• Login
  • Search Icon

Produsente, kyk uit vir die 2012 LNR-KGI produksiehandleidings

May 2012

ELRI BURGER, SKAKELBEAMPTE, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT

Dit is vir navorsers by die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) belangrik dat kleingraanprodusente altyd toegang tot die nuutste, onafhanklike koringinligting het. ‘n Komitee bestaande uit kundiges van die LNRKGI, die universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch, SANSOR, SAB Maltings (Pty) Ltd, die onderskeie departemente van landbou, saadmaatskappye en ander belangrike rolspelers, het gedurende Februarie vergader om hierdie navorsingsresultate te evalueer en aanbevelings op grond van wetenskaplike resultate te maak.

Aangesien die koringplant so ‘n besonderse aanpassing toon en omdat Suid-Afrika so ‘n wye verskeidenheid van omgewings en verbouingstoestande het, plant die Produksiepraktyke-span by die LNRKGI verskeie kultivarevaluasieproewe regoor Suid-Afrika. Nuwe sowel as bestaande kultivars van alle saadmaatskappye word in hierdie proewe onder dieselfde toestande geplant.

Op só ‘n manier kan die kultivars se opbrengspotensiaal, kwaliteit en ander eienskappe dan met mekaar vergelyk word en kan aanbevelings aan produsente gemaak word ten opsigte van watter kultivars die beste in ‘n bepaalde situasie sal presteer.

Hierdie inligting is ook tot elke koringprodusent se beskikking. Die LNR-KGI publiseer jaarliks hierdie kompakte handleiding wat die jongste inligting en resultate ten opsigte van kultivarprestasie, onkruid-, siekte- en insekbeheer asook ander algemene bestuurspraktyke met betrekking tot suksesvolle kleingraanverbouing bevat. Hierdie handleidings stel baie nuttige en duidelike riglyne waarbinne aanbevelings en produksiebesluite behoort gemaak te word.

Dié diens wat die LNR-KGI aan produsente verskaf, is van onskatbare waarde, want elke produsent kan volgens sy eie unieke omstandighede ‘n produksieplan met behulp van die produksiehandleiding daarstel.

Behalwe vir kultivarkeuse, word onderwerpe soos algemene koringbestuur, wisselbouriglyne, grondbewerking, plantvoeding en grondsuurheid asook onkruid-, plaag- en siektebeheer, volledig daarin hanteer. Deur hierdie produksieriglyne sinvol te gebruik, kan die produsent sy hulpbronne optimaal benut om winsgewend en volhoubaar te produseer. Vir elke koringprodusent is die boekie dus ‘n moet! Tydens ‘n opname wat die afgelope jaar onder koringprodusente gedoen is, was dit verblydend om te hoor dat koringprodusente die handleiding as ‘n geweldige belangrike bron van produksie-inlig ting beskou.

Twee afsonderlike handleidings is in Afrikaans en Engels beskikbaar vir die somer- en winterreënvalgebiede onderskeidelik. Danksy finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust, kan die produksiehandleidings gratis aan kleingraanprodusente verskaf word. Ander instansies wat belangstel, kan die handleidings aankoop teen R70 elk.

Die handleidings is tans in proses om gepos te word aan ongeveer 8 000 produsente landswyd en sal ook in cd-formaat beskikbaar wees. Sou jy verkies om die boekie eerder elektronies te gebruik, kontak ons asseblief. Elke jaar kom daar boekies terug na die Instituut as gevolg van verkeerde adresse, verhuisings of posbusse wat gesluit is. Indien jy nie die boekie ontvang nie of jy het intussen van posadres verander, kontak ons ook sodat die nodige veranderinge aan die adreslys aangebring kan word.

Indien die LNR-KGI nie jou naam en posadres het nie, kan jy Elri Burger by (058) 307-3507 of Eveline Mofokeng by (058) 307-3400 kontak. Die handleidings sal ook tydens Graan SA se NAMPO Oesdag van 15 tot 18 Mei by die LNR-KGI se stalletjie in die Microbial Solutions-saal beskikbaar wees.

image

Publication: May 2012

Section: Other Articles

Search