• Login
  • Search Icon

PLAASWEERSTASIES vergemaklik besluitneming

October 2013

HANNES ENSLIN, BVG

Ons is almal bewus van die groot invloed wat die weer op die graanprodusent in Suid-Afrika het. Die grootste risiko vir die produsent en verbruiker in die graanbedryf, is natuurlik die gebrek aan reën op kritieke tye.

Deur die jare heen het allerlei planne na vore gekom – met die uitsluitlike doel om beter besluite te kan neem – maar die mees betroubare was nog altyd om baie deeglik rekord te hou van wat gebeur het en die patrone van die verlede as ‘n riglyn te gebruik. Trouens, die meeste internasionaal erkende voorspellingsmodelle werk op hierdie beginsel.

Rekordhouding was altyd beperk tot handgeskrewe dokumente wat veral deur produsente gebruik is. Ná baie jare se ontwikkeling het outomatiese weerstasies meer betroubaar begin raak en kan nou met baie min onderhoud in stand gehou word.

In die nuutste navorsing word daar meer van satellietdata en lugfoto’s gebruik gemaak om weerdata te versamel. Hierdie tegnologie is nog in die toetsfase en daar is nog baie ontwikkeling nodig om die akkuraatheid daarvan te bepaal en te verseker.

Ondervinding het ons geleer dat produsente en gebruikers graanbemarkingsbesluite neem op grond van gerugte, in plaas van goed nagevorsde inligting. BVG het daarom besluit om ‘n weerstasienetwerk daar te stel waarmee die graanbedryf betroubare, akkurate weerdata op ‘n daaglikse basis kan kry.

image Teen dié agtergrond het BVG ‘n eie unieke produk ontwikkel – ‘n weerstasie vir landboutoepassing wat die volgende metings kan lees:

  • Reënval asook die intensiteit daarvan;
  • Hael se intensiteit;
  • Windrigting en windspoed;
  • Temperatuur;
  • Lugdruk;
  • Humiditeit;
  • Sonstraling-intensiteit; en
  • Boonop word daar daagliks op ‘n bepaalde tyd ‘n foto van die gebied geneem.

Die produk kan selfs aan sensors gekoppel word vir die lesing van blaarnatheid, grondvog en grondtemperatuur op verskillende dieptes.

Daar is geen bewegende dele aan die totale digitale Vaisala Multi-sensor wat deur BVG gebruik word nie en die waardes wat gemeet word, is baie meer akkuraat en betroubaar as die tradisionele instrumente. Veral die reënmeter is baie uniek, want dit skakel onder meer die effek van die wind op die reënvallesing uit.

Die enigste werklike afwykings wat soms waargeneem word, is reënlesings tydens ‘n wolkbreuk óf baie fyn misreëntoestande en dit is as gevolg van die werking van die sensor.

Hierdie weerstasie se hart is ‘n unieke datalogger wat die kommunikasie en werking van die stelsel beheer, met ‘n battery en sonpaneel wat die krag verskaf en via bestaande kommunikasienetwerke aan die sentrale rekenaarstelsel koppel, wat dit weer na die internet vir kliënte en die bedryf beskikbaar stel.

Verskillende opsies is beskikbaar vir die uiteenlopende gebruikers van hierdie weerstasie. Daar is tans reeds 12 stasies in die somergraangebied ontplooi wat uurliks data in vyfminuut-intervalle stuur en dan is daar ook die foto wat geneem word van die area waar die weerstasie staan. Die gedagte rondom die weerstasie is om uiteindelik die produsent en die verbruiker in staat te stel om beter besluite te neem deur akkurate en betroubare inligting te verskaf. Saam met die basiese inligting, wil BVG dan ook die inligting verwerk om ‘n aanduiding te gee van die impak wat die weer op die oes het.

Om die basiese weerinligting van die situasie in Suid-Afrika aan te vul, het ons ook ‘n internasionale weerverslag wat weekliks verskyn en dan kyk ons ook in besonder na die impak van El Niño en La Niña (wat die gevolg is van die ENSO-verskynsel) op die weer – hierdie verslag verskyn ongeveer twee keer per maand, wanneer die internasionale verslae beskikbaar is.

Al hierdie nuttige inligting is uiteindelik op die webtuiste beskikbaar teen ‘n baie billike tarief. BVG wil jou as rolspeler in die mark bemagtig om op ‘n ingeligte basis jou graanbemarkingsbesluite te neem.

Publication: October 2013

Section: Other Articles

Search