• Login
  • Search Icon

Pannar en Pioneer besig om implementeringsfase te beplan

March 2013

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

In September verlede jaar het DuPont Pioneer, een van die wêreld se voorste landbou-ondernemings en Pannar Saad, ’n Suid-Afrikaanse saadmaatskappy met bedrywighede regdeur Afrika en ander dele van die wêreld, bevestiging ontvang dat hulle kan voortgaan met die transaksie waarin Pioneer ’n meerderheidsaandeel in Pannar Saad bekom. Dit volg nadat die mededingingsappèlhof van Suid- Afrika ’n aansoek deur die Mededingingskommissie verwerp het wat geappelleer het teen verlof van die mededingingsappèlhof op 28 Mei verlede jaar, wat die samesmelting goedgekeur het.

SA Graan/Grain het met Deon van Rooyen (besturende direkteur: Pannar Saad, Suid-Afrika) gaan gesels om uit te vind waar hulle tans met die transaksie tussen Pioneer en Pannar Saad staan en hoe dit produsente raak.

Waar staan die proses nou?

Ons het in Oktober 2012 finale regulatoriese goedkeuring vir die transaksie gekry. Ons het sedertdien op hoë vlak met Pioneer interaksie gehad om die sluiting van die transaksie in 2013 en die implementeringsfase te begin beplan. Daar is nog heelwat werk wat in hierdie verband gedoen moet word en gereelde kommunikasie en wedersydse oorsese besoeke deur sekere sleutelpersoneel vind tans plaas. Totdat sluiting van die transaksie afgehandel is en Pioneer die meerderheidsaandeel in Pannar bekom, sal Pannar voortgaan met sy huidige aandeelhouers, direksie en bestuur en onafhanklik van Pioneer bedryf word.

Hoe raak die transaksie Pannar en Pioneer?

Die maatskappye kompeteer voluit en opereer heeltemal afsonderlik van mekaar. In die toekoms voorsien ons wel samewerking waar toepaslike sinergieë bestaan, veral aan die genetika en navorsingskant. Die voorneme is om in die toekoms die kommersiële aktiwiteite van beide maatskappye en handelsmerke te stimuleer en uit te brei.

Hoekom is dit gedoen?

Die verbintenis met DuPont Pioneer sal vir Pannar toegang tot Pioneer se wêreldwye genetiese hulpbronne meebring, wat ons met ons eie Afrika-genetika kan kombineer asook toegang tot die nuutste teel- en navorsingstegnologieë wat tans beskikbaar is. Op sy beurt kry Pioneer toegang tot Pannar se genetiese materiaal wat merendeels vir Afrika ontwikkel en hier aangepas is. Pioneer sal ook voordeel trek uit Pannar se aansienlike voetspoor in Afrika, insluitende infrastruktuur, ons handels naam en handelsmerk en natuurlik ons personeel.

Hoe lyk die struktuur van die organisasie nou?

Veranderinge in die struktuur kan eers plaasvind nadat die sluiting van die transaksie afgehandel is.

Gaan Pannar en Pioneer steeds al hul produkte apart bemark?

Ja, die voorneme is dat die twee kommersiële besighede hulle eie produkreekse afsonderlik sal bemark.

Gaan van die produkte se name verander?

Daar word nie voorsien dat huidige produkte se name sal verander as gevolg van die vennootskap nie. Die voorneme is om unieke, uitmuntende produkte vir albei maatskappye te ontwikkel wat dan onder die toepaslike handelsmerke en name aan produsente beskikbaar gestel sal word.

Hoe raak dit produsente?

Produsente sal steeds Pannar of Pioneer se unieke produkte van die toepaslike maatskappy kan koop, direk of deur dieselfde verteenwoordiger of voorraadhouer wat hulle in die verlede bedien het.

Watter voordele hou dit vir produsente in?

Ons glo dat die produsent in die geheel gesien, ‘n wyer, hoogsmededingende keuse en pyplyn van voorslagkultivars en dienste sal geniet as in die verlede. Dié kultivars sal natuurlik voortspruit uit en gerugsteun word deur wêreldklasnavorsing en van die beste, gekombineerde genetiese hulpbronne beskikbaar.

Aanvullend tot die belegging in Pannar, het Pioneer onderneem om teen 2017 ‘n verdere R62 miljoen te belê om ’n streeksnavorsingsentrum in Suid-Afrika te vestig ten einde gevorderde navorsingstegnologieë na Afrika toe te bring en hierdie tegnologieë in die teelproses, met die maatskappye se komplimentêre kiemplasmabronne, aan te wend.

Die navorsingsentrum sal soortgelyk aan sentrums wees wat Pioneer in Brasilië, Indië en China tot stand gebring het en sal aan Suid-Afrika die geleentheid bied om ’n toonaangewende rol in landbou-ontwikkeling te speel, nie slegs in Suid-Afrika nie, maar ook op die breër Afrika-vasteland.

Pioneer en Pannar het hulle verder daartoe verbind om saam met gemeenskappe, die regering en ander groeperinge te werk om programme te ontwikkel om die uitdagings waarvoor kleinskaal- en ontwikkelende boere te staan kom, aan te spreek, en sodoende hulle totale boerderyproduktiwiteit, winsgewendheid en voedselsekerheid te verhoog.

Pioneer het onderneem om oor die volgende agt jaar R20 miljoen in programme gerig op ontwikkelende boere in Suid-Afrika, te belê, aanvullend tot sy huidige aktiwiteite in hierdie marksegment.

Hoe raak dit saadpryse? Baie markkommentators beweer dat dit die saadpryse uitermatig kan laat styg as gevolg van die ooreenkoms

Saadpryse sal nie uitermatig styg as gevolg van die ooreenkoms nie. Ons glo dat daar verhoogde mededinging in die mark sal wees, wat positief, eerder as negatief, op saadpryse sal inwerk. Die moontlike effek op saadpryse is wel deeglik deur die mededingingsappèlhof in aanmerking geneem, voordat hulle die transaksie goedgekeur het.

Ná deeglike oorweging, het die hof bevind dat die effek op saadpryse minimaal sou wees en dat enige moontlike styging in elk geval deur die voordele van die transaksie geneutraliseer sou word.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search