• Login
  • Search Icon

Plaaslike wêreldklas tegnologiesentrum verbeter kultivarteling in Afrika

September 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

Die R100 miljoen Afrika-streektegnologiesentrum naby Delmas waarin DuPont Pioneer in 2013 begin investeer het, kan vergelyk word met ander wêreldklas DuPont tegnologiesentrums in die VSA, Brasilië, Indië en China.

Dié sentrum, wat amptelik in Mei vanjaar geopen is, is een van die grootste investerings ten opsigte van navorsing en ontwikkeling wat DuPont die afgelope vier jaar onderneem het.

Gevorderde tegnologieë soos dubbel haploïede, fotometrie en die ge­patenteerde Pioneer Versnelde Gewastegnologiestelsel (Pioneer Accelerated Yield Technology [AYT] System) word in hierdie sentrum gebruik. Hierdie tegnologieë verleen ondersteuning om teelsiklusse te verkort en verbeter dit akkuraatheid ten opsigte van telingsdoelwitte (onder andere verbeterde droogteverdraagsaamheid, plae en siekteverdraagsaamheid, asook verbeterde opbrengs met be­perkende insette).

Buiten ‘n tegnologiesentrum op die perseel, is daar ook ‘n insektaria – die grootste privaat insektaria in Afrika – waar eienskappe ontwik­kel word om plaaslike vernietigende plae te bestuur.

“Die mikro-omgewing bly onder druk, maar ons sien die investering as ‘n onmisbare geleentheid vir ons besigheid om innoverende produkte vir die landelike gemeenskap te lewer, om só te help met volhoubare voedselsekerheid, het mnr Alejandro Munoz (vise­president: Wêreld Kommersiële Besigheid, DuPont Pioneer) gesê tydens die amptelike opening van die sentrum.

Volgens Munoz skep die ontwikkelende behoeftes van hul kliënte, tesame met die toenemende bevolkingsgroei, ‘n groter behoefte om produktiwiteit in die landbou te verbeter. “Ons is uniek geposisioneer om dié wêreldwye bekommernisse en uitdagings aan te spreek,” het hy gesê.

Die ligging van die tegnologiesentrum beklemtoon die feit dat Suid-Afrika ‘n belangrike sentrum vir DuPont se navorsing, besigheid en vervaardiging is. “Die sentrum sal plaaslike oplossings bied, deur wêreldwye wetenskap te gebruik,” het hy gesê.

DuPont is duidelik verbind tot navorsing en ontwikkeling, omdat hulle jaarliks meer as 800 miljoen dollar daarin investeer, wat be­teken dat hul navorsingsfasiliteite elke dag meer as 2 miljoen dollar bestee.

“Ek het die geleentheid gehad om ‘n groot aantal van DuPont se navorsingsentrums regoor die wêreld te besoek en nie een is dieselfde nie, maar elkeen is ‘n voorbeeld van die kragtigheid van ons wetenskaplike vermoëns. Plaaslike probleme dryf ons navorsingsfokus en plaaslike produkontwikkeling. Hierdie nuwe sentrum bou voort op dié ontwikkeling,” het Munoz gesê.

Mnr Prabdeep Bajwa (streeksdirekteur: DuPont landboubesigheid, Afrika en Midde-ooste) het gesê Afrika sal ekonomies geweldig vinnig oor die volgende paar jaar groei. “35 miljoen hektaar in Afrika produseer tans minder as 2 t/ha graan. Daar is uitdagings, maar die groot geleentheid wat Afrika kan bied, is die ‘per hektaar’ en dit is waar DuPont inkom.

“Indien jy die produktiwiteit van die land verbeter, verbeter jy nie net die volhoubaarheid van landbou nie, maar ook die lewensbestaan van landelike gemeenskappe. Dít is wat DuPont opgewonde maak en daarom verbind ons onsself elke keer opnuut om in Afrika te investeer,” het Bajwa verduidelik.

Publication: September 2017

Section: Relevant

Search