• Login
  • Search Icon

Oor windpompmense

August 2012

– Augustus 2012

image

Beste Grootneef,

Die ding het begin toe Amos die middag laat kom kla het: "Die pomp hy pomp, maar hy wil nie pomp nie..." Ek is saam met hom na die suiping om te gaan kyk wat is fout. En ja wragtig, gepas vir 'n blou Maandag loop die windpomp vrolik in die westeluggie, maar sonder 'n druppel water uit die pyp en met 'n dam wat amper leeg is.

Ou Neef, het julle nog windpompmense in julle geweste? Hulle word beslis 'n bedreigde spesie. Ek skat daar is nou meer renosters as windpompmense oor. Die jongetjies stel mos nie meer belang in windpompe as 'n loopbaan nie.

Kyk, deur die jare het ek al lelike bloutjies met windpompmanne geloop. Een is nou nog soek met 'n windpompkop, kastig om ratte te vervang. Nee kyk, dié kêrel het my een ding geleer: 'n pompkop ry nie meer by die plaashek uit nie. Ratte ruil of regmaak wat ook al af is, word sommer net daar in die gras langs die toring gedoen.

Vergeet van 'n donkie. Die windpomp is 'n wonderlike ding. Hy tower al vanmelewe vir mens en dier water uit die dorre vlaktes. Ry maar oral – Karoo, Vrystaat of Bosveld – oral staan hulle geduldig en wag vir die winde van elke seisoen. 'n Ligte windjie is genoeg om die swaar lemme aan die draai te kry en met 'n suig en klap van die stange in die pyp word water uit die dieptes van die boorgat tot bo-op Moeder Aarde getrek. Daar is nie 'n mooier geluid as 'n windpomp wat in die wind kreun en water wat in die dam plas nie.

In ons distrik is daar net een betroubare windpompman oor. Gewoonlik vat George so dag of wat om by jou uit te kom, altyd êrens doenig met 'n pomp vol skete. Met die aankomslag betrag hy gewoonlik die steeks windpomp soos 'n dokter 'n pasiënt en luister fyn vir 'n verdagte geluid. Die moeilikheid kan bo in die kop of onder in die gat wees. Daarna skarrel sy handlanger soos 'n eekhoring teen die toring uit om die lemme met 'n tou te anker. Dan begin operasie fout soek in alle erns.

Die kop is maklik, daarvoor is dit net vinnig die kopdeksel losmaak om te sien of die ratte en arms nog in harmonie in die oliebak draai. Soms is die arm skeef of 'n rat uit lit uit, maar dis gewoonlik maklik om te vervang.

As die moeilikheid af in die gat is, is dit egter 'n ander storie. Met 'n driepoot moet die pype las vir las uitgekatrol word en Boeta, met 'n diep gat moet jy jou storie ken, want neuk die pype en stange in die gat af, is dit 'n boggerop. Jy kan 'n goeie voormiddag spandeer om weer die pype te "vang", maar daarvoor het elke windpompman 'n stuk slim "pypvanger" in sy arsenaal.

Partykeer is die moeilikheid in die gat gou om te sien, soos 'n pyp wat deurgeroes het of 'n stang wat losgekom het. As al die pype uit is en daar is nie 'n ooglopende fout nie, lê die moeilikheid heel onder by die silinder. Soms is daar salf te smeer met 'n nuwe velling, maar ander kere het Vader Tyd die silinder se lot bepaal en is dit koöperasie toe vir 'n nuwe een.

Wanneer George alles uitgepluis het en alles weer vas en reg is, is die groot oomblik om die tou bo van die lemme los te maak. Die stert druk die wiel dan vinnig in die westewind en siedaar, eers stadig en later met krag, begin die windpomp draai. Die stange vat die silinder doer onder vas en jy hoor die pyp se windslukke verander soos water op pad is. En oplaas plas water uit die pyp in die dam.

Dis dán wanneer George tevrede terugstaan en sê: "Hy pomp weer." Ou Neef, groete op die Oosgrens. Kyk maar uit vir die rookwolkies op die horison. Dit is mos nou weer brandseisoen.

Kleinneef

Publication: August 2012

Section: E-mails

Search