende groeitoestande gedurende bestuiwing en kopvulling.

Só sal die saad van ‘n baster, afkomstig van ‘n enkelkruising, kleiner wees as die saad van ‘n baster wat afkomstig is van drie- of vier-rigtingkruisings, terwyl hoë temperature, droogtetoestande of lae vrugbaarheid weer saadgrootte negatief beïnvloed. 

Die plasing van die saad op die kop self beïnvloed ook die grootte en vorm van die saad. Groot, ronde sade kom meestal by die basis van die kop voor, terwyl die plat pitte in die middel van die kop voorkom (Foto 1). By die voorpunt van die kop, kom die klein, ronde pitte voor. 

Invloed van saadgrootte
Internasionale studies is uitgevoer waar pitte afkomstig van dieselfde kop, maar wat verskil in grootte en vorm, met mekaar vergelyk is. Die bevindings was dat hierdie pitte nie van mekaar verskil het ten opsigte van hul plantontwikkeling of graanopbrengs nie. 

Ander studies het egter getoon dat die kleiner pitte geneig was om beter te ontkiem as die groter pitte onder vogstremmingstoestande. Dié waarneming is verklaar aan die hand van die feit dat kleiner sade minder vog benodig om te ontkiem weens hul kleiner volume. By implikasie beteken dit dus dat kleiner pitte vinniger in droë grond sal ontkiem.

Daar egter ook gevind dat plante afkomstig van kleiner pitte tog gedurende die vegetatiewe groeistadia van hul groter pit-eweknieë verskil het. Tot en met pluimvorming het plante afkomstig van kleiner pitte korter vertoon, verminderde droë gewigte en kleiner blaaroppervlaktes gehad. Hierdie plante het verder ook ‘n stadiger ontwikkelingstempo gehad as plante wat uit groter pitte gespruit het. 

Onder optimale groeitoestande is hierdie verskille egter ná pluim uitgewis en is geen verskille in opbrengs waargeneem nie. Daar is konsensus dat, alhoewel daar geen verskille tussen groot en klein pitte onder normale groeitoestande is nie, kleiner pitte se plante gedurende die vegetatiewe groeistadia swakker onder stremmingstoestande sal presteer. Stremmingstoestande sluit in koel grondtemperature tydens plant, onkruidkompetisie, vogstremming en plantvoedingstekorte.

Kundiges beveel aan dat wanneer dit by saadgrootte en -vorm kom, produsente eerder kan fokus op genetiese potensiaal, saadkwaliteit asook saadprys – tensy daar ‘n moontlikheid is dat daar onder stremmingstoestande geplant gaan word. 

Navorsingstudies wat in die VSA uitgevoer is, het getoon dat dit beter is om groter pitte te plant wanneer daar baie vroeg in die seisoen of onder geenbewerkingstoestande geplant gaan word. Dit is weens die nadelige impak wat koeler grondtemperature moontlik op die kieming van kleiner pitte kan hê. Andersyds is die aanbeveling om plantestand met 10% tot 15% te verhoog.

"Raklewe" tydens storing
Kenners is dit eens dat temperatuur en humiditeit die hooffaktore is wat die raklewe van saad tydens storing beïnvloed. Hoë temperature, tesame met hoë humiditeit tydens storing, sal veroorsaak dat saadkwaliteit sal afneem weens ‘n verhoging in ensiemaktiwiteit asook die afname in selwandintegriteit.

‘n Algemene riglyn wat oorsee rakende die storing van saad gebruik word, is dat die somtotaal van die temperatuur (in °F) en relatiewe humiditeit nie die waarde van 100 oorskry nie. As die temperatuur van die stoorkamer dus 60°F is, mag die relatiewe humiditeit nie hoër as 40% wees nie (60 + 40 = 100). 

Wanneer hierdie formule dus toegepas word (met die nodige omskakelings na °C), kan die maksimum relatiewe humiditeit wat by verskillende temperature (°C) moet heers, verkry word, wat sal verseker dat saadkwaliteit nie afneem tydens storing nie. Die temperatuur:relatiewe humiditeitverhouding word in Grafiek 1 uitgebeeld. Indien ‘n stoor dus ‘n gemiddelde temperatuur van 35°C het, mag die relatiewe humiditeit binne die stoor nie hoër as 5% wees nie.

Bitter min is egter internasionaal gepubliseer rakende die impak wat die storingsomgewing sal hê met pitte van verskillende pitgroottes en -vorms. ‘n Studie is egter in 1998 gepubliseer, waar handgeoeste pitte volgens plat- en ronde pitvorms gesorteer is. Hierdie monsters is dan by 25°C teen onderskeidelik 75% en 85% relatiewe humiditeit gestoor. 

Die studie het getoon dat, buiten vir die feit dat daar ‘n verhoging in die voginhoud van die saad was wat tot verhoogde voorkoms van swamgroei gelei het, daar ook ‘n konsekwente groter afname in kieming by ronde pitte as by plat pitte waargeneem is. Hierdie tendens is waargeneem by beide vogtoestande. 

‘n Verdere studie wat by 37°C gedoen is, het soortgelyke bevindings gehad. Albei hierdie studies het dus tot die slotsom gekom dat ‘n afname in kieming vinniger by ronde pitte as plat pitte plaasgevind het – wanneer saad by suboptimale bergingstoestande gestoor is. Plaaslik is daar egter nie enige studies gedoen wat die storingsfasiliteite op plase ondersoek en of saadgrootte en -vorm ‘n impak sal hê op die kieming en groeikragtigheid van die verskillende tipes saad nie.

Alhoewel dit nie wetenskaplik bevind is nie, het kundiges in die veld van storing van saadmonsters aangedui dat wanneer die saad by lae temperature (10°C) en relatiewe humiditeit van nie hoër as 50% nie gestoor word, daar geen merkbare verskille in die kieming of groeikragtigheid van die verskillende saadgroottes en -vorms is nie.

Produsente moet dus kennis neem dat saad op ‘n geskikte wyse gestoor moet word om te verseker dat hulle teen planttyd optimale kieming en groeikragtigheid sal hê.

Produsente is welkom om die onkruidwe­tenskaplikes by LNR-Graangewasse by 018 299 6100 te kontak rakende enige verdere navrae. 

 

Publication: March 2018

Section: Focus on

Search