• Login
  • Search Icon

Pa, hierdie een is vir jou!

November 2014

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker; Foto's: HELENUS KRUGER

“Ek sou beslis nie vanaand agter die podium kon staan, as dit nie was vir die inspirasie, leierskap en leiding wat my pa, Carey, in ons besigheid ingesit het nie asook vir die vertroue wat hy in my en my broer, Garth, gestel het nie. Pa, hierdie een is vir jou, ons is lief vir jou!”

Só het Richard Hobson van Setlagole in die Noordwes Provinsie gesê, nadat hy aangewys is as die Graan SA/Syngenta Graan produsent van die Jaar 2014.

“Elke produsent kan definitief nie staan voor ‘n gehoor soos vanaand sonder ‘n regterhand nie. Ek wil hierdie oomblik neem om vir Paula, my vrou, te bedank vir al haar insette, geduld, harde werk, liefde en vir die wonderlike ma wat sy vir ons kinders is.

“Ek wil ook vir Graan SA bedank vir die wyse waarop die beoordeling van hierdie kompetisie gedoen is. Dit was voorwaar 'n ongelooflike ervaring.

“Laastens, maar nie die minste nie, wil ek ons Hemelse Vader dank wat vir my die talent gegee het om te kan wees wie ek is en om my passie dag in en dag uit te kan uitleef,” het hy sy bedankingstoespraak afgesluit.

Hobson het in 2000 saam met sy pa, Carey, op die plaas Papiesvlakte begin boer. Met die aankoop van Nonen Ranch, op Setlagole, gedurende 2002 het Hobson volle verantwoordelikheid van die boerdery oorgeneem en intussen het die boerdery aansienlik uitgebrei. Botselo Farming is deel van Botselo Holdings wat ook Botselo Mills, Botselo Grain en Botselo Carriers insluit.

Om die groep se investering in die maalbedryf te maksimaliseer, is die gewasproduksie se fokus op mielies. Hobson maak seker dat die grond opgebou en bewaar word, wat al hoe meer die fokus op geenbewerking plaas. “Minimumbewerking is waar ons tans is en ons probeer voortdurend ons hoeveelheid verbouing verminder,” het hy op die finaliste DVD, wat gedurende die aand vertoon is, gesê.

Van die grond tot by die verbruiker, het die Hobsons se investerings ‘n impak regdeur die gemeenskappe waar hulle operasioneel is. Tussen die boerdery- en waardekettingwerksaamhede het Botselo Holdings 650 mense in diens.

Deur mielies direk by die produsente aan te koop, het hulle die geleentheid vir produsente oopgemaak om direk betrokke te raak in die waardeketting en te onderhandel vir ‘n billiker prys.

Buite die besigheidsomgewing, is die Hobsons tans ook besig om ‘n kerk in die plattelandse gemeenskap te bou en hulle het onlangs ‘n ouetehuis opgegradeer en opgeknap. Tussendeur al die bedrywighede op en buite die plaas, is daar altyd tyd vir familie – dit is mos immers 'n familiebesigheid!

image

Publication: November 2014

Section: Grain SA

Search