• Login
  • Search Icon

Vroue in landbou: Annatjie Loio

August 2013

image

RUTH SCHULTZ, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

“Ek wéét landbou is die polsslag van voedsel in ons land,” het Annatjie Loio, wat vanjaar vir die elfde agtereenvolgende jaar herkies is as president van die Graanhanterings organisasie van Suider-Afrika (GOSA), met groot opgewondenheid die gesprek ingelei.

Annatjie vertel met sekerheid dat Suid-Afrika van die beste produsente ter wêreld het. “Sonder enige hulp verbou produsente steeds voedsel vir ons land, naburige state asook diepsee-uitvoere. Dink net as ons produsente staatshulp kon kry, hoe sou hulle dán floreer.”

Sy sê landbou sal altyd voortbestaan en sy sien groot potensiaal vir ons land in die toekoms, maar slegs indien die uitdagende kwessies in landbou daadwerklik aangespreek word. “Afrika is dié plek om te wees in die jare wat voorlê. Die enigste bewerkbare grond wat oor is, is op die Afrika-kontinent en voedsel sal hiér geproduseer word.”

Annatjie meen verder dat die rentekoers laag sal bly en dat ekonomiese groei sal voortduur. “SADC se ekonomiese groei is derde op die wêreldranglys, wat tot gevolg het dat meer mense oor besteebare inkomste beskik en goeie voedsel kan bekostig.”

Volgens haar veroorsaak voedselonsekerheid anargie en mense wat in opstand kom. “Voedselsekerheid is die belangrikste aspek waaraan die regering en die privaat sektor deurlopend moet aandag gee.” Annatjie gesels oor van die uitdagings wat voedselsekerheid in ons land belemmer:

Elektrisiteit

Dié probleem word tans aangespreek en nuwe kragstasies sowel as ‘n windkragaanleg word gebou. Sodra daar meer elektrisiteit verskaf kan word, sal die ekonomie kan groei en moontlik haal ons die 4%-groei wat almal graag sal wil sien. “Indien daar voorbeeldige leiers is, is ek seker elke Suid-Afrikaner sal saamwerk om elektrisiteit te bespaar.”

Infrastruktuur

Jare terug was die verhouding 85% spoor en 15% pad. Deesdae is dié verhouding byna die teenoorgestelde. Infrastruktuur speel ‘n geweldige belangrike rol by die bepaling van kommoditeitspryse en almal in landbou veg voortdurend vir ‘n beter vervoerstelsel. “Spoorvervoer in ons land het baie agteruitgegaan, maar Transnet is tans besig met opgradering wat vir ons almal tot finansiële voordeel kan wees.

“Ek verstaan dat die spoorvervoer van mynbou-kommoditeite relatief eenvoudig is (slegs van een punt na ‘n ander punt), teenoor die kompleksiteit wat gepaard gaan met die spoorvervoer van graan (van een punt na ‘n ander punt, met stoppe tussenin), máár dit is kos waarvan ons hier praat.”

Veiligheid

Dit ís moontlik om in ‘n veilige omgewing op die platteland te woon. Vat die Gautrein as voorbeeld – dit is veilig, effektief en dit beskik oor sigbare polisiëring. Polisiëring wat sigbaar én sonder korrupsie is, kan landelike veiligheid bevorder.

‘n Geïntegreerde groei- en ontwikkelingsplan vir landbou (GGOP)

Dié plan sal beter wisselwerking tussen alle partye in landbou, insluitend die regering, bewerkstellig. “My vraag is: Is daar ‘n politieke wil om dit af te dwing? My antwoord hierop is: The proof of the pudding will be in the eating.”

Op ‘n ligter noot sê Annatjie dat Suid-Afrika werklik geseënd is aan die graanopbergingskant. Die opbergingskapasiteit in Suid-Afrika is tans ongeveer 20 miljoen ton, wat meer as genoeg is vir ons land se produksie. “Die wisselwerking tussen die verskeie rolspelers in dié waardeketting is ook uitstekend. Samewerking, deernis en positiwiteit – daarin lê die sukses van enige verhaal.”

Sy is voorwaar trots om ‘n Suid-Afrikaner, en boonop deel van die landboufamilie, te wees. “Vir die volgende dekade wil ek net in Suid- Afrika wees, want hiér gaan landbou se groeikurwe skerp toeneem.”

Annatjie gee vyf oplossings vir voedselsekerheid in Suid-Afrika

  • Landbougrond moet produktief benut word.
  • Korrupsie moet gestop word.
  • Regeringshulp moet aangewend word vir opkomende produsente sowel as produsente wat die hulp benodig.
  • Graan moet steeds effektief opgeberg word om skade te voorkom.
  • Subsidies moet gegee word vir brandstof, elektrisiteit en kunsmis sodat daar goedkoper verbou kan word.

Landbou is in haar bloed

  • Annatjie Loio se landboupad het reeds in 1967 by die Koringraad begin. As ‘n senior graanverhandelaar in internasionale en Suid-Afrikaanse maatskappye het sy in Europa, Amerika, China en Afrika gaan werk en toer. In 2000 het sy haar eie verhandelingshuise, genaamd Unitrade 826 (Edms) Beperk en Add-X Trading 189 CC, by haar huis in Midrand begin.
  • Buiten haar agtergrond in die korporatiewe landbouwêreld, het sy op ‘n plaas in Tzaneen grootgeword, waar haar pa ‘n ekstensiewe graan- en veeboerdery gehad het.
  • Sy is in Junie vanjaar aangewys as een van die finaliste vir die “2013 se mees invloedryke vroue in die sakewêreld en regering”-toekenning. Die wenner was met die ter perse gaan van dié tydskrif nog nie aangewys nie. Volgens Annatjie is haar grootste prestasie dat God haar geseën het met ‘n pragtige kleindogter, Daniella (8).
  • Wanneer sy wil skoene uitskop en bietjie rus, vat sy die pad na haar ander huis op ‘n stukkie grond net buite Brits.

Publication: August 2013

Section: Other Articles

Search