• Login
  • Search Icon

Oom Blade se tuit

December 2015

image

Oom Blade se tuit

Beste Grootneef

Die dae rek nou bene na die jaareinde met die soelheid van lang somersdae. Tyd loop soos water deur die uurglas. Dit is al amper weer Krismis!

En wat ‘n jaar was dit nie.

Buurman sê as die Chinese ‘n jaar vir elke denkbare ding het, kan ons 2015 vernoem na “Die Jaar van die Beswaarde Student”. Kyk, die uitdrukking op oom Blade se gesig was dié van salige genoegdoening, toe die studente nog gesing en gedans het dat Rhodes moet val. Oom Blade se gesig het egter in een groot koffietuit verander, toe dieselfde studente ‘n maand of wat later vers twee aanhef, dat oom Blade moet val. En dit nogal voor die hele Praathuis.

Oom Blade se megafoontjie, waarmee hy ‘n langafstandoproep na die studente wou probeer, het nie ‘n dooie duit gemaak nie. Die rumoer was net te erg. Want vers drie van die gesang het gehandel oor fooie wat moet val. Met die laaste vers, het ‘n hele paar vermoeide belastes by die ritme van die refrein ingeval. Viva en al daai lekker dinge. Want studietyd is duur tyd.

Hopelik sal die span studente wat nou so stofgetrap het in die strate, gou leer hóé veeleisend dit is om voltyds te protesteer. En dat hul manewales nie die stille meerderheid wat eintlik net wil voorberei vir eksamens, sal ontwrig nie.

Die moeilikheid het eintlik begin met verkose owerstes wat niks het nie en dit met almal wil deel. Dis mos maklik om voor ‘n verkiesing babas te soen en die hemel en die aarde te belowe. Niemand herinner studente egter daaraan dat die lewe nie ‘n soustrein is wat van perron tot perron verskuif nie, maar dat sout eintlik verdien word in die sweet van jou aangesig.

Ek sien op TV hoe kwaad die studente is. Buurman sê, as iemand vir iemand kwaad wil wees, wees kwaad vir Adam en Eva. Dis die tweetjies se geappeletery wat ons nou in ‘n gebroke werklikheid het. Ons kon almal nou nog lekker in die Paradys rondgejol het à la Beau Brummel. Nou moet ons egter die wêreld met dorings en distels deel. Só: Kom oor dit en fokus my kind.

Ek wonder in watter stoor die beeld van Cecil John Rhodes nou rondlê. En of daar nie dalk ‘n onopsigtelike plastiekstoeltjie langs die gevalle held van die Britse Ryk geplaas kan word nie. Net ingeval oom Blade so nou en dan wou inloer om met ou Cecil te gesels oor die hinterland en sy mense.

Ou Neef, so aan die jaareinde is daar genoeg moeilikheid in ons ou landjie om ons besig te hou tot in 2025.

Kerstyd is egter ‘n tyd om die plaashek toe te trek en vir ‘n wyle net stil te raak oor die wonder van genade wat steeds vir ieder en elk uitgestrooi word. Nuut elke môre, soos manna op die duine.

Maak op Oukersaand ‘n vuurtjie net vir die familie. En gedenk die wonder daarvan dat reën dooie veld binne ‘n week in ‘n lushof kan verander. Gedenk ook die wonder van samesyn, familie en vriendskap.

En sing dan op Kersoggend die ou gesang:

“Van die velde
Uit die strome
Uit die diepte van die see
Uit die wolke van die bome
Deel Hy milde seën mee
Jaar en maand en dag en stonde
Elke vlugtige sekonde
Het U liefde en U trou
Steeds oor my die wag gehou.”

Want 2016 het weer genoeg van sy eie kwaad.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: December 2015

Section: Features

Search