• Login
  • Search Icon

SA en EU deel navorsingsprioriteite, maar in SA bestaan daar ruimte vir verbetering

June 2012

JEANÉ MEYER, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Graan SA lewer bedryfsverwante inligting aan graanprodusente en ander belang hebbendes in landbou, maar stel hom ook ten doel om hulle op hoogte te hou van wat in die internasionale landbou-arena plaasvind.

Mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, het gedurende Maart die vyfde Forum for the Future of Agriculture (FFA), in Brussel bygewoon. Syngenta Suid-Afrika het sy koste geborg en volgens De Villiers was dit sinvol om die FFA by te woon sodat daar gemeet kon word of Suid-Afrika en die EU dieselfde bekommernisse oor navorsingsprioriteite deel.

“Na my mening bly dit makliker om met bevallings van babas in Afrika te help, as wat dit is om die dooies in Europa op te wek,” het De Villiers gesê. “My totale opsomming was dat Europa ontsettend verstok en stadig is wat verandering betref. Aangesien daar 25 lidlande is, is hul besluitnemingsprosesse ook traag. ‘n Forumganger van die FFA het onder andere die opmerking gemaak dat besluite waaroor die EU konsensus bereik, dikwels in die lidlande gegenereer word. Dit veroorsaak dat hulle nie werklik in een rigting kan beweeg nie.”

‘n Interessante analogie tussen Suid-Afrika en Europa is egter dat beide tans grondhervormingskwessies ervaar, maar weens verskillende oorsake: Suid-Afrika weens die nadraai van apartheid en Europa weens die vernietiging van hul biodiversiteit. “In Europa moet produsente reeds teen 2014, 7% van hul plaasoppervlakte met blomme en bome beplant vir die bye en voëls, om sodoende biodiversiteit te bevorder,” het De Villiers gesê.

De Villiers se hoogtepunt van die FFA het ontstaan as gevolg van ‘n forumganger wat baie neerhalende opmerkings oor Derdewêreldse lande gemaak het. “Hy het ondermeer aangevoer dat hulle ongeletterd is, swak beheer toepas, ‘n absolute patetiese regulerende raamwerk het en dat hul nie met GM-tegnologie vertrou kan word nie. Ek was eers kwaad, maar toe begin ek lag. Die ironie is dat die EU, wat gedurende 2012 meer as 40 miljoen hektare se voedsel ingevoer het, afhanklik is van die ‘ongeletterde lande wat swak beheer toepas’ vir hul kos. Spanje en Italië het verlede jaar GM-mielies by Suid-Afrika gekoop.”

“Graan SA se ‘Bewaar die toekoms, tree vandag op’-advertensieveldtog benadruk ook juis die belangrikheid van behoud. Dit voel vir my asof daar ‘n paar dinge is wat Suid-Afrika reeds reg doen. Dit was vir my, as Afrikaan, lekker om daar te kon uitstap en te sien hoe spook hulle met goed soos biodiversiteit, terwyl Suid-Afrika dit tot dusver kon bewaar.”

Volgens De Villiers is die feit dat Suid-Afrikaanse produsente die land bewerk, waar Europese produsente “die regering bewerk”, nóg ‘n veer in ons hoed. “33% van die inkomste van Europese produsente is van staatsubsidies afkomstig. Suid-Afrikaanse produsente is ware entrepreneurs en nie subsidie-uitbuiters nie,” sê hy.

De Villiers is egter ook van mening dat die EU weer in ander opsigte vir hul optrede geloof kan word. “Alhoewel Suid-Afrika en die EU dieselfde navorsingsprioriteite deel, reageer Europa vinniger. Die EU het die totale gewig wat aan landbounavorsing verbonde is, verdubbel, terwyl hul ook hul investering in voedselsekerheidsverwante navorsing méér as verdubbel het. Suid-Afrika is nog nie eers by die punt wat ons die investering in algemene navorsing kan verhoog nie.”

Mauricio Antônio Lopes, uitvoerende direkteur van Navorsing en Ontwikkeling van die Brazilian Agricultural Research Council (Embrapa), het gedurende die Forum verduidelik hoe Brasilië dit in minder as 40 jaar reggekry het om voedselsekerheid in dié land te bewerkstellig en homself in ‘n netto uitvoerder te omskep. Brasilië, wat tans die sesde grootste ekonomie ter wêreld is, focus sterk op wetenskaplike navorsing, tegnologie en innovasie om hul ontwikkeling en mededingendheid te bevorder. Dié land het op die oomblik 10 000 PhD’s in opleiding en 100 000 jong wetenskaplikes, wat in ander lande gaan studeer en terugkeer om die kennis wat hulle daar versamel in hul eie land te implementeer. Hulle het ‘n absolute landbounavorsingskultuur.

“Die Brasiliaanse-model het vir my benadruk dat die snellerpunt van groei, navorsing is. In Suid-Afrika wil ons werksgeleenthede skep om armoede te verlig. Om dit te bewerkstellig, moet daar groei in die landbousektor plaasvind en navorsing is die oplossing. As jy na die Landbounavorsingsraad (LNR), die bastion van landbounavorsing in Suid-Afrika kyk, is dié instansie steeds besig om kapasiteit te verloor omdat daar op die oomblik minder aan landbounavorsing gespandeer word.”

De Villiers brei verder uit en sê dat hy besef het dat daar in Suid-Afrika, ten opsigte van landbounavorsing, nog groot ruimte vir verbetering is. “Vanuit ‘n Graan SA perspektief moet ons dit oorweeg om self met die Departement van Wetenskap en Tegnologie te gaan gesels, aangesien die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nog nie self begryp dat landbounavorsing die snellerpunt van groei is nie.

“Sedert deregulering het die regering uit landbou onttrek en daarin gedisinvesteer. Die privaatsektor moes intree om die landbounavorsingskapasiteit in plek te hou. Ons het egter nou by ‘n punt gekom wat ons nie meer die finansiële vermoë het om dit te kan volhou nie. ‘n Vennootskap tussen die privaatsektor en die regering is nou die enigste uitweg wat ons eksponensieel na die Brasiliaanse-model kan neem.

“Brasilië se proaktiewe benadering het my ook beïndruk. Die privaatsektor het self die aanvaarbare vlakke van groenhuisgasvrystelling bepaal en nie vir die regering gewag om dit te doen nie. Ek dink in Suid-Afrika het ons genoeg landboustrukture en ‘n geskiedenis van samewerking; as ek nou SAGIS en die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) as voorbeeld kan gebruik om soortgelyke privaatinisiatiewe van stapel te stuur.

“Waar daar nie tans vennootskappe tussen ons regering en ander regerings bestaan nie, moet die privaatsektor intree en self samewerkingsooreenkomste met dié regerings sluit sodat daar genoeg befondsing vir navorsingsprioriteite kan wees en sodat die oordrag van tegnologie kan plaasvind. Daar bestaan genoeg goedgesindheid tussen Suid-Afrika en lande soos Brasilië en Argentinië om sulke samewerkingsooreen komste te sluit, sodat ons die nodige tegnologie en fondse het om in ons land ook voedselsekerheid te bewerkstellig en produktiwiteit te verhoog.”

Publication: June 2012

Section: Other Articles

Search