• Login
  • Search Icon

Politieke ontleding

June 2015

image

'n Institusionele geheue moet ontwikkel word


PIET CROUCAMP, politieke ontleder

Mnr Charl Senekal, ‘n bekende suikerrietprodusent, het onlangs in die spervuur beland omdat hy gesê het slegs ongeveer 100 produsente in Suid-Afrika produseer 80% van die land se voedselsekerheid.

Die ekonoom, mnr Fanie Brink, het intussen standpunt ingeneem ten gunste van ‘n aanname dat ongeveer 20% van die land se produsente vir 80% van voedselsekerheid verantwoordelikheid neem.

Dit beteken dus dat ongeveer 8 000 produsente in terme van die ekonomie van skaal boer en produseer op só ‘n wyse dat die landbou-ekonomie standhoudend kan produseer; alhoewel nie noodwendig op so ‘n wyse dat daar aan die totale vraag na voedsel – onder alle omstandighede – voorsien kan word nie.

Dit is dan ook dié produsente wie se wel en weë die pendulum vir Suid-Afrika kan laat swaai tussen ‘n Zimbabwe-scenario en relatiewe welvaart. Indien die regering hul landboubeleid só formuleer dat hierdie 20% nie volhoubaar kan produseer nie, sal die politieke en ekonomiese nadraai katastrofies vir minstens 5% van die totale arbeidsmag van Suid-Afrika wees en die bruto nasionale produk (BNP) sal onder onhoudbare kontraksie gebuk gaan.

Landbou is een van die min industrieë in hierdie land wat meer uitvoer as wat ons invoer. Die relaas oor grondplafonne en titelaktes raak byna elkeen van hierdie produsente en net meer as 1 000 van hulle sal direk benadeel word deur die vasstelling van grondplafonne wat betref huidige eienaarskap. Dan verwys ons nog nie na die gekwantifiseerde nadele van die negatiewe persepsies betreffende eienaarskap wat ons die wêreld instuur nie.

Die feit dat die regering van tyd tot tyd met die sogenaamde “leierprodusente” om ‘n klein tafel byeenkom, bevestig dat besluit nemers ten minste ‘n bepaalde besef het van die impak van hierdie groep produsente. Die vraag is nou: In watter mate laat hierdie werklikhede die ander 80% van landbouers in Suid-Afrika op droë grond?

Soos dit is, is ons voedselproduksie onder toenemende druk van ‘n groeiende bevolking, nie net in hierdie land nie, maar wêreldwyd; veral in Afrika en in ander ontwikkelende lande. Indien ons kan veronderstel dat die syfer van 8 000 produsente reg is, is dit steeds waar dat daar ‘n dringende momentum is vir die ander 32 000 produsente in Suid-Afrika om deel te word van die “ketting van onontbeerlikes” (die 20% groot of leier voedselprodusente).

Dit is nou ten spyte daarvan dat dit ewe katastrofies vir beide werksgeleenthede en die BNP sou wees indien die 20% produksie van die 80% “middelklasprodusente” uit die sommetjie gehaal word.

Daar is egter ‘n ander ewe belangrike rede hoekom hierdie sogenaamde 20% uiters noodsaaklik is wat die toekoms betref. ‘n Onlangse gesprek tussen my en die wortelprodusent van Tarlton, mnr Vito Rugani, het my weer laat besef wat die waarde is van ‘n landbougemeenskap wat staatmaak op laterale denke.

Rugani se argument is eenvoudig: Landbouproduksie is die konsekwensie van ‘n institusionele geheue waarsonder innoverende denke haas onmoontlik is. Sportpersoonlikhede verwys daarna as muscle memory.

Om die waarheid te sê, dit is juis wanneer hierdie institusionele geheue nie geëer word nie, dat nuwe landbouprojekte of ondernemings tot niks kom nie. Hierdie beginsel geld waarskynlik vir byna elke nuwe onderneming of sektor, maar terwyl landbou so spesifiek in die politieke spervuur is wat beleid betref, is dit dalk ‘n kritieke punt wat gemaak moet word.

Indien daar nuwe toetreders tot die ekonomie van skaal gaan kom in landbou, kan dit waarskynlik primêr net wees uit die sogenaamde “middelklasprodusente”. Indien die staat dus vir die toekoms van landbou wil beplan, sal dit moet wees om van kleinboere middelklasprodusente te maak wat uiteindelik ‘n institusionele geheue kan ontwikkel om tot die som van voedselsekerheid gevoeg te word.

Daar is nie kortpaaie na grond- en landbouhervorming nie. Die sprong van kleinboer na middelklasprodusent is egter ‘n byna onmoontlike opsie omdat kleinboere in ‘n oorlewingsekonomie vasgevang is en die middelklasprodusent reeds in die leefwêreld en milieu van kommersiële produksie funksioneer. Dit is nie logies dat die organisatoriese instinkte en rituele van feodale oorlewing ‘n landbouer noodwendig voorberei vir die “institusionele geheue” wat noodsaaklik is vir kommersiële landbou nie.

Die landbou-ingenieur en produsent van Wildeklawer, mnr Louis de Kock, wys my daarop dat die gemiddelde ouderdom van ‘n produsent in Suid-Afrika ongeveer 62 jaar is. Dit beteken ons in stitusionele geheue is ryk en ruim, maar dalk kom daar nie genoeg jonger produsente in die landbou-ekonomie in om die institusionele geheue standhoudend te maak nie.

Dít is waar ons groot gevaar lê wat die toekoms betref en dalk behoort dit die fokuspunt van grondhervorming te wees: Jongboere en goeie akademiese landboutechnikons is dalk die antwoord.

Só, vir nou is die 20% landbouprodusente wat verantwoordelikheid neem vir ‘n beduidende 80% van ons voedselsekerheid dalk net die mees kritieke deel van ons landboutoekoms en behoort die leierprodusente seker te maak die regering sien dit ook so.

Publication: June 2015

Section: Relevant

Search