• Login
  • Search Icon

Politieke ontleding

November 2014

Voorstel oor grondhervorming onversoenbaar strydig met NOP?

image

PIET CROUCAMP, politieke ontleder

Dit het einde Augustus by monde van die ANC se sekretaris-generaal, mnr Gwede Mantashe, duidelik geword dat die opsie in terme waarvan produsente 50% eienaarskap aan plaaswerkers moet afstaan, nie in die kru vorm soos deur die Minister van Landelike Ontwikkeling, mnr Gugile Nkwinti, voorsien was, afgeforseer gaan word nie.

Nkwinti se voorstel was waarskynlik nooit op enige beleidskomitee van die regerende party of die staat voorgelê nie en is onversoenbaar strydig met die veronderstellings van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). Dit is waarskynlik ook so dat die regering nog nie die NOP behoorlik aan die ANC of enige van die ander twee lede van die alliansie kon verkoop nie.

Cosatu weier steeds volstrek om die NOP by Nedlac te bespreek. Die gevolg is dat die Plan waarskynlik in bepaalde sektore van die ekonomie vaardig kan word en in ander sektore, soos die mynwese, nooit van die grond af kom nie.

Die vraag is: Het georganiseerde landbou die opsie wat Cosatu uitoefen? Met ander woorde, kan ons die Plan verwerp en met 'n alternatief vorendag kom. Ek twyfel, om die volgende redes.

Eerstens is landbou in Suid-Afrika te gekompliseerd en divers om ‘n nuwe kompromie te veronderstel. In die tweede plek het landbou nie die politieke kapitaal van Cosatu om die staat se betrokkenheid te onderhandel nie. Die staat sal die aard en die omvang van die “nuwe” plan wil determineer, omdat dít is wat intervensionistiese state soos dié van Suid Afrika doen, maar ook omdat grond ‘n belangrike konsolidasie-fenomeen binne die party geword het.

Terwyl daar twyfel is of grondhervorming werklik die kapasiteit het om populisties te mobiliseer, is daar goeie rede om te glo dat dit effektief as ‘n bindingsmeganisme in 'n egotistiese patronaatstelsel werk. Grondhervorming is ‘n elite projek, nie ‘n dinamika om die peasantry tot konsensus te bring nie.

Wat georganiseerde en kommersiële landbou betref, is die opsies nie noodwendig legio nie. Indien ons by gebrek aan konsensus nie die ruimte kan vind om ‘n alternatief te beding nie, moet ons dalk inkoop op die mees pragmatiese alternatief en dan ons beperkte bedingingsmag gebruik om bepaalde dimensies van daardie alternatief te plooi tot ons voordeel.

Die NOP bevestig privaat besit van grond. Jy bly die eienaar van jou plaas. Die 20% grond wat vir die doel van hervorming ingekoop word, word bekom in terme van die beginsel van ekonomiese eenhede en nie die verbrokkeling van gevestigde eenhede nie. Die aantreklike en noodwendige opsie van grootskaalproduksie kan ook in so ‘n model ingepas word.

Daar is dus genoegsame diversiteit opgesluit in die NOP vir die komplekse natuur van landbou in die land en die onderskeibare variasies van die spelreëls kan op ‘n ad hoc-basis beding word. Met ander woorde, graanprodusente kan ‘n alternatiewe dinamika beding wat nie noodwendig versoenbaar is met die produksieproses by kleinvee nie.

Publication: November 2014

Section: Relevant

Search