• Login
  • Search Icon

Opbrengskompetisie se gewildheid neem toe

November 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

DuPont Pioneer se 2016/2017 Weeg en Wen-opbrengs­kompetisie het die jaar 10% meer inskrywings as met verlede jaar se eerste kompetisie ontvang.

Oostelike droëlandmielies-, oostelike sojaboon- en westelike soja­boonproduksiegebiede is die drie kategorieë wat die meeste inskrywings nóg gelok het, met onderskeidelik 25, 18 en 13 inskrywings. 

Mnr Heinz Oellermann (besigheidsbestuurder: DuPont Pioneer SA) het tydens die oorhandigingsfunksie aan die hand van grafieke die verskil in opbrengs tussen die 2016/2017- en 2015/2016-kompe­tisies uitgelig. 

“Die finaliste in die sojaboon oostelike produksiegebiede-kategorie het ‘n gemiddelde opbrengstoename van 1 t/ha getoon, terwyl die westelike produksiegebiede-finaliste met 1,6 t/ha gespog het. Die oostelike droëlandmieliegebiede gemiddeld het ‘n toename van 1,4 t/ha getoon,” het hy verduidelik.

Volgens mnr Tony Esmeraldo (kommersiële hoof: DuPont AgCo, Suid-Afrika) is hierdie kompetisie DuPont Pioneer se bydrae tot die bedryf: Hul motiveer produsente om hul opbrengste te verhoog deur hul eie kundigheid te gebruik en sodoende meer presies te boer.Vir meer inligting en om te registreer vir die 2017/2018-kompeti­sie, besoek www.weegenwen.co.za of stuur ‘n e-pos aan info@weegenwen.co.za

Nuwe siklus vir DuPont
DuPont Pioneer staan aan die begin van ‘n betreklike groot verandering in hul maatskappy se geskiedenis. “In 1802 het DuPont begin om plofstof te vervaardig – ons was die eerste maatskappy wat dinamiet gekommersialiseer het. Daarna het dié maatskappy chemikalieë begin vervaardig, waarna hulle hulself herstruktureer het en die wetenskap- en ingenieursveld betree het.

“Ons is nou aan die begin van ‘n volgende fase vir DuPont wêreld­wyd en dit is dat DuPont en Dow, wat saamgesmelt het, in drie organisasies opgedeel gaan word, naamlik: Landbou, spesialiteitsprodukte en materiaal en wetenskap,” het Esmeraldo tydens sy spreekbeurt gesê.

Dié R19 miljard-maatskappy, wat deel van die landboukomponent gaan wees, sal vir DuPont ‘n uiters sterk pyplyn in terme van gewasbeskerming in Suid-Afrika verskaf en die vermoë om ‘n totale diens aan die produsent te lewer – van saad tot gewasbeskerming en biotegnologie.

Esmeraldo het die maatskappy se passie vir hul produsente beklemtoon. “Dit is vir ons belangrik om te verstaan wat die uitdagings is waarmee produsente daagliks gekonfronteer word. ‘n Opname wat onder kommersiële produsente in Noord-Amerika gedoen is, het getoon dat produktiwiteit per hektaar vir driekwart van die produsente in dié land ‘n nommer een bekommernis is en ek is seker hierdie statistiek sal dieselfde vir Suid-Afrikaanse produsente wees.”

Volgens Esmeraldo is dit daarom nodig dat ‘n saadmaatskappy soos DuPont veral aandag gee aan die volgende aspekte: Verbetering van produktiwiteit in terme van saadprodukte, bydrae tot die funksionaliteit en eindgebruik van die produk en graan wat in die mark verkoop word, begrip van wat die verskillende tipes siektes, onkruide en nematodes is waarmee produsente gekonfronteer word en laastens ondersteuning met die verbetering van akkerbou deur die beperkings wat produsente op hul plase ervaar.

“Produsente bestuur hul graan op die plaas op mikrovlak. Hulle maak hul somme hektaar per hektaar; soms selfs subhektaar per subhektaar – hulle meet tot die fynste detail. DuPont het daarom ‘n strategie met sewe fokus areas ontwikkel, wat produsente sal ondersteun om op hierdie vlak te bestuur. Die areas sluit in: Teling, CRISPR-Cas, biotegnologie, gewasbeskerming, saadtoegepaste tegnologie, digitale- asook akkerbou-oplossings,” het Esmeraldo gesê.

Wêreldrekordhouers gee raad
Esmeraldo het mnr Kip Cullers (sojaboonwêreldrekord­hou­er met ‘n opbrengs van 10,8 t/ha), na wie ook soms verwys word as die sojaboonkoning en mnr David Hula, wat steeds die wêreldkampioen vir droëlandmielies is (met ‘n opbrengs van 33,3 t/ha) se raad met die finaliste en wenners van die kompetisie gedeel:

“Jy moet weet waar die rand van die krans is. Klim daaroor en trek jouself weer op. Anders sal jy nie weet waar die rand is nie.” – Cullers

“Om die regte graanvariëteit te kies, is soos om jou eggenoot te vind. Dit is ‘n emosionele proses en wanneer dit reg gedoen word, kan dit belonend wees, maar indien dit verkeerd gedoen word, kan dit jou duur te staan kom.” – Hula


 

Publication: November 2017

Section: Relevant

Search