• Login
  • Search Icon

Oor leë blikke wat raas

September 2013

– September 2013

image

Beste Grootneef,

Ek het vanoggend, so ná die eerste nuusberig oor die draadloos, ‘n ligte klankie op die wieke van die wind begin snuif. Dit pla nog nie te erg nie, maar waarskynlik gaan die geurtjie in die maande wat voorlê, stoom optel. Ek praat nou nie van ‘n lentebries met die geure van die veld nie. Ek praat van die reukie van stemwerwing vir die verkiesings wat op pad is, êrens in volgende jaar.

Ou Neef, dit is nou tyd om jou dowe oor aan te sit en jou nie te veel te steur aan wat stemwerwers en leë blikke kwytraak nie. As jy alles gaan glo wat jy in die komende maande hoor, sal jy drie keer ‘n dag hartpille moet sluk!

As ek luister na die geluide ná die Zimbabwe-verkiesing, klink dit of die ding só gewerk het – alles was vry, maar dit het nie eintlik saakgemaak wie stem nie, net wie die stemme getel het!

Ou Neef, so loop óns nou die seisoen tegemoed van stemwerwers wie babas soen en beloftes maak oor Kanaän. As die stof ná die verkiesing gaan lê, is die slaggate egter nog net so diep. Al verskil sal wees dat ‘n ander blink meneer in ‘n nuwe swart kar voor die mislikepaal se kantore stop.

Ou Neef, toe ek vanoggend by die petrolpomp op die dorp aandoen om Ma se kar vol te maak, kon ek my oë nie glo nie – ‘n tenk petrol pluk al bykans R700 uit jou sak! Toe die ou agter my vra vir R10 se petrol, verdwyn die joggie in sy stoortjie, jy hoor net hoe soek hy tussen die olieblikke en lappe. Toe ons ná ‘n rukkie naderstaan om te vra wat nou, laat weet hy dat hy ‘n teelepel soek om R10 se petrol af te meet. Buurman sê dit is nou ‘n statussimbool om vir dronkbestuur gevang te word – dit beteken jy het nog geld om rond te ry!

Petrolpryse is nou woes en die aanduidings is dat dit nóg duurder gaan raak voor die jaareinde. Ek hoor ‘n voëltjie fluit dat die langverwagte regulasies oor biobrandstof eersdaags afgekondig gaan word, met sorghum as grondstof. Blykbaar het die owerheid voorbehoude oor mielies, sodat “kos” nie in brandstoftenks beland nie.

Ou Neef, as die biobrandstofregulasies deurkom, plant ons al die vlak lande met sorghum. Dit sal ‘n massiewe verskil maak vir graanprodusente om te diversifiseer, met ‘n meer droogtebestande gewas. Die geheel van die land se bevolking sal baat uit groen brandstof. In die VSA loop voertuie lankal met biodiesel uit sojabone. In sommige stede staan dit groot agterop die bus, dat die bus aangedryf word deur biodiesel. Kom ons hoop dat ons volgende jaar met groen woema in ons eie land sal kan ry.

Ou Neef, ek sien ‘n ander ding – dit is asof die winter nou elke jaar ‘n maand laat is. Verlede jaar het dit in Augustus tot anderkant die Magaliesberg gesneeu. Vanjaar het die fronte met tande ook eers hier in Augustus diep oor die binneland geskuif. Die warm Juliemaand en koue Augustus het my perskebome skoon deurmekaar. Baie was al vol in blom, net om weer in Augustus dood te ryp. Die bonussie van ‘n yskoue Augustus, is dat ‘n mens vir oulaas ‘n ou blesbokkie aan die haak kan kry!

Die ding van ‘n koue winter is dat die ou mense geglo het dat dit ordentlik koud moet wees in Julie, om ‘n goeie somer met reën op sy tyd te kry. Met laasjaar se jaloersbuie was graanboerdery nie speletjies nie. En hoe verder wes, hoe moeiliker was dit. Kom ons hou duim vas vir ‘n nuwe somer met reën op sy tyd.

O ja, nog so stukkie Zimbabwe-nuus. Ek verneem dat Zimbabwe se Reserwebank ná die verkiesing beroof is. Volgens die Zim-Polisie kon niemand nog die motief vir die roof bepaal nie.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: September 2013

Section: E-mails

Search