• Login
  • Search Icon

Room van graanprodusente word vereer

November 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

‘Dit wat ons vanaand hier ervaar, wys die vordering wat oor jare en dekades in die landbousektor gemaak is. Die vlak van voedselsekerheid wat ons in hierdie land geniet, is prysenswaardig en iets waarop ons geweldig trots moet wees.”

Met hierdie woorde het mnr Antonie Delport (besturende direkteur, Syngenta Suid-Afrika) sy toespraak by die Graan SA-toekenningsgeleentheid ingelei, waar hy die wenners en finaliste in die vyf verskillende kategorieë met hul prestasies geluk gewens het. 

Syngenta was die hoofborg van die aand en borg van die Graan­produsent van die Jaar- en Kleinskaalboer van die Jaar-toekennings. 

“Elke dag is daar 200 000 meer monde op die planeet om te voed. Daar kan daarom nie bekostig word om slegs ‘n druppel in die spreekwoordelike voedselproduksie-emmer te gooi nie. Daarbenewens woon meeste van die 200 000 mense in stede óf hul sal in die toekoms na stede verhuis, waar hulle nie hul eie kos kan produseer nie. Ons het derhalwe geen ander opsie as om nog slimmer te boer nie – soos die Graanprodusent van die Jaar-finaliste wat tegnologie gebruik om uitdagings te oorkom en op die kleinste detail fokus, maar steeds ‘n geïntegreerde, holistiese benadering tot groei het,” het Delport verduidelik.

Verder het hy gesê dat almal daarna moet streef om die maksimum genetiese potensiaal van hul plante te ontsluit, om sodoende genoeg kwaliteit gewasse met die beperkte aantal hulpbronne beskikbaar, te produseer. 

Aan die hand van ‘n Albert Einstein-aanhaling (“As jy dit nie eenvoudig kan verduidelik nie, dan verstaan jy dit nie goed genoeg nie”) het Delport verduidelik dat almal eenvoud moet nastreef om sodoende spoed en impak te verhoog. “Indien ons dit nie gaan doen nie, sal ons nie kompeterend bly nie,” het hy gesê.

Konsolidasie regdeur die waardeketting het ‘n algemene gesig geword – veral aan die gewasbeskermings- en saadkant. “Indien jy in die waardeketting wil deelneem, maak seker jy voeg waarde toe. Anders sal jy nie oorleef nie.”

Delport het beklemtoon dat landbou vandag leiers – veral jong leiers – meer as ooit tevore nodig het. “As jy ‘n jong leier is, het jy die energie. Jy bring nuwe idees en ‘n vars perspektief na die tafel en is meesal bereid om ‘n paar risiko’s te neem om die status quo te breek. Jy het volop potensiaal – moet dit nooit vergeet nie.”

Volgens Delport het ware leiers die vermoë om empatie met ander te hê. “Indien ons die ander party se gedagtes en ervarings deel en hul verwysingsraamwerk verstaan, sal ons in ‘n baie beter plek wees om die gemeenskaplike belang te identifiseer.”

Hy het Graan SA bedank vir die jarelange vennootskap met Syngenta en gesê hul sien uit na die voortsetting van die borgskap.

Mnr Derek Mathews (visevoorsitter, Graan SA) het in sy verwelkomingstoespraak die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor, bedank vir die positiewe werksverhouding wat Graan SA met haar departement kan hê en dat die organisasie uitsien om voort te bou op hierdie verhouding.

Mathews het al die 2017-wenners en finaliste se stories opgesom met ‘n aanhaling van James Douglas Junior: “Our deep respect for the land and its harvest is the legacy of generations of farmers who put food on our tables, preserved our landscape and inspired us with a powerful work ethic.”

Funksie gee erkenning, inspireer en skets Suid-Afrikaanse landboubeeld
Mnr Jaco Minnaar (voorsitter, Graan SA) het kortliks verduidelik waarom hierdie Graan SA-toekenningsfunksie, wat vanjaar vir die 18de keer aangebied is, so belangrik vir die landbousektor is. 

“Eerstens gee Graan SA en die borge erkenning aan die mededingers in die kompetisie, wat leiers in hul omgewings is. Dit is belangrik om aan die finaliste en wenners erkenning te gee vir die harde werk wat hulle in hul boerderye insit. 

“Tweedens is die kompetisie ‘n inspirasie vir die jonger mense, wat die finaliste en wenners as mentors en leiers in hul gemeenskappe sien. 

“Laastens is dit ‘n vertoonvenster vir landbou in Suid-Afrika, waar ons wys wat die landbousektor bereik – ten spyte van al die uitdagings en negatiewe faktore wat produsente daagliks in die gesig moet staar,” het hy verduidelik.

Publication: November 2017

Section: Grain SA

Search