• Login
  • Search Icon

Oproep met 'n tiekieboks

December 2012

– Desember 2012

image

Beste Grootneef,

Krismis is met 'n drafstap op pad. Ou Neef, kan jy glo, nog 'n jaar daarmee heen! Dit lyk of, soos wat ons ouer raak, die tyd al hoe vinniger verbyskuif. Dit voel soos gister toe ons jongste telg skool toe is. Volgende jaar is dié in matriek. So gaan ons lewenstyd verby.

Ou Neef, vanaand dink ek aan tiekiebokse. Dink jy die goed bestaan nog? 'n Tiekieboks was in ons grootworddae die kontak huis toe vir die land se koshuisbrakke en troepies.

My eerste kennismaking met 'n tiekieboks was in Opsaal seunskoshuis aan die walle van die Vals. Dit was so 'n vierkantige, grys model met 'n swaar, swart handstuk. Op die voorkant was gleuwe vir 'n 20 sent, 'n 10 sent en 'n 5 sent. Ek praat nou van toeka se blink munte nè! Toe was 'n 5 sent nog 'n 5 sent werd, ek meen dít kon jy verruil vir vyf nickerballs of vyf chappies in die kies.

Hoe dit ook al sy. Onder die gleuwe was 'n blink knop wat jy ingedruk het as jou nommer beset gelui het en jy die geld wou laat deurval tot in die vanghokkie. Nou en dan was jy gelukkig met 'n vorige besoeker wat sy munt in die gleuf vergeet het en dié kon jy dan laat deurval, nes 'n jackpot...

Die kontrepsie het met 'n stukkie geduld en baie afwagting gewerk. Eers is die handstuk van die mikkie af om te hoor of daar lewe is. As die gehoorstuk gerusstellend in jou oor krrr, kon jy voortgaan met die operasie. Die munt is in die regte gleufie geplaas en daarna is die nommer geskakel met 'n draaistuk. As die persoon aan die anderkant antwoord, het die foon gepiep en dan moes jy die muntknoppie druk sodat die geldstuk in die foon se binneste verdwyn. Nes jy lekker aan die praat was, het die foon gepiep-piep om jou te laat weet jou praattyd is verby en dan moet jy hom met 'n nuwe munt voer om die lyn lewendig te hou. As jy te lank gekarring het met 'n opvolgmunt, is die lyn gebreek en alles was oor.

In die koshuis was "belgeld" altyd hoog in aanvraag, kleingeld is oor en weer uitgeruil om 'n 50 sent of 'n R1 "klein" te maak vir belgeld. As die nood druk, kon 'n kollekteer-oproep ook gemaak word. Die anderkant moes dan instem om die koste vir die oproep te neem.

Aan 'n ketting en haak het 'n foonboek gehang vir as jy dalk 'n nommer gesoek het.

Die probleem van 'n tiekieboks in 'n koshuisgang was natuurlik dat privaatheid naby aan zero was. Gewoonlik was daar ook 'n tou bellers agter jou wat staan en wag het op hul beurt en as jou gesprek te lank geneem het, veral met 'n inwoner van die meisieskoshuis, is jy só luidkeels aangemoedig dat jy maar gou die aftog geblaas het en koebaai gesê het.

'n Truuk om die "sisteem" te omseil was 'n langtiekie. Hierdie was nogal gevorderde tegnologie vir die tyd. Die uitdaging was om 'n garinkie aan 'n 20 sent te heg en as die foon piep vir geld, die 20 sent in die gleuf te laat val en terug te trek in een soepel beweging. Diegene wie die kuns van 'n langtiekie vervolmaak het, het gesê 'n goeie gewrigsaksie is noodsaaklik...Die foon dink dan die 20 sent is deur en voila, nog 3 minute praattyd is joune!

Soms het die langtiekie egter in die foon se dieptes vasgehaak en afgebreek. Dan was daar groot marakkas, want as die poskantoor se oom die tiekieboks kom leegmaak en 'n langtiekie in die foon se binnegoed gekry het, was die gort gaar. Pa Toit, die koshuisvader, het sommer woerts-warts die roede ingelê en die hele koshuis deurgedraf as die skuldige nie sy belange verklaar het nie. Dit was voor die dae van menseregte...

'n Mooie waarmee die nuwe standerd sesse uitgevang is, was om swart politoer aan die gehoorstuk se oor te smeer. Junior is dan nader geroep, want "sy ma is op die lyn". Die slagoffer het tevergeefs ge-"hallo ma", want die enigste wins uit die oefening was 'n pikswart oor tot almal se vermaak. En volgende jaar doen junior dit weer met die nuwe geslag sesse...

Tiekieboks-aanvalle het ook nou en dan voorgekom. Min dinge kon 'n koshuisbrak so ontstel as wanneer die munt "gesluk" is sonder die teenprestasie van praattyd.

Dit was in die koshuisdae nie heeltyd praattyd op 'n tiekieboks nie. Praattyd was gereël vir die middae ná studie of in die aande tot ligte uit. Van die dapperes het wel ná ligte uit die tiekieboks bekruip vir 'n vinnige nagsê aan die skoner geslag.

My koshuiskamer was vanmelewe net langs die tiekieboks. Die meeste gesprekke van die destydse jongspan het begin met "Hallo Ma, hoe gaan dit op die plaas..."

Met Krismistyd op hande, wens ek vir 'n tiekieboks onder die boom, om 'n ma te bel wat nie meer daar is nie. Sommer net om te hoor hoe gaan dit daar waar hulle nou is.

Geseënd Ou Neef. Geniet die familietyd van die Kersseisoen.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: December 2012

Section: E-mails

Search