• Login
  • Search Icon

Oor waterwysers

May 2012

– Mei 2012

image

Ou Neef,

Met die sonnetjie wat al later kop uitsteek, wag ons nou vir die amptelike aankondiging van die winter. En dis nie in ‘n weerberig of ‘n nuusbulletin nie. Dis gewoonweg ‘n sagte fluister van ‘n suidewindjie, maar met ‘n byt in die lug.

Daardie eerste ysige luggie trek jy diep in jou longe in en jy kry so ‘n vars voorsmakie van die winter wat op pad is. Die koms van die winter hoor jy ook in die ritsel van droë blare wat die oggendluggie in ‘n hoekie voor die huis laat rondskarrel. As jy mooi kyk in die veld, sien jy die tarentale wat saam swerm en spog met hul somerkuikens. En so dryf ons stilweg in ‘n nuwe “droë wit seisoen” in.

Ou Neef, ‘n interessante spesie bly waterwysers en windpompmense. Dié klompie raak net skaars; by ons is net ‘n paar oues oor. Nie enige jongetjie wil ‘n windpomp mechanic word nie.

Maar eers oor waterwysers. In ons geweste was daar oom Dries. Lank en maer, met ‘n effe geboë lyf. Amper soos ‘n kiewiet.

Met ons eerste kennismaking het oom Dries ewe rustig kom kuier en hom op die sitkamerbank tuisgemaak. Skielik het hy beide bene hoog gelig en ‘n oomblik verstar. Al die aandag was op oom Dries wat toe die aankondiging maak, “hier loop ‘n sterk aar onderdeur die huis...”

Dis nie aldag wat ‘n mens die goeie nuus kry dat water onderdeur jou huis loop nie en net daar maak ek en oom Dries ‘n afspraak vir waterwys.

Met die aankomslag vir die groot soek, het oom Dries die wêreld eers sorgvuldig deurgekyk. Net voor hy wou koers kies, het sy vrou hom vermaan om eers ‘n draaitjie te loop. “Hy wys baie fyn hoor,” het sy so saggies uitgelap terwyl oom Dries om die naaste bos verdwyn het.

Oom Dries het nie baie tyd gemors nie. Die eerste stap was om ‘n lekker mikstok van die wilgerboom af te sny. So mooi stewige groen loot. Met ‘n heen en weer deur die kamp het hy gou twee are water “gesien” wat mekaar kruis onder teen ‘n klipbank. Op die presiese plek het hy met sy verslete velskoene ‘n kruis oopgeskop tussen die rooigras uit, waar die boor later sy stamper kon laat sak.

Die volgende vraag was natuurlik hoe diep die water is. Met die ene konsentrasie het oom Dries eers die kant toe en toe na die anderkant toe getrap en toe met twee vingers van enkel tot knie afgemeet. “So 70 m diep,” was die uitslag, met ‘n kwalifikasie van “maar ‘n mens weet nooit...”

Met die slag gelewer en die merk duidelik gemaak met ‘n hopie klippe het ek oom Dries gevra om so bietjie te vertel hoe hy die water “sien”. Sy antwoord was dat hy nie eintlik die water kan sien nie, maar dit eintlik aanvoel en dit moeilik is om te verduidelik presies hoe die dinge werk.

Met dié nooi hy my uit om aan die een kant van sy mikstok te vat, so oorkruis met sy een hand op die mik en sy vry hand oor my pols. Ons nader die hopie klippe tree vir tree. Ou Neef, kan jy glo, die mik draai wragtig in my hand af aarde toe, hoe nader aan die merk, hoe sterker. Ek het die mik met alle mag en mening gehou, so styf dat die bas van die mik afgedraai het. Af, af, af, na die donker dieptes toe waar die waterare mekaar kruis...‘n Stukkie wonderwerk wat net enkele mense beskore is!

Toe dit by die betaalslag kom, skud oom Dries net sy kop! Dit is ‘n gawe wat hy ontvang het en wat hy graag met ander deel. En so is oom Dries en sy vroulief laatmiddag daar weg. Ek het die volgende dag weer die hopie klippe wat as watermerk moes dien uit al vier windrigtings bekruip, met ‘n vars gesnyde wilgermik. Ou Neef, nie eers ‘n roerentjie aan daardie mik nie. Die water daaronder praat nie met my nie.

So twee weke later het die boormasjien opgedaag en die stamper laat sak by die hopie klippe. ‘n Dag of wat daarna is die waterare oopgestamp op ‘n diepte van bykans 70 m...Die soetste water uit die dieptes van die aarde.

Oom Dries se plekkie is nou reeds ‘n paar jaar lank al leeg. Maar met elke draai van die windpomp wat helder water uit die dieptes op tower, dink ek aan oom Dries wat in sy lewe menige wateraar met ‘n wilgerlat ontsluit het. Lekker rus, oom Dries.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: May 2012

Section: E-mails

Search