• Login
  • Search Icon

Riglyne vir voeding by intensiewe lamstelsels

October 2015

HENDRIK VAN PLETZEN, Voermol Voere

Verliese as gevolg van ongediertes en diefstal is vir meer as 20 jaar lank die mees beperkende faktor by skaapboerdery. Die intensivering van skaapboerdery is onder meer ‘n poging om die verliese te beperk en tans is daar opnuut belangstelling in dié onderwerp.

Een van die grootste uitdagings is om koste en spesifiek voerkoste van intensiewe stelsels onder beheer te hou. Dit is algemeen bekend dat ‘n melkkoei die doeltreffendste herkouer is en as gevolg van voerkoste, het melkerye wegbeweeg van volvoerstelsels (nul beweiding) na laer koste, hoëkwaliteit aangeplante weidings. Daar is heelwat te leer by melkerye omdat daar groot ooreenkomste tussen die intensiewe stelsels is.

Die voedingsbehoefte van skape in verskillende produksiestadiums en daarmee saam die voervloei- en weidingbeplanning om aan die behoeftes te voldoen, is van kritieke belang om intensiewe lamstelsels ekonomies te laat slaag.

Elke plaas het sy eie hulpbronsamestelling in terme van veld, aangeplante weidings en selfgeproduseerde voere en daar is beslis nie een resep wat vir alle omstandighede geld nie. Die voedingsbehoeftes van skape is goed nagevors en die basiese riglyne word in Tabel 1 aangetoon.

Riglyne vir voeding by intensiewe lamstelsels

Die NRC-tabelle gee ‘n goeie aanduiding van voedingsbehoeftes en bevat baie meer detail as bogenoemde, maar vir die bepaling van voerhoeveelhede en kwaliteit, volstaan ons by bogenoemde riglyne. Die inligting kan goed gebruik word om voervloeibeplanning-, hoeveelhede en voerkoste te bereken.

Byvoorbeeld, oor ‘n tweejaar-periode waar die ooi elke agt maande lam, benodig ‘n 60 kg ooi nagenoeg 630 kg onderhoudsvoer en 580 kg laktasievoer (lamhokvoer). Die laktasierantsoen word vanaf laat dragtigheid gevoer en moet met die nodige konsentrate gemeng word om aan die verhoogde voedingsbehoeftes te voorsien.

Mielies (of gars) en lusern is die beste grondstowwe om in só ‘n stelsel te gebruik.

In die produksiesiklus van die ooi, is sy vir die relatiewe kort periode van tien tot twaalf weke werklik doeltreffend om voer in geld om te sit. Haar voedingsbehoeftes styg aansienlik in die laaste ses weke van dragtigheid en in die eerste ses weke van laktasie.

Sy bereik haar piek in melkproduksie ongeveer drie weke ná lam en dan plat melkproduksie af. In intensiewe stelsels word lammers op agt weke gespeen en dan is die ooi vir ten minste vyf tot ses maande droog.

In hierdie droë tydperk moet sy op laekoste-weidings loop, want sy is dan ‘n ondoeltreffende voerbenutter. Hoe groter die ooi, hoe meer vreet sy en lewer geen inkomste nie. In die geval van dubbeldoelrasse, produseer sy daagliks 7 g tot 12 g skoonwol en met huidige wolpryse beloop dit ‘n inkomste van R0,70 tot R1,20 per dag. Wolinkomste kan ‘n betekenisvolle deel van die koste in intensiewe stelsels betaal.

Lamhokke speel ‘n belangrike rol om verliese by meerlinge te beperk en dit is die hoofrede vir die gebruik van lamhokke. Die voedingsbehoefte van ‘n meerlingooi in terme van nutriëntsamestelling is soortgelyk aan ‘n melkkoei wat 30 liter - 35 liter melk per dag produseer.

Riglyne vir voeding by intensiewe lamstelsels

Met selfgeproduseerde voere, soos byvoorbeeld lusern en mielies, kan die rantsoenkoste aansienlik laer wees as aangekoopte volvoere.

Die samestelling van ‘n tipiese laktasierantsoen (lamhokrantsoen) wat goeie resultate lewer, is soos volg: 400 kg lusern (met ‘n 25 mm sif gemaal), 320 kg mieliemeel, 80 kg Voermol Melassemeel, 150 kg Maxiwolkonsentraat en 50 kg Voermol Procon 33.

Indien ‘n mielieprys van R2 500/ton en vir lusern R2 000/ton aanvaar word, beloop die rantsoenkoste R2 880/ton. Die rantsoen kan ook verpil word en om by die regte tekstuur en hardheid uit te kom, sal dit moontlik nodig wees om 40 kg melassemeel met 40 kg mieliemeel te vervang.

Pas ooie gelykmatig oor 14 dae op die mengsel aan en voer ten minste twee keer per dag vars voer. Voer dragtige ooie met meerlinge teen ongeveer 3% van hul liggaamsgewig, en nadat hulle gelam het, ongeveer 4% van hul liggaamsgewig.

Riglyne vir voeding by intensiewe lamstelselsIn ‘n praktykproef oor vyf weke (die laaste twee weke van dragtigheid en eerste drie weke van laktasie) is ooie 80 kg gevoer (inset) en die uitset was ‘n 23 kg lam op 21 dae ouderdom. Dit verteenwoordig ‘n voeromsetverhouding van 1:3,5 (aanvaar geboortemassa as deel van die uitset).

Om die somme te laat klop, moet voerverbruik en kilogram lam geproduseer noukeurig gemonitor word, want dit bepaal die winsgewendheid van die stelsel.

Ooidoeltreffendheid speel ‘n baie belang rike rol en teling vir verhoogde doeltreffendheid is kritiek belangrik. In telingsproewe is gevind dat sekere ooie tot 48% meer kilogram lam per kilogram ooimassa produseer op 42 dae ouderdom (Van Pletzen en De Villiers).

Groot variasie kom tussen ooie voor en dit bied die geleentheid vir seleksie – ongelukkig is dit ‘n baie stadige proses.

Die geleentheid bestaan om wins uit skaapboerdery deur intensiewe stelsels te verhoog, maar die ooi se terugbetaalvermoë (doeltreffendheid) is vir ‘n kort periode van tien tot twaalf weke rondom lamtyd. In haar droë periode moet sy op laekoste-weidings of voerbronne loop.

Dieselfde geld tot ‘n groot mate vir vervangingsooie, wat eers op ongeveer 15 tot 16 maande ouderdom ‘n inkomste kan lewer. By melkerye word die grootmaak van vervangingsverse toenemend uitgekontrakteer, reeds om hierdie rede.

Die groot geleentheid (of risiko vir té hoë voerkoste) vir intensiewe lamstelsels lê in die plaas se eiesoortige weiding- en beskikbare voerbronne.

Publication: October 2015

Section: Focus on

Search