• Login
  • Search Icon

Plaaslike kwaliteit van die 2012/2013-sojaboonoes bekyk

August 2014

JOLANDA NORTJÉ, bestuurder: Laboratorium, Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium

Sojabone lewer tans die derde grootste bydrae tot die bruto waarde van landbouprodukte ná mielies en koring in Suid-Afrika. Plaaslike persaanlegte brei vinnig uit en siende dat Suid-Afrika meer as die helfte van Afrika se sojabone produseer, is dit baie belangrik dat goeie kwaliteit sojabone plaaslik geproduseer word.

image

In totaal is 150 monsters, wat die soja-oes proporsioneel verteenwoordig, gegradeer en geanaliseer tydens hierdie kwaliteitsopname. 95% van die monsters is as Graad SB1 gegradeer en agt is afgegradeer na klas ander sojabone (KASB). Sien Tabel 1 vir 'n samevatting van die graderingsresultate verkry op ‘n seleksie van die graderingsfaktore.

image

Van die monsters wat ontleed is vir die oesopname, is 15 ook getoets vir die teenwoordigheid van die CP4 EPSPS-geen (Roundup Ready) wat genetiese modifisering aandui. Die Envirologix QuickComb-toets is uitgevoer en al die monsters het positief getoets.

Sojabone is een van net ‘n paar tipes plante wat ‘n uitstekende kwaliteit proteïen voorsien en vorm wêreldwyd die hoofbron vir dierlike voedingsproteïene. Van die 748 318 ton sojabone in Suid-Afrika geprosesseer gedurende hierdie seisoen, is 3,6% aangewend vir menslike verbruik, 21,6% vir dierevoer en 74,8% gepers om olie en oliekoek te produseer. Die hoeveelheid sojabone gepers, het meer as verdubbel sedert die 2010/2011-seisoen. Die proteïen-, vet- en as-waardes word gerapporteer as persentasies (g/100 g) op 'n droë- of vogvrye basis (db). Die gemiddelde proteïeninhoud hierdie seisoen was 40,63% – 1,2% hoër as in die 2011/2012-seisoen.

Die gemiddelde vetinhoud van 18,8% stem baie goed ooreen met die 18,7% van verlede seisoen. Die as- of minerale inhoud van die twee seisoene is feitlik identies – hierdie seisoen 4,65% en die vorige seisoen slegs 0,03% laer. Sien Grafiek 3 tot Grafiek 5 vir die gemiddelde proteïen-, vet- en as-inhoud per provinsie oor twee seisoene.

imageimage

imageimage

Die finale produksiesyfer vir die 2012/2013-sojaboonoes is vasgestel op 784 500 ton wat 'n 21% of 134 500 ton toename is vanaf die 2011/2012-seisoen. Hierdie styging in tonnemaat is moontlik gemaak deurdat die hoeveelheid landbougrond onder sojaverbouing toegeneem het tot 516 500 hektaar.

Die opbrengs het ook toegeneem van 1,38 ton/ha tot 1,52 ton/ha. Mpumalanga en die Vrystaat was verantwoordelik vir die produksie van 75% van die totale oes.

Vir meer inligting aangaande die plaaslike soja-oeskwaliteit, kan jy die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium se webtuiste besoek by www.sagl.co.za. Die verslae is ook hier beskikbaar in PDF-formaat.

Met dank aan die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust wat hierdie kwaliteitsopname moontlik gemaak het asook die Graan Silo Industrie en sy lede vir die neem en instuur van verteenwoordigende monsters.

Publication: August 2014

Section: On farm level

Search