• Login
  • Search Icon

Presisieboerdery vir melkkuddes: Die gebruik van maatstawwe om doelwitte te bereik

March 2015

JAPIE VAN DER WESTHUIZEN, SA Stamboek

Suid-Afrikaanse melkprodusente is in die unieke posisie om presisieboerdery in hulle melkkuddes te kan toepas sonder om groot bedrae geld te belê en met min moeite.

Alhoewel basiese deelname aan melkaantekening reeds vir dekades deel is van basiese kuddebestuur en veral genetiese verbetering via metings van bulle se nageslag, maak moderne, omvattende sisteme, soos Logix Melk, dit moontlik vir individuele melkprodusente, tegniese adviseurs, professionele veekundiges, veeartse en ander kundiges om die doeltreffendheid van melkproduksie op vlakke te plaas wat volhoubaarheid verseker.

Met die beskikbaarheid van hierdie omvattende produktiwiteitshulpmiddel word wye moontlikhede vir melkprodusente ontsluit.

Die vereistes van so ‘n stelsel sluit onder andere die volgende in:

  • Wetenskapsgebaseer, herhaalbaarheid en akkuraatheid van metings en inligting.
  • Insluiting van relevante data en metings wat verwerk kan word na praktiese, werkbare en toepaslike inligting.
  • Vrye toegang vir gebruikers, veral vir die melkprodusent self, maar ook sy professionele span wat hom van die regte advies moet voorsien.
  • Buigbaarheid in die tipe en omvattendheid van verslae en aksielyste sodat bestuursaanpassings betyds gemaak kan word. Dit sluit die moontlikheid in dat spesialiste, soos veeartse en voedingskundiges hul eie pasmaak verslae en aksielyste op dieselfde stelsel kan ontwikkel en gebruik om die heel beste advies aan die deelnemende melkprodusente te verseker.
  • Die insluiting van verskillende vlakke van maatstawwe (bench marks) wat gebruikers van die stelsel in staat stel om huidige prestasie in die kudde (totale kudde, verskillende behandelingsgroepe, voedingstelsels, gesondheids- en siektegroepe en individuele diere) te meet en te vergelyk. Hierdie vergelykings stel melkprodusente in staat om planne te maak en sodoende totale kuddedoeltreffendheid op vlakke te plaas wat deur hierdie maatstawwe gestel word.
  • Die stelsel moet melkprodusente in staat stel om besluite te maak op bedryfs- (operational), taktiese (tactical) en strategiese (strategic) vlakke.

Bedryfsvlak

Besluite op bedryfsvlak word gegrond op elke individuele koei se produksie sodat die melkprodusent uitsonderingsbestuur kan toepas. Elke koei in die kudde se produktiwiteit en groepe koeie se reaksie op bestuurspraktyke vorm dus deel van totale kuddeproduktiwiteit en doeltreffendheid. ‘n Sisteem wat maklik toegepas en verstaan word, is die hoeksteen om siekte, swak melkkwaliteit, lae produksie, ondoeltreffendheid en oorspandering hok te slaan.

Taktiese besluite

Taktiese besluite word sodoende gegrond op betroubare data en inligting om melkprodusente by te staan in presisiebesluite ten opsigte van die gesondheid van die kudde, reproduksievlakke, produksie, kuddesamestelling (tans en in die toekoms) en die omgewingsimpak op produktiwiteit.

Strategiese besluite

As gevolg van die feit dat ‘n allesomvattende stelsel van individuele koeivlak opgebou word tot op nasionale vlakke, stel dit gebruikers in staat om ook strategiese besluite te neem op grond van die inligting in die stelsel.

Elke melkprodusent wat deelneem kan dus sy kudde se produktiwiteit (vir elke meetbare eienskap of afgeleide waardes) meet teen enige ander groep kuddes. Hierdie kuddes kan aan een of meer van die volgende vereistes voldoen: Dieselfde tipe bestuurstelsel, dieselfde ras, in dieselfde omgewing of selfs kuddes wat van dieselfde insetverskaffer of adviseur (soos ‘n veearts) gebruik maak.

Uiteraard sal die stel en najaag van maatstawwe sekere prosesse op kuddevlak moet volg. Figuur 2 dui op die logiese pad om te volg.

image

Die belangrikste inligtingsbronne vir die daarstel hiervan is onder andere:

  • Maatstawwe wat gestel word gegrond op biologiese, finansiële, mark en ander bronne.
  • Maatstawwe wat uit die kudde self opgebou word oor ‘n tydperk (met inagneming van seisoenale effekte en aanpassing in voedingsbronne).
  • Maatstawwe wat verkry word deur ander kuddes se prestasies en ander metings te vergelyk sodat die uitvoerbaarheid van die biologiese en ander maatstawwe getoets word.

Figuur 1 stel hierdie interaksie tussen die inligtingsbronne voor.

image

Die eerste vlak waarop die melkprodusent maatstawwe wil toepas, is om bloot met ‘n oogopslag te sien wat in die kudde gebeur. Vir hierdie rede is die tipiese oorsig van groot waarde.

Oogopslagverslae

Figuur 3 is kort uittreksels uit die oogopslagverslae op Logix Melk wat melkprodusente in staat stel om te sien of maatstawwe bereik word. Die betrokke voorbeeld weerspieël die situasie in 'n topproduserende Holstein-kudde van mediumgrootte.

image

Een vinnige waarneming uit Figuur 3 is dat die gesondheidsbestuur, op grond van die hoër persentasie somatiese seltellings, minder as 200 000 verbeter het. Radikale laer produksievlakke in laat laktasie is egter nog ‘n aspek wat moontlik aandag verg.

Figuur 4 is ‘n tipiese voorbeeld waar maatstawwe toegepas word op grond van kuddes wat in dieselfde omgewing en produksiestelsels melk produseer. Uit Figuur 4 kan gesien word dat die betrokke kudde heelwat hoër produksievlakke as die maatstaf-groep handhaaf en ook proporsioneel heelwat minder koeie het wat langer as 300 dae in melk is. Die betrokke kudde vaar dus heelwat beter as die maatstawwe wat hy gestel het.

image

Gesondheidsbestuur

Gesondheidsbestuur is sekerlik een van die belangrikste aspekte vir winsgewendheid van melkproduksie. Een van die belangrikste maatstawwe is die somatiese seltellings in individuele koeie se melk.

Die gemiddelde somatiese selle op kuddevlak het ook ‘n direkte invloed op die produkkwaliteit en dus die prys. Figuur 5 is ‘n voorbeeld van ‘n handige instrument in die hande van die melkprodusent en sy veearts om dadelik te sien of die aanvaarbare biologiese maatstawwe vir seltellings bereik word. Uit Figuur 5 kan gesien word dat die betrokke Jersey-kudde se koeie grootliks voldoen aan die gesondheidsmaatstawwe en dat hulle nie enige uierprobleme ontwikkel het tussen die twee toetse nie.

image

Daar is egter koeie wat opeenvolgend somatiese seltellings van meer as 400 000 (kan ook ‘n ander maatstaf stel, indien die veearts dit vereis). Logix Melk maak dit vir die melkprodusent en sy adviseurs moontlik om hierdie koeie eensklaps op te spoor en aandag daaraan te gee. Figuur 6 is ‘n voorbeeld van hoe die stelsel aangewend kan word om ‘n aksielys saam te stel deur die koeie op te spoor.

image

Figuur 6 spreek vanself. Die gebruiker kan ook die net fyner span deur slegs koeie te identifiseer binne betrokke bestuursgroepe (soos byvoorbeeld net dié wat reeds behandeling ontvang of spesifieke voedingsgroepe, stadium van laktasie en ouderdom).

Voerkoste

Dit is wel bekend dat die enkele faktor wat die grootste invloed het op die koste om ‘n kilogram melk te produseer, voerkoste is. Om hierdie rede word doeltreffendheid in melkkuddes dikwels as marge bo voerkoste uitgedruk.

Maatstawwe wat hier getel kan word, wissel ook op grond van biologiese verwagtings, omsetsyfers of verhoudings, finansiële uitsette relatief tot insette en ander. Die uitset:inset-verhoudings word ook grootliks beïnvloed deur die metaboliese “gesondheid” van die koeie wat moet melk produseer.

Figuur 7 is een voorbeeld waar die metaboliese welvaart van die lakterende koeie gemeet word aan biologiese maatstawwe. Figuur 7 dui aan waarna die melkprodusent moet oplet om te verseker dat hy nie erosieverliese sal lei as gevolg van moontlike metaboliese steurnisse nie. Die biologiese maatstawwe is verder verfyn om rasverskille in ag te neem. Koeie wat vroeg in laktasie is, loop verder die gevaar om nie herbeset te word nie as gevolg van die hoër stresvlakke op hulle.

image

Die twee groot faktore ten opsigte van voer as kostebepalers by melkkoeie, is proteïen en energie. Een van die vele maniere om te bepaal of daar optimaal gevoer word, en dus kostedoeltreffend te wees, is om te let op die individuele en groep-gevoerde koeie se melk-ureum-vlakke. Biologiese maatstawwe geld ook hier en is gegrond op die tydperk tussen voeding (en gevolglike bloedureum-vlakke) en die ureum in die melk (MUN).

Hierdie status is ‘n goeie aanduiding van die effektiewe benutting van proteïen in die voer en of daar nie moontlik ‘n erosie is ten opsigte van kwaliteit en volume voer nie. Hoë MUN-vlakke het bowendien nadelige effekte op die koei se reproduksievermoë en haar algemene gesondheid.

Figuur 8 is een voorbeeld van hoe hierdie biologiese norme ingebou kan word om die melkprodusent in staat te stel om die regte besluite te neem om wins te verhoog en sy koeie se langtermyngesondheid te verseker. Soos in die geval van ander verslae in Logix Melk, kan hierdie verslag ook gegrond word op koeie van verskillende voedingsgroepe, stadia van laktasie of enige ander kriterium.

image

Uit Figuur 8 is dit duidelik dat die betrokke groep koeie hoofsaaklik binne die bepaalde biologiese maatstaf vir MUN val, maar tog effens neig na ‘n ondervoeding van proteïen. Hierdie verslag, saam met ander hulpmiddels, kan die produsent en sy adviseurs help om tydig voedingaanpassings te maak.

Effektiewe kuddelewe

Hoewel daar nog baie ander aspekte van ekonomiese belang is wat aan maatstawwe onderwerp behoort te word, kan een laaste belangrike aspek ook genoem word. Dit is welbekend dat een van die grootste kostefaktore die grootmaak van vervangingsverse is. Effektiewe kuddelewe (gegewe dat koeie gereeld kalf, hoë produksievlakke handhaaf, goedkoop is om te onderhou en 'n kwaliteitproduk lewer) is dus een aspek wat ‘n winsbepaler in melkkuddes is.

Ook in hierdie opsig kan elke deelnemer aan Logix Melk hom meet aan ander kuddes wat onder dieselfde omstandighede as hy melk. Figuur 9 is ‘n goeie voorbeeld van hoe om die maatstaf prakties te gebruik. Die verslag is saamgestel uit die ouderdomsverspreiding in ‘n Oos-Kaapse Jersey-kudde waar die melkprodusent sy kudde met die res van die studiegroep vergelyk het.

image

Dit is duidelik uit Figuur 9 dat die betrokke melkkudde heelwat beter vaar as die res van die groep in sy omgewing en effektief die koste van die grootmaak van sy verse oor ‘n baie langer kuddelewe versprei. Bo en behalwe hierdie geweldige besparing, het dit tot gevolg dat die produsent strenger kan selekteer en ‘n groter aanbod het van diere wat verkoop kan word vir ‘n ekstra inkomste.

Behoorlike meting

Sonder behoorlike meting en die stel van maatstawwe is doelwitstelling nie moontlik nie. Melkprodusente is konstant in ‘n kosteknyptang vasgevang en het oor die algemeen ‘n beperkte invloed op die prysbepaling van hulle produk. Die meeste studies dui verder daarop dat die winsgewendheid van melkkuddes gekoppel word aan doeltreffendheid en nie noodwendig aan melkprys nie.

Dit is gevolglik binne elke melkprodusent se vermoë om maatstawwe te stel om juis vlakke van doeltreffendheid te verhoog. Daar is dus geen verskoning vir enige melkprodusent om nie te meet nie. Individuele stelsels wat data en inligting tot op plaasvlak beperk, bied ook nie moontlikhede vir die gebruik van wyer maatstawwe nie.

Verdere inligting

Vir meer inligting oor hoe ‘n melkkudde deel kan word van die Logix professionele netwerk waar veekundiges, veeartse en ander professionele vakkundiges en tegniese persone saamwerk om maat stawwe vir melkkuddes daar te stel en produsente help om dit te bereik en sodoende volhoubare wins te verseker, kontak Suretha Francis by Suretha@studbook.co.zaof Schalk Greyling by Schalk@studbook.co.za.

Publication: March 2015

Section: Focus on

Search