• Login
  • Search Icon

PAP EN VLEIS OF STEENKOOL EN KOOL?

December 2011

image

Teen die tempo wat die staat oopgroefsteenkoolmynlisensies in Mpumalanga uitdeel, sal ons binnekort die tradisionele spyskaarte in die land moet aanpas. Mielie- en sojahektare word onseremonieel bloot net in steenkoolmyne verander. Ek verstaan dat die diamantdelwers in die weste nie ver agter hulle steenkoolmaters is nie.

Mynboulisensies word uitgedeel soos stokkielekkers in die weeshuis. Dit bring tydelike kitsmiljoenêrs tot stand, maar dit maak nie die arm mense in hierdie land se mae vol nie. Dit herinner amper aan ‘n ander bekende beeld van “soet in die mond, maar bitter in die maag.”

Die lukrake wyse waarop die meeste omgewingsimpakstudies gedoen word, getuig van blatante onprofessionalisme in ‘n beroep wat bereid is om nie net hulle eie siele te verkwansel nie, maar ook dié van ons kinders in hierdie land.

Die duisende hektare ongerehabiliteerde myngrond gaan jare neem om weer te herstel en opgebou te word om in produksie te kom. Dit is skandelik! Om hierdie gronde weer op te bou, kos baie meer as om dit in stand te hou, wat nog te sê van mededingend daarop te produseer.

Die beperkte akkerbougronde in Suid-Afrika word letterlik van alle kante aangeval: mynbou, grondeise, verstedeliking, industriële ontwikkeling, kriminele elemente en klimaatsverandering. Geen wonder daar is so min mense wat ‘n langtermyntoekoms in voedselproduksie sien nie.

Tegnologiese verbeterings kan nog gebruik word om die impak van klimaatsveranderinge teen te werk, maar teen die ander elemente is daar ‘n politieke wil nodig, anders gaan dit die situasie oorweldig. Pap en vleis gaan vervang word met kool en steenkool op ons tafels.

Ek kon nog nooit regtig kool in my lyf kry nie. Party sal sê dat ek dan nog nooit honger genoeg was nie. Hoe dit ook al sy, wat steenkool betref, staan ek nie alleen nie. Niemand kan dit eet nie. So, al trek ‘n paar bevoorregte mense reuse-voordeel daaruit om jaarliks miljoene tonne steenkool aan die alewige “honger” Sjina te lewer, neem jy letterlik kos uit duisende Suid-Afrikaners se monde – ten spyte daarvan dat steenkool dalk polities korrek lyk.

Waar en wanneer gaan ‘n politieke leier opstaan, deur al die stof en roet van Mpumalanga kyk en sê: “Genoeg is genoeg, waarvan gaan ons kinders leef?” Ons oë is oral op die aarde om te sien wie gaan hand opsteek. As alle visse bloot net stroom-af swem, smaak dit vir my almal is dood. Leierskap is om die regte ding te doen – polities korrek of te nie.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: December 2011

Section: Editorial

Search