• Login
  • Search Icon

Papierwerk kan baie trane spaar

December 2011

image

PIETMAN BOTHA, SENIOR LANDBOUNAVOR SINGS KUNDIGE, GRAAN SA

Baie produsente het hulself al in ‘n verknorsing bevind deur op kontrakteurs staat te maak, maar in dieselfde asem het baie kontrakteurs hulself ook in ‘n verknorsing bevind omdat produsente hulle nie betaal het nie.

In die meerderheid van hierdie gevalle is die ooreengekome spesifikasies nie op skrif gestel nie, of die kontrak was nie voldoende nie.

Dit is al telkemale gesê dat goeie buurmanskap deur ‘n goeie draad verseker word, maar indien ‘n buurman as gevolg van ‘n ontydige breek in ‘n kritieke tyd in die moeilikheid is, kan hulp aan die buurman tot beter buurmanskap aanleiding gee.

Hierdie goeie dade moet egter nie misbruik word nie, want dit veroorsaak slegte buurmanskap. Die vraag kan nou met reg gevra word: Hoe vergoed ek my buurman as hy my in ‘n kritieke tyd kom uithelp het? Hier sal elke produsent self moet besluit, maar ‘n goeie norm is om ‘n masjineriekostegids te raadpleeg en die buurman ten minste hiervolgens te vergoed.

Beskryf ooreengekome spesifikasie volledig

Indien ‘n kontrakteur aangestel word om take te verrig, is dit belangrik dat ‘n volledige kontrak opgestel word wat die ooreengekome spesifikasie volledig beskryf.

Die spesifikasies vir die kontrakteur moet nie alleen beskryf word nie, maar ook wanneer, hoeveel en waarvolgens (byvoorbeeld per hektaar of per uur) die produsent moet betaal. Dit is belangrik dat hierdie document so geteken en deur albei partye bewaar word dat dit in die geval van twis in ‘n hof as bewysstukke ingedien kan word.

Verder is dit ook belangrik dat daar in hierdie ooreenkomste aangedui sal word watter aksies geneem sal word as ‘n party, om welke rede ook al, nie by die ooreenkoms hou nie. Die effek van gevolglike skade moet ook aangespreek word. Dit is net so belangrik dat produsente sowel as kontrakteurs sal aandui hoe, wanneer, waar en deur wie kwaliteitskontrole uitgeoefen sal word.

Tydsduur

Kontrakteurs kan maklik in die strik trap om aksies so vinnig as moontlik uit te voer en nie die taak volgens spesifikasies te doen nie. Dit is die taak van die produsent om seker te maak dat daar binne die ooreengekome spesifikasies gehandel word.

Hiervoor is dit belangrik dat ‘n produsent self sal bepaal hoe lank dit ‘n kontrakteur behoort te neem om ‘n aksie uit te voer. Dit kan maklik gedoen word deur die tyd te meet wat dit neem om ‘n gedeelte te bewerk en sodoende die uur per hektaar te bepaal.

Hierdie syfers kan ook met kostegidse soos die Guide to machinery cost, wat jaarliks deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye uitgegee word, vergelyk word. Indien die kontrakteur weet dat produsente kennis dra van hoeveel gedoen kan word, sal dit tot beter wedersydse vertroue lei.

Voorsiening van brandstof

Die voorsiening van brandstof is ook ‘n belangrike aspek wat gespesifiseer behoort te word. Word die aksie op ‘n droë of nat basis gedoen? Dit moet gespesifiseer word.

Onthou net dat hierdie stap sal bepaal of die dieselrabat geëis kan word of nie. Aspekte soos wanneer die diesel waar moet wees asook wie se verantwoordelikheid dit is, moet ook uitgeklaar word.

Sommige kontrakteurs verkies dat die brandstof deur hulself aangery word en dat die kliënt sal reël dat hulle die brandstof by ‘n spesifieke plek kan kry.

Dit sal ook raadsaam wees om voor die tyd uit te vind hoeveel diesel die kontrakteur per hektaar sal benodig sodat daaroor ook kontrole uitgevoer kan word. Indien daar eweskielik baie meer diesel gebruik word, sal dit ‘n aanduiding wees dat die diesel nie noodwendig in die trekker of stroper opeindig nie.

Verskuiwing van toerusting

Daar moet ook ooreengekom word wie betaal om die toerusting van die vorige kliënt na die huidige te verskuif. Moet die kontrakteur byvoorbeeld die stroper vol verskaf en moet die kliënt die stroper weer vol aan die kontrakteur afgee?

Breuke

Breuke kom nie net by eie toerusting voor nie. Kontrakteurs ervaar ook breuke op hul toerusting wat veroorsaak dat hulle staan. Dit kan tot nadeel van albei partye wees.

Dink maar aan sojabone wat begin uitspring en gestroop moet word terwyl die kontrakteur se stroper stukkend staan. Maak in die kontrak voorsiening vir wie hierdie verlies moet dra.

Wees net altyd billik, soms kan die kontrakteur nie hiervoor voorsiening maak nie. Miskien is die uitneem van versekering hiervoor nie ‘n slegte idee nie.

Wie is waarvoor verantwoordelik?

Produsente moet ook seker maak waarvoor hulle verantwoordelik is. Kom ons veronderstel daar kom ‘n wegholbrand en die kontrakteur se stroper brand uit. Wie is hiervoor verantwoordelik?

Of die stroper slaan aan die brand en ‘n gedeelte van die ongestroopte land en die buurman s’n brand ook af, wie staan hiervoor pa?

‘n Verdere voorbeeld is as die kontrakteur die gestroopte graan wegry en sy wa vol graan val om, wie dra hierdie skade van die graan wat nou op die grond lê?

Ook is dit belangrik dat aspekte soos stroophoogte en stroopspoed veral in sojabone en koring vasgestel word. Indien hier ‘n fout kom, kan dit ‘n baie duur fout wees. Maak ook voorsiening vir wat gedoen gaan word indien dit nie moontlik is om teen die ooreengekome spesifikasies die werk te lewer nie.

Hoe lyk die kontrakteur se program?

By aksies waar tydigheid belangrik is, moet op ‘n manier ooreengekom word wanneer die werk sal kan begin. So kan ‘n kontrakteur dalk eerder die groot kliënte diens en nie baie aandag aan ‘n kleiner kliënt gee nie.

Dit is dus belangrik om die kontrakteur se program te bekom sodat produsente kan bepaal wanneer daar begin sal word. Poog om by kontrakteurs ‘n lys te kry van waar orals gewerk gaan word. Op dié manier kan daar gesorg word dat wanneer jy die aandag moet kry, jy dit wel kry.

Basiese vereistes vir werkers

Baie keer is die kontrakteur se mense lang tye van die huis af weg. Vind uit hoe jy aan hierdie mense se basiese behoeftes kan voldoen. Miskien sal dit raadsaam wees om hulle van kos te voorsien en dit dalk vir hulle te laat voorberei. Dis mos bekend dat geen soldaat met ‘n leë maag kan oorlog maak nie.

Goeie verhoudinge

Indien jy as produsent op ‘n langtermynbasis van kontrakteurs gebruik gaan maak, sorg dat daar ‘n goeie verhouding tussen jou en die kontrakteurs gebou word. Kontak hulle vroegtydig en gee die nodige inligting deur sodat die kontrakteurs ook hul beplanning kan doen.

Maak voorsiening om die papierwerk op te stel met die vereistes waaraan die kontrakteur moet voldoen, maar maak terselfdertyd voorsiening om die kontrakteur te kan betaal. Dit sal soms raadsaam wees om só ‘n kontrak deur ‘n prokureur te laat opstel sodat alle partye beskerm kan word.

Die publikasie Guide to machinery cost kan vanaf die Direktoraat Kommunikasie Dienste by (012) 319-7141 bestel word. Ander bronne wat ook kostegidse vir masjinerie publiseer, is die landbou besighede soos NWK, Senwes, GWK en VKB. Daar is ook privaat per sone wat die kostegidse publiseer, soos Koos le Roux en hy kan gekontak word by koosleroux@absamail.co.za.

Publication: December 2011

Section: Input Overview

Search