• Login
  • Search Icon

Oor “aliens”, renosters en tiere

September 2010

Beste Grootneef

Die appelkoosboom voor die kombuis staan vol in die blom. As jy die weiveld instap en ‘n graspol oopvou, sien jy reeds die eerste groen spruite bot. Van die blesbokke het ook vroeg begin lam. Die natuur praat haar eie taal en alles saam sê: die somer is voor die deur!

Die vraag is egter, wat maak ons as planttyd kom? Want met die groot mieliesurplus en lae pryse, maak dit net nie sin om weer teen ‘n verlies te plant nie. By die Graan SAstreeksvergadering in ons kontrei, was dit duidelik dat normale aanplantings met huidige prysvlakke amper so moeilik sal wees as om ‘n kameel deur ‘n naald se oog te druk. Behalwe as geld in die water vir jou pret is...

Mielies kan egter nou goedkoper aangekoop word as waarvoor dit aangeplant kan word. Party manne sê dit bied ‘n unieke geleentheid om nou mielies te koop en met planttyd aanplantings drasties af te skaal. Want die gekoopte mielies is dan reeds in die silo, sonder die risiko van Februarie se midsomerdroogte. Klink vir my na besigheid. En ‘n rustige Krismis...

Die geneuk is om die kredietskieters te oortuig dat ons nou geld nodig het om mielies te koop en te verskans, nie om dit te plant nie! Praat van ‘n kopskuif! Maar gou speel, moenie te laat met die plan talm nie. Almal kan begin mielies koop en dan raak plan B al hoe moeiliker as die pryse eers begin klim.

Die mensdom, soos die donkie, is ‘n wonderlike ding. Ou Neef, glo jy aan “aliens”? Dis die ouens in vlieënde pierings met koppe soos paaseiers. Ek gly anderdag met ‘n internetbrander oor News 24 se meningspeiling van die dag. Die vraag waarop Jan Rap en maters kon antwoord was of daar “aliens” bestaan. Eers het ek gedink dis ‘n grap, maar helaas, op die stadium toe ek geloer het, het die volk as volg geantwoord:
·         38% (8 077 siele) sê ja, ons is nie alleen nie!
·         27% (5 852 siele) sê nee, aliens is bog.
·         35% (7 552 siele) sê miskien is die goed daar, sien is glo!

Die ongelooflike is dat meer as 21 000 mense deelgeneem het. Wat die finale uitslag was, weet ek nie. Die ding loop mos deur die nag.

Nog een om in jou pyp te stop. In die eerste sewe maande vanjaar is daar reeds 152 renosters in San Parke gestroop. Volgens berigte word verwag dat teen Desember vanjaar, 300 renosters onwettig uitgehaal sal word – agter hul horings aan. Die karkas word mos net so in die veld gelos.

Die stropers is ook nie flentergatte wat deur drade klim en koets-koets strikke stel nie. In sommige gevalle word helikopters ingespan om die renoster op te spoor en uit te wis. Ander laat loop weer met ‘n knaldemp-geweer in die nag. En dit krap mense om. ‘n Organisasie “Animal Rights Africa”, skryf daaroor en gee persverklarings uit, orga niseer en maak protes teen die sinnelose uitwissing van een van ons groot vyf. Want hulle gee om.

Die laaste herkoutjie. Panjo die tier het van ‘n bakkie af gespring die vlaktes in. Die hele land was vir drie dae in rep en roer oor tier se kind, wat op die ou end soos ‘n verlore seun met gemeste hoenders tuis verwelkom is. Oor al wat nasionale nuusbulletin is, was berig oor Panjo se wel en weë – tot en met die gelukkige einde.

Dít is die ongelooflike. Die volk sal op loop raak oor “aliens”, renosters en tiere, maar is bra lou oor boere se wel en weë. Plaasmoorde en -aanvalle kry nie maklik meer bladsy een in ‘n koerant nie. As die owerheid dreig met onteiening van grond, word dit ‘n terloopse berig. Waar myne landbougrond besmet en besproeiingswater vergiftig, word dit dalk in die streekskoerant aangehaal. Gebrekkige tariewe vir die beskerming van plaaslike bedrywe haal net die landboupers. Die besluit van Rusland om nie vanjaar koring uit te voer nie, het darem die Sondag-pers gehaal. Omdat die Russe se besluit dalk vir hoër plaaslike broodpryse kan sorg...

Die vraag is: hoe kry ons dit reg om die breë bevolking betrokke en besorg te maak oor landbousake? Om die wel en weë van landbouers ter harte te neem en daaroor te praat en te skryf. En besluitnemers te beïnvloed vir ‘n beleidsomgewing waardeur voedselsekuriteit uit eie bodem bevorder kan word.

Bo en behalwe hoë insette en lae pryse vir produkte, en of ons vanjaar minder moet plant of nie, is dít dalk ons grootste uitdaging: dat die mense van Suid-Afrika net so ernstig oor boere en voedselsekuriteit sal voel, as oor renosters, “aliens” en tiere.

Mooi dink voor die nuwe plantseisoen. Maak daardie potlood skerp en doen die somme twee maal.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: September 2010

Section: E-mails

Search