• Login
  • Search Icon

Oor slimfone

March 2012

– Maart 2012

image

Beste Grootneef

Die jaar stap aan, né! Vroegoggend steek die son sy kop al hoe later uit. Vanoggend sesuur was die sonnetjie net so ‘n flou, rooi gloed in die ooste tussen misbanke deur. Amper koelerig ook soggens en saans. Die seisoen is aan die draai.

Ou Neef! Die wêreld waarvoor ons grootgemaak is, bestaan nie meer nie. ‘n Mens sien dit eintlik oral. Veral met tablette en slimfone waaroor die jong klomp streel en bykans enige iets kan ontsluit. Ek het ander dag sommer vir die grap “skaapboud” op die sel se soekenjin ingetik. Jy sal nie glo wat alles uit die skerm spring nie en nogal in die soetste taal ook...

Hoe dit ook al sy, ek onthou nog die dae van ‘n dorpsentrale en ‘n plaaslyn. Vir ons opstal, drie langes met die nommer 2803. Buurman s’n ‘n korte en drie langes. Anderkant toe weer na die volgende huishouding, ‘n lange en drie kortes. En so aan al verder padlangs, elke plaas met ‘n eie luitoon. Gewoonlik is so ‘n plaaslyn deur ongeveer ses gesinne gedeel.

Die kortes en langes kon jy self met die slinger van die telefoon uittimmer, een draai vir ‘n korte en drie draaie vir ‘n lange. Die spoed waarmee die slinger gedraai is, het ook sommer aangedui wie soek vir wie! ‘n Forse korte en drie langes was beslis Buurman. ‘n Dralerige drie langes, weer tannie Bettie-At van langsaan.

Goeie maniere was natuurlik om eers die gehoorstuk op te tel en te vra of die lyn besig is. As Buurman aan die praat was, kon ‘n mens vinnig môre sê en uitvind of dit daarlangs gereën het voor jy weer neergesit het. ‘n Kortetjie (een trieng) het aangedui dat die lyn weer oop was vir die volgende oproep. Dit was so ‘n halwe draai aan die slinger van die laaste prater.

‘n Hooflyn was natuurlik ‘n ander storie. Daarvoor moes jy tyd maak. Die proses is begin met een lange na die sentrale en dan kon jy vra vir ‘n hooflyn na Bloemfontein, Heilbron of waar ook al. Die sentrale het dan op eie tyd en teiken die nommer probeer, die ander party op die lyn gehou en terug geskakel. Soms het dit meer as ‘n uur geneem om die ander party in die hande te kry. Plaaslike praters moes dan neersit vir die “hooflyn” wat deurkom – die sentrale was nogal kwaai daaroor. ‘n Hooflynoproep was ‘n hele okkasie en moes jy jou praat praat, want die rekening was gemeet in drie minute sarsies. Om te vry oor ‘n plaaslyn, was vreeslik – nege minute is soos blits verby!

Inluister op die plaaslyn was nogal pret. Soms kon jy Buurvrou se koekoek-horlosie in die agtergrond hoor roep en dan kon jy maar weet jy is nie meer alleen op die lyn nie, ten spyte van die stilte wat gevolg het as jy gesê het: “Môre, tant San”.

Die telefone self was ‘n gewigtige storie! Swart en statig. Party het teen die muur gehang en met later jare ‘n groot platte vir ‘n tafel, nogal met destyds se landswapen op, met die leuse onderaan, “Ex Unitate Vires”. Vir die meeste boeremense was hierdie mondvol Latyn ook die enigste waarmee hul kennis gemaak het.

Die telefoondrade was ‘n ander storie ná ‘n stormwind en weerlig. Ná ‘n donderstorm was die lyne dikwels af totdat ‘n bloekom of wat ook al van die telefoondrade gesleep is. Dan was jou lyn letterlik af totdat die draad gelas is of ‘n nuwe telefoonpaal staangemaak is. ‘n Weerligstraal op ‘n paal kon jou ook ‘n hengse klap teen die oor gee! Met onweer en blitse is ‘n versigtige afstand van die telefoon gehandhaaf en so nou en dan kon jy ‘n harde “trieng” hoor soos die weerlig op die drade hardloop.

Die sentrale self was natuurlik altyd die beste bron van inligting. Met een lang lui kon jy gou hoor of die pos al gekom het (sentrale en poskantoor in een geboutjie), of die drif dorp toe oop is of wat ook al. Die sentrale was soms ook die draer van doodstyding of ongeval. Oom Erwee het immers alles eerste geweet...

Hoe dit ook al sy, wie sou destyds kon dink dat jy met ‘n telefoon sou kon loop waar jy wil, sommer in jou hemp se bosak. En foto’s kan neem met die ding en dit via die kuberruimte na ‘n geliefde tien duisend myl verder stuur, of skaapboudresepte uit die ding se binnewerke toor. Ek sê jou, die wêreld waarvoor ons grootgemaak is, bestaan nie meer nie. Die ou plaashuis is lankal ‘n murasie, die telefoonpale afgesaag en die koperdrade gesmelt.

Ou Neef, my kinders lag as ‘n mens vir hulle die staaltjies van grootword met ‘n plaaslyn vertel. ‘n Slimfoon is immers nou die in-ding en stories van ‘n sentrale doer uit vergange se dae, asof jy van ‘n ander planeet praat. Want sien Ou Neef, alles het aanbeweeg.

Die laaste tyd kry ek so ongemaklike gevoel dat alles in landbou aanbeweeg het, behalwe die Departement se beleidmakers en besluitnemers. Ek meen, ons is dwarsdeur deregulering en die graanbedryf spog met unieke strukture vir inligting en navorsing om ‘n vrye mark te bestuur. Nie noodwendig perfek nie, maar die beste in die weste! Dit is egter asof die Departement nie deel van die speelveld wil wees wat hul self in 1997 geskep het nie.

Dit is asof goeie bedoelings en brugbou deur kommersiële landbou gewantrou word en wanneer jy lees en luister wie wat sê, asof ons in is vir ‘n tyd van konflik. Ou Neef, om kommersiële landbou te kasty oor dinge van voor ’94 se moeilikheid, maak tog geen sin in vandag se tyd nie. Die boodskap is eenvoudig. Dis tyd om aan te beweeg, dis saamstaan of toustaan vir kos.

Groete op die Oosgrens en hoop ek sien jou by die graanboere se Kongres.

Kleinneef

Publication: March 2012

Section: E-mails

Search