• Login
  • Search Icon

Optimale kuddestruktuur vir 'n winsgewende beesboerdery

October 2014

CHARL HUNLUN, SA Stamboekvereniging

Vroulike diere in ‘n vleisbeeskudde se ouderdomstruktuur speel ‘n baie belangrike rol in die inherente vermoë van die kudde om winsgewend te kan produseer. Verskeie bestuursfaktore het ‘n direkte invloed op die vrugbaarheid van die kudde. Vrugbaarheid, of te wel die reproduksietempo van die koeie, het weer op sy beurt die grootste bepalende invloed op die ouderdomstruktuur van die vroulike diere in die kudde.

imageVleisbeeskoeie se produktiwiteit verskil by verskillende ouderdomme of pariteite (pariteit = aantal kalwers gebore). Die gemiddelde tussenkalf-periode van vleisraskoeie in Suid-Afrika, na gelang van die kalwingsnommer, word in Grafiek 1 uitgebeeld.

Tweedekalf-koeie se gemiddelde tussenkalf-periode (die TKP tussen die eerste en tweede kalf) is ongeveer 420 dae. Vleisraskoeie het tipies die laagste gemiddelde tussenkalf periodes vanaf hul vyfde tot hul twaalfde pariteit – gemiddeld minder as 402 dae, met 'n gemiddelde tussenkalf-periode van ongeveer 398 dae vir alle kalwings tussen die vyfde en twaalfde kalwing. Hieruit volg dit dus dat vleisbeeskoeie meer produktief raak namate hulle ouer word, tot ongeveer hul negende kalf en dan weer minder produktief is namate hulle ouer word.


imageDie gemiddelde speengewig van die kalwers van vleisraskoeie in Suid-Afrika, na gelang van die pariteit van die kalf, word in Grafiek 2 aangedui.

Uit al die kalwers wat geëvalueer is, was die gemiddelde speengewig nagenoeg 215 kg op 205 dae. Die gemiddelde speengewig van eerste kalwers (kalwers van koeie met pariteit = 1) was nagenoeg 203 kg.

Die speengewigte van die kalwers van koeie met hulle derde tot hulle agtste kalwers, was gemiddeld hoër as 220 kg. Koeie wat hulle tiende en meer kalwers het, se gemiddelde speengewigte was laer as dié van kalwers van eerstekalf-koeie (gemiddeld laer as 200 kg). Uit hierdie gegewens is dit dus duidelik dat, in terme van die speengewig van hulle kalwers, koeie meer produktief raak namate hulle ouer word, tot en met hulle sesde kalf, waarna hulle weer minder produktief word namate hul ouer word.

imageNormale seleksie- en uitskotpraktyke in ‘n vleisbeeskudde behels gewoonlik die uitskot van alle nie-dragtige koeie na afloop van die dekseisoen en die verkoop van alle verse wat nie aan die gekose seleksienorme ten opsigte van visuele aanvaarbaarheid (funksionele doeltreffendheid en rasstandaarde) en produksie (groeiprestasie op speen- en dekouderdom) voldoen nie. Hierdie praktyke lei tot ‘n baie kenmerkende “ideale” kuddestruktuur, soos wat uitgebeeld word in Grafiek 3.

Die verdeling volg ‘n tipiese negatiewe logaritmiese groeifunksie en die waardes van die funksie is baie stabiel en verander nie veel tussen verskillende produksiestelsels nie. Op 'n gemiddelde basis behoort nagenoeg 21% van die vroulike diere in die kudde onder een jaar oud te wees in die droë seisoen en ongeveer 15% van die vroulike diere behoort tussen die ouderdomme van een en twee jaar oud te wees op dieselfde stadium.


image As gevolg van die uitskot van verse of koeie, wat hoofsaaklik plaasvind as gevolg van swak reproduksie, neem die persentasie vroulike diere per ouderdomsgroep teen ‘n baie voorspelbare koers af. Die koers waarteen die vroulike diere in elke ouderdomsgroep uitgeskot word (die erosietempo) is eweneens baie kenmerkend en stabiel en kan dien as 'n riglyn om ‘n kudde se struktuur en produktiwiteit te evalueer. Vleisraskoeie in Suid-Afrika se gemiddelde gerealiseerde erosietempo word in Grafiek 4 uitgebeeld.

Die erosietempo vir verse is nagenoeg 25% vir die periode van nul tot een jaar oud tot een tot twee jaar oud, en 20% vir die periode een tot twee jaar oud tot twee tot drie jaar oud. Erosie by verse kan hoofsaaklik toegeskryf word aan seleksie op grond van voorkoms en produksie-eienskappe, maar vrugbaarheid kan ook ‘n rol speel by die ouer verse wat gedek word.

Die erosietempo by eerstekalf-koeie is gewoonlik redelik hoog (nagenoeg 17,5%) en vir koeie daal die erosietempo tot so laag as 15% per ouderdomsgroep namate hulle ouer word tot by ongeveer hul sesde kalf (agt tot nege jaar oud), waarna dit weer begin styg. Koeie word hoofsaaklik uitgeskot op grond van swak reproduksie en die lae speengewig van hul kalwers.

‘n Winsgewende vleisbeeskudde vereis 'n trop koeie waarvan die meerderheid meer as twee kalwers en minder as nege kalwers gehad het. Dit is die groep koeie met die beste vrugbaarheid en wat die swaarste kalwers speen – dié koeie met die beste produksie per eenheidsinsette.

Om só ‘n gunstige kuddestruktuur te bereik, moet produsente toepaslike bestuurspraktyke volg:

  • Selekteer verse op speen- en jaaroud-ouderdom op grond van speengewig en visuele eienskappe. Gee voorkeur aan die verskalwers van bewese vrugbare koeie wat swaar kalwers speen.
  • Dek meer verse as wat nodig is vir vervanging en skot alle nie-dragtige verse uit.
  • Bestuur dragtige verse om in ‘n goeie kondisie (kondisiepunt 3 tot 3,5) te kalf.
  • Oorweeg om verse vroeër as koeie te dek/laat kalf – dit gee hulle ‘n effens langer herstelperiode en ‘n beter herkonsepsie ná die eerste kalwing.
  • Eerstekalf-koeie het ‘n groter voedingsbehoefte as volwasse koeie – vir laktasie en vir hul eie groei en ontwikkeling. Bestuur eerstekalf-koeie só dat hulle in gewig en kondisie toeneem tydens die daaropvolgende dekseisoen.
  • Skot alle koeie wat ligte kalwers speen uit na afloop van die laktasieperiode.
  • Gebruik slegs bulle met goeie teelwaardes vir vrugbaarheid en speen gewig/die maternale vermoë om vervangingsverse te teel.

Deur hierdie stappe te volg sal produsente verseker dat hulle vleisbeeskuddes die korrekte struktuur het om winsgewende produksie te verseker.

Vir meer inligting, kontak Charl Hunlun by 051 410 0900 of charl@studbook.co.za.

Publication: October 2014

Section: Focus on

Search