• Login
  • Search Icon

Produksie-insette: Graan SA is só tot lede se diens

April 2014

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Graan SA se missie is om kommoditeitstrategiese ondersteuning en dienste aan sy lede te voorsien om sodoende volhoubaarheid op die plaas te help verseker.

Een van die bene van Graan SA wat bydra tot die volhoubare winsgewendheid van sy lede, is Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep deur middel van die monitering van produksie-insette. Hier word deurlopend gekyk na die prys, kwaliteit en beskikbaarheid van insette.

Hierdie diens het ten doel om te verseker dat lede van Graan SA hul insette deurlopend in die hande kan kry teen die beste moontlike prys vir die regte kwaliteit.

Prys van insette

Graan SA moniteer deurlopend die pryse van plaaslike en internasionale insette. Só kan seker gemaak word dat plaaslike produsente die regte prys vir hul insette betaal en wel sodoende kompeterend kan wees teenoor hul internasionale eweknieë. ‘n Voorbeeld hiervan is die byhou van internasionale kunsmispryse en om die tendense daarvan te vergelyk met wat in die plaaslike kunsmismark gebeur. Waar tendense dramaties van mekaar verskil, kan die redes daarvoor verder ondersoek word en selfs met die plaaslike kunsmismaatskappye opgeneem word. Só het Graan SA al by verskeie geleenthede ongerymdhede in bedrywe uitgewys.

Deursigtigheid en kompetisie word dus hierdeur in die insetomgewing bevorder. Daar word ook deurlopend gepoog om belangrike insetinligting tydig by lede uit te kry.

Insette waarop gefokus word, is saad, kunsmis, landbou-chemikalieë, brandstof en landbou-masjinerie.

Kwaliteit van insette

Graan SA poog dat die insette wat produsentelede aankoop, van goeie gehalte is en dat dit veral aan die wetlike vereistes moet voldoen. Sedert 2000 het Graan SA in samewerking met die Mielietrust en die LNR reeds kwaliteitmonitering van kunsmis en landbouchemikalieë begin doen.

Uit twaalf jaar se resultate was dit duidelik dat hierdie projekte ‘n groot bydrae gelewer het om kwaliteit oor die jare te verbeter.

In terme van kwaliteit staan Graan SA ook sy lede (uitsluitlik lede) by met dispuutoplossings, sou daar ‘n dispuut ontstaan as gevolg van substandaard insette.

Wat wetgewing betref, is Graan SA ook op die voorgrond van onderhandelinge en kommentaar om seker te maak dit beskerm produsente teen insette van ‘n minderwaardige kwaliteit.

Beskikbaarheid van insette

Graan SA poog om seker te maak dat sy lede veral in belangrike tye toegang tot genoeg insette het. Die Organisasie is hier deurlopend met insetrolspelers in kontak oor produsentelede se behoeftes, hetsy dit nuwe behoeftes is of selfs net hoeveelhede van bestaande produkte benodig. Graan SA is selfs op ‘n gereelde basis met die regering in kontak oor nuwe behoeftes om seker te maak dit kan ook regulatories in Suid-Afrika hanteer word.

Om op te som – Graan SA werk hard daaraan om sy lede op die voorpunt van insetprystendense te hou sodat hulle op insetkoste kan spaar. As Graan SA-lede enige vrae het oor insette, kan hulle die bekwame Bedryfsdienste-span by Graan SA skakel, naamlik Petru Fourie, dr Marinda Visser, Wandile Sihlobo en Corné Louw by 08600 47246. Ons is tot jou diens..

Publication: April 2014

Section: Input Overview

Search