• Login
  • Search Icon

Ontwikkelende landbou-wenners dankbaar vir ondersteuning

November 2014

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker; Foto's: HELENUS KRUGER

Die wenners van die drie splinternuwe kategorieë van die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar het elkeen vanjaar hulle groot dankbaarheid uitgespreek vir dít wat Graan SA en ander rolspelers in die landboubedryf in elkeen van hulle boerderye al beteken het.

image

Graan SA/Absa Bestaansboer van die Jaar (0 ha - 10 ha)

Enoch Khumalo van Piet Retief
“Ek het in 2012 betrokke geraak by Graan SA, toe my oë oop gegaan het. Vandag sien ek 'n toekoms. Ek vra die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om asseblief deure vir my oop te maak en dat Graan SA sal aanhou om my te ondersteun, sodat ek vorentoe kan beweeg.”

Graan SA/Syngenta Kleinskaalboer van die Jaar (10 ha, maar minder as 250 ton)

Lungelwa Kama van Maclear
“Dit is ‘n groot eer vir my om vanaand op hierdie verhoog te kan staan. Ek het dié toekenning nie verwag nie, maar ek is dankbaar en ek dank God vir alles wat hy vir my gedoen het. Baie dankie vir Graan SA vir my opleiding en dankie ook vir Vusi Ngesi (Graan SA ontwikkelingskoördineerder), ma Jane McPherson (bestuurder: Ontwikkelende Landbou, Graan SA) en my man, Vuyani, vir al julle hulp en leiding.”

Graan SA/Absa Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar (250+ ton)

Ralph Swart van Elim
“Dit is die Wes-Kaap wat hier staan en dit gebeur nie elke dag nie. Ek het in 1979 met 2 ha begin boer, ‘n jaar daarna het ek 5 ha gehad en twee jaar daarna 9 ha. Toe ek graan verkoop het in 1979, was die prys R400/ton en ‘n bees was R60.”

Swart boer vandag op 2 300 ha grond en hy het ‘n gemiddelde oes van 3 ton plus/ha. “Ek het eers vir die hoenders gesaai, maar vandag produseer ek vir Graan SA tonne en tonne graan en dit wil gedoen wees,” het hy met trots gesê. Een van sy grootste uitdagings is grond. “Kosie van Zyl het in 2012 my mentor geraak en een oggend het hy by my stoor aangekom en vir die gifsmous gesê dat hy die regte chemie moet spuit, want ‘Ralph moet 'n goeie oes maak om eendag sy eie plaas te kan koop’.

“Vandag, twee jaar later, koop ek ‘n plaas in Stormsvlei. Absa, dit wat julle vir ons mense doen, waardeer ons baie. Baie dankie vir dié geleentheid. Ek het ‘n toekoms vir my kinders probeer regkry, maar Absa, julle het vir my kinders ‘n verdere hupstoot vir die toekoms gegee,” was Swart se woorde.

Sy vrou, Preline, het ook vanaf die podium haar dankbaarheid uitgespreek. “Ek wil baie dankie sê vir Graan SA en al die rolspelers in ons boerdery – Kosie van Zyl (ons mentor), Liana Stroebel (Graan SA ontwikkelingskoördineerder) en Toit Wessels (ledebemarker: Graan SA). Dit wat ons bereik het, is net die Hemelse Vader se werk en ons is baie nederig oor al die toekennings wat op ons pad gekom het.”

Lees meer oor elkeen van hierdie drie wenners se boerderye in die September 2014-uitgawe van SA Graan/Grain.

Publication: November 2014

Section: Grain SA

Search