• Login
  • Search Icon

PEULAALWURM: 'n Tydbom in grondboonsaad

February 2016

SONIA STEENKAMP, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Peulaalwurm is rateltaai, perfek aangepas vir ons omge wings toe stande in die grondboonproduksiegebied en die oorsaak van groot hoofpyne vir almal wat met grondbone te doen het.

Hierdie aalwurmspesie is tot dusver die enigste aalwurmspesie in Suid-Afrika wat saadgedraagd is en kom by enige plek waar grondbone geplant word, voor. Klaarblyklik is peulaalwurm inheems, maar van ons buurlande se grondbone het al simptome getoon wat baie na peulaalwurmskade lyk.

Simptome van peulaalwurmbesmetting

Peulaalwurm rig net skade aan grondbone aan. Hierdie aalwurm is verder uniek omdat hy, anders as die ander plant-parasitiese aalwurmspesies wat ook op grondbone voorkom, geen tipiese bogrondse simptome soos vergeling of verlepping van die plante toon nie (Foto 1). Dit is eers wanneer die produsent sy grondbone met oestyd begin lig, wat hy agterkom dat dit glad nie so goed gaan nie.

Die eerste simptome van peulaalwurmbesmetting wat die produsent sal kan sien, is by die aanhegtingspunt van die peul aan die anker (Foto 2). Dit is waar die peulaalwurm hoofsaaklik in die peul indring, waarna dit deur die vaatbondels van die dop tot binne in die saad beweeg (Foto 3).

PEULAALWURM: 'n Tydbom in grondboonsaad

Daar waar peulaalwurms die aanhegtingspunt tussen die peul en anker binnedring, be skadig en verswak hulle die selle. Sodra die peule dan gelig word, breek dit af en bly in die grond agter. As ‘n land swaar met peulaalwurm besmet is, kan die produsent 40% tot 60% van sy oes op dié manier verloor.

Die grootste effek wat peulaalwurm egter op grondbone het, is kwalitatief. Hulle vreet aan die saadhuid van die grondboonpit en die vaatbondels wat net onder die saadhuid voorkom. Dit veroorsaak dat die are op die saad donkerder word (as daar erge besmetting is [Foto 4]). Boonop veroorsaak hulle voedingsaksies op die saadhuid sodat chemiese stowwe wat verhoed dat die saad te vroeg ontkiem, uitlek.

Saad begin dus te kiem, soms nog voordat dit geoes kan word. As mens in ‘n peulaalwurmbesmette land loop nadat die hopies gepak is, is daar oral opslagplantjies van saad wat vroeg reeds begin kiem het. Al hierdie simptome veroorsaak dat die saad nie meer so aantreklik is nie en die persentasie ongesond, gevlek en vuil (OGV) van die grondboonbesending neem toe. Met erge peulaalwurmbesmetting kan ‘n besending tot persgraad afgegradeer word.

Ekonomiese implikasies

Die ekonomiese implikasies van die skade wat deur peulaalwurm aangerig word, verskil van seisoen tot seisoen omdat die prys van elke grondboonklas van seisoen tot seisoen verskil. Die verskil tussen die bedrag wat vir keurgraad verdien word en dít wat vir persgraad verdien word, dui die presiese ekonomiese skade wat hierdie aalwurm per ton aanrig aan. Peulaalwurm is dus ‘n wesenlike bedreiging vir die produsent en vir die grondboonbedryf.

Só oorleef hulle

As daar nie grondbone beskikbaar is nie, kan peulaalwurm op enige ander gewas wat met grondbone afgewissel word, in klein getalle oorleef. Hulle oorleef ook op onkruide wat algemeen in grondboonlande voorkom. In die wintermaande oorleef hulle hoofsaaklik in eiers, maar van die volwassenes kan ook in die grondboondoppe en -peule wat in die lande agterbly, oorwinter.

Lewensloop

Wat hierdie aalwurm so gevaarlik maak, is die feit dat sy lewensloop baie kort is (slegs sewe dae vandat die eier uitgebroei het totdat die uitgebroeide wyfie weer in staat is om nuwe eiers te lê). Om sake te vererger, sal minstens 90% van die eiertjies wat gelê is, uitbroei.

Beheer

Die beheer van peulaalwurm is baie moeilik. Anders as die ander plant-parasitiese aalwurms wat op grondbone parasiteer, begin die peulaalwurmbevolking eintlik eers om te ontplof as die plant begin ankers stoot.

imageTeen daardie tyd val dit reeds in die weerhoudingstydperke van die meeste aalwurmdoders en kan hulle dus ongehinderd aanteel. Wisselbou het ook nie ‘n effek nie omdat hulle wel in klein hoeveelhede op ander gewasse kan oorleef.

Hulle kort lewenssiklus en uitbroeisukses van die eiers verseker dat hulle skadelike vlakke aan die einde van die seisoen kan bereik al is daar net ‘n paar aan die begin van die seisoen teenwoordig. Ongelukkig is daar ook geen peulaalwurmweerstandbiedende grondboonkultivar op die mark beskikbaar nie.

Publication: February 2016

Section: Focus on

Search