• Login
  • Search Icon

Produsentgebaseerde maatskappye ondersteun Graan SA

January 2019


DIRK KOTZE, ledebemarking- en kommunikasiebeampte, Graan SA

In die hedendaagse tye het ’n boerdery ’n besigheid geword wat kundigheid op alle vlakke verg. Volgens me Lize Morris (SA Graan/Grain, Julie 2018) gebeur dit selde dat een persoon al die kundigheid het; om jou dus met kundige mense te omring, het die wagwoord geword. Met dit in gedagte, het daar al heelwat produsentgebaseerde maatskappye/organisasies ontstaan wat boerderye help om meer effektief en winsgewend te wees. 

Van hierdie produsentgebaseerde maatskappye het die besluit geneem om die Graan SA-heffingsfonds ten volle te ondersteun en sodoende ’n bydrae te lewer tot die saak van die graanprodusent in Suid-Afrika. Graan SA het met drie van die maatskappye gesels en gee graag erkenning aan hierdie ondernemings.

Wie is van die maatskappye?
VS Groeiersgroep
VS Groeiersgroep is ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat deur kommersiële produsente in die Vrede en omliggende areas in die Noordoos-Vrystaat gestig is. Die produsente fokus hoofsaaklik op graan- en/of veeproduksie.

Hulle het eerstens ten doel om lede (produsente) se insetbehoeftes te kombineer en as ’n eenheid aankooppryse te onderhandel met verskillende insetverskaffers. Hierdie gesamentlike onderhandelinge stel beide groot en kleiner kommersiële produsente in staat om met gunstige pryse, terme en dienste meer winsgewend te produseer. 

Die groep se verhoudinge met verskaffers is uiters belangrik en verskaffers word as vennote in die produksieproses beskou. Tweedens verleen die groep ook bystand met verhandeling van graan, die aankoop van bates asook korttermyn- en oesversekering. Derdens word daar gefokus om die lede se ledebelang te belê sodat die lid in die groei daarvan deel. VS Groeiersgroep is laastens ’n platform waar lede inligting rakende landbousake en aktiwiteite kan deel.

VS Groeiersgroep stel sy lede in staat om op die lang termyn volhoubaar te produseer en dit skep geleenthede vir produsente om die waardeketting van hulle produkte te bestuur om sodoende maksimum voordeel daaruit te trek.

Die groep bestaan slegs uit kommersiële produsente. Huidige lede bestaan uit 133 geregistreerde entiteite wat 210 produsente verteenwoordig. ’n Direksie van nege lede – benoem en verkies uit die lede – bestuur en sien om na die belange van die groep. Die geografiese ligging van lede het die afgelope twee jaar uitgebrei en sluit verskeie streke in Suid-Afrika in naamlik Gauteng, Vrystaat, Noordwes Provinsie, Mpumalanga en Noord-Natal. Dit is gestig deur produsente en word bestuur deur produsente ten bate van die produsente.

’n Passie vir landbou, ’n liefde vir lewegewende grond, ’n toekomsvisie en behoefte aan dienslewering, kwaliteit produkte en vooruitgang, is wat ’n groep mense jare gelede laat besluit het om ’n droom in werklikheid te omskep.

Platkop Kontrakgroeiers (PKG)
Platkop Kontrakgroeiers (PKG) is in die 1992/1993-seisoen gestig – in ’n kombuis op Rietkuil – maar in vergelyking met waar die maatskappy vandag staan, was daardie begin maar ’n druppel in die emmer.

PKG is ’n privaat maatskappy waaronder ’n hele groep maatskappye sorteer onder andere Sonskyn Kunsmis, Sonskyn Handel, Nkulu Landbouers, Groot XVIII Eiendomme en Groot XVIII Beleggings, Stanvaal Chemikalieë, PKG Makelaars & Finansiële Dienste en PKG Presisie Boerdery. Die doel van elkeen is om nog beter in die behoeftes van ons produsente te kan voorsien en ’n redelike “eenstopdiens” aan produsente te kan lewer.

Die groep bestaan uit 45 lede – ’n gerekende landbougroep wat van krag tot krag groei. Dit is hulle strewe om geloofwaardigheid en integriteit uit te dra en om die nodige orde en dissipline te handhaaf.

Dit is ’n organisasie vir produsente wat vir produsente welvaart skep. Die produsent se insetadministrasie word so te sê uit sy hande geneem en hy kan fokus op sy boerdery. Hul administrasieproses is eenvoudig, redelik foutloos en deursigtig en vorm deel van die drie bene naamlik finansiering, bemarking en versekering.

Wes-Kaap Graanprodusente 
Na die deregulering van die koringbedryf in die 1990’s is die Wes-Kaap se koringprodusente oorgelaat aan die onbekende van die vryemark. Daar is ’n maatskappy gestig wat die produsente se koring in die vorm van ’n eenkanaal-sisteem bemark het. Na ’n onaangename ondervinding met dié maatskappy is daar besluit om ’n ander maatskappy te stig wat na die belange van koringprodusente as aandeelhouers se bemarking van hul produk omsien.

Die doelwit van die nuwe maatskappy was die implementering van inisiatiewe om die kompeterende posisie van die koringprodusent, wat ’n aandeelhouer van die maatskappy is, te bevorder.

’n Ouditeur van Malmesbury, mnr Chris de Jager, het ’n paar koringprodusente begin nooi vir gereelde gesprekke oor die probleme in die koringbedryf en moontlike oplossings daarvoor. Met die inligting wat tydens die gesprekke versamel is, is daar besluit om die maatskappy Malmesbury Graanboere Beperk te stig. Na die eerste finansiële jaar was daar slegs 24 aandeelhouers, maar dit het gegroei tot 118 aandeelhouers tans.

Malmesbury Graanboere Beperk se aandeelhouers was hoofsaaklik gekonsentreer in die Swartland-omgewing, maar soos die belangstelling gegroei het, is daar uitgebrei na die Suid-Kaap. Die maatskappy het sy naam gedurende Mei 2010 verander van Malmesbury Graanboere Beperk na Wes-Kaap Graanprodusente (Edms) Bpk (WKG) om sodoende die hele Wes-Kaap te betrek. WKG brei jaarliks uit en hanteer ’n groot gedeelte van die Wes-Kaapse koringoes. 

Slegs bona fide-graanprodusente mag aandeelhouers van die maatskappy wees en die direksie moet ook bona fide-graanprodusente wees. Die maatskappy het begin met een werknemer en vandag is daar slegs drie – wat ’n aanduiding is van die lae kostestruktuur van die maatskappy en die doeltreffende funksionering met ’n klein personeelkomponent.

Die maatskappy was van meet af suksesvol op beide finansiële en bedryfsgebied. Die grondslag van hierdie sukses is die integriteit, vertroue, lojaliteit en respek tussen aandeelhouers, direksie en bestuur.

WKG volg ’n strategie van lae risiko. Die regte en betroubare markinligting speel ’n baie groot rol in besluitneming. As ’n produsent wil dobbel, moet hy dit vir sy eie rekening doen.

WKG is nie opposisie vir enige iemand in die mark nie. Die maatskappy kan met enige iemand besigheid doen. Hulle verkies egter kopers wat op die dag die beste basis en diens bied met die laagste risiko.

Met ’n baie lae oorhoofse kostestruktuur is WKG nie winsbejag nie. Die maatskappy word soos ’n koöperasie bestuur om die missie te eerbiedig.

WKG het ’n baie goeie verhouding met Graan SA en al die nodige samewerking word gegee wat tot voordeel van die produsentaandeelhouer is. Die Graan SA-heffing word gevorder by alle tonne wat deur WKG hanteer word, tensy ’n produsent skriftelik kennis gee dat dit nie moet gebeur nie.

Dit is baie duidelik dat die grondslag en sukses van produsentgebaseerde ondernemings gebou moet word op vertroue, respek en dissipline. Die einddoel is om sake vir die produsent te vergemaklik en toe te sien dat produsente ’n onderhandelingsbasis het vanwaar besigheid winsgewend gedoen kan word.

Publication: January 2019

Section: Grain SA

Search