• Login
  • Search Icon

Onkruid in die winterreënvalstreek: Deel 4

September 2014

Kleinsaadkanariegras (little seeded canary grass)
 

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Phalaris minor
Afrikaanse naam: Kleinsaadkanariegras, kanariegras
Engelse naam: Little seeded canary grass, small canary grass

image Daar kom ses Phalaris-spesies in Suid-Afrika voor, waarvan twee as belangrike onkruide in gewasse erken word. Die twee spesies wat waarskynlik die meeste onkruidprobleme veroorsaak, is Phalaris minor (kleinsaadkanariegras) en Phalaris canariensis (gewone kanariegras).

Die twee spesies lyk baie eenders en dit is baie moeilik om hulle van mekaar te onderskei tensy jy met ‘n vergrootglas of disseksiemikroskoop na die blommetjies kyk. In die winterreënvalstreek word dus sommer in die algemeen na kanariegras verwys, wat dan beide spesies insluit.

Daar is tans geen rede om te vermoed dat die twee spesies baie verskil ten opsigte van biologie en sensitiwiteit vir onkruiddoders nie. Dus sal kleinsaadkanariegras se eienskappe in hierdie artikel beskryf word omdat dit waarskynlik effens meer algemeen voorkom as gewone kanariegras. Kleinsaadkanariegras word nie juis as ‘n strawwe mededinger in gewasse beskou nie – veral nie vergeleke met raaigras, wildehawer en predikantsluis nie. As dit egter in groot getalle voorkom, kan dit ook oesverliese veroorsaak.

Dit is veral in Indië en Pakistan ‘n baie belangrike onkruid in rys en koring en daar is gevind dat 20 plante/m² geen invloed het op koringopbrengs nie, maar by digthede van 50 - 500 plante/m² het dit koringopbrengs met 8% - 50% verlaag. ‘n Plantdigtheid van 4 000 plante/m² het algehele standverliese in koring veroorsaak. Die volwasse plant is ‘n yl, regop polgras wat eenjarig is en enigiets van 200 mm tot 1 000 mm hoog kan word, maar is gewoonlik so 500 mm tot 600 mm hoog.

Die halms en blaarskedes is haarloos en die tongetjie (liguul) is membraanagtig. Blaarskywe is haarloos, 50 mm tot 250 mm lank en 5 mm - 10 mm breed. Die bloeiwyse is ‘n dig saamgetrekte pluim wat soos ‘n aar lyk en is 20 mm - 50 mm lank. Blompakkies bevat een blommetjie, is 3 mm breed en 5 mm lank en die saad is strooikleurig tot donkerbruin, haarloos, blink, tot 2 mm breed en 4,5 mm lank. Dit is gewoonlik in ‘n strooikleurige, haarlose kelkkaffie gehul.

Voorkoms en verspreiding

Kleinsaadkanariegras en gewone kanariegras kom redelik wydverspreid in Suid-Afrika voor, maar veroorsaak veral probleme in gesaaides in die winterreënvalstreek. Dit kom ook op versteurde areas langs paaie voor en verkies klam kolle. Kleinsaadkanariegras is in elke vasteland op die aarde as onkruid aangeteken en veral waar rys en koring in rotasie verbou word, is dit ‘n groot probleem. Die saad van kanariegras is hardskalig en die vermoede is dat dít die rede is waarom dit ‘n tydperk van anaerobiese toestande in ryslande kan oorleef om daarna in koring ‘n probleem te wees. Saad van klein saadkanariegras kan vir ses maande dormant bly, maar daarna ontkiem dit geredelik en geen verskil in ontkiemingspersentasie van saad wat ses en 18 maande oud was, kon gevind word nie. Hierdie saad se leeftye verskil en onder landtoestande is gevind dat dit drie tot 24 maande lank kan oorleef, afhangende van omgewingstoestande.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir kleinsaadkanariegras geregistreer is wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen kleinsaadkanariegras is as daar nie weerstand is nie.

image

Dit is noodsaaklik dat produsente en/of chemiese vervaardigings- en bemarkingsmaatskappye probeer vasstel wat die weerstandstatus van kleinsaadkanariegras in ‘n land is voordat onkruiddoders daarop toegedien word. Indien daar nie weerstand teen ‘n spesifieke onkruiddoder is nie, moet sorg gedra word dat die onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.

Te hoë en te lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetel weerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in 'n ander werkswyse groep). In Tabel 1 word aangedui teen watter onkruiddoders wat geregistreer is vir beheer van kleinsaadkanariegras daar alreeds bewese of vermoedelike weerstand waargeneem is. Alhoewel weerstand teen onkruiddoders in kleinsaadkanariegras nie op so groot skaal waargeneem is as in ander onkruidgrasse soos raaigras en wilde hawer nie, is daar tog gevalle van weerstand aangeteken en waargeneem.

Die gevalle wat in Tabel 1 aangetoon word, is waarskynlik ‘n onderskatting van die ware toedrag van sake omdat nie veel monsters van kleinsaadkanariegras al getoets is vir weerstand nie. Dit is waarskynlik as gevolg van die feit dat dit nie so kompeterend is teenoor koring nie en dus nie as so belangrik geag word nie. Dit is egter redelik maklik om weerstand in kleinsaadkanariegras te beheer as dit in die vroeë stadium waargeneem kan word.

Omdat kleinsaadkanariegras selfbestuiwend is, sal ‘n weerstandbiedende plant se weerstandsgene net deur middel van saad oorgedra word en dit kom dus kol-kol op ‘n land voor waar die weerstandbiedende moederplant die vorige jaar gestaan het. Indien die kleinsaadkanariegrasplante opgespoor kan word voordat die saad ryp word en uitgestort word, kan die kolle plante maklik met die hand uitgetrek word of met ‘n nie-selektiewe onkruiddoder lokaal doodgespuit word. Dit moet egter gedoen word so gou as wat die saadpluime waargeneem word, want die sade waai redelik vinnig uit sodra die pluim begin verkleur.

Alternatiewe beheer
Dit is uiters noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheermetodes staatgemaak word om kleinsaadkanariegras te beheer nie. Alternatiewe metodes wat oorsee gebruik word om kleinsaadkanariegras te beheer, sluit in die saai van lewenskragtige koringkultivars wat goed kompeteer, ‘n vroeë saaidatum wat verseker dat koring vinnig vestig, hoër saaidigtheid, smaller rywydtes en saairye wat in twee rigtings loop. In Indië is gevind dat geenbewerking die getalle van kleinsaadkanariegras dra maties verminder het, maar dit was nie ‘n gevolg van die bewerkingsmetodes as sulks nie. Deur geenbewerkingspraktyke in te stel was daar meer geld beskikbaar om onkruiddoders te koop waarteen daar nog nie weerstand was nie en daar om het die populasies verminder. Weens die klein saadjie sal ‘n eenmalige skaarploegbewerking wat die saad diep kan begrawe waarskynlik effektief wees op lande wat erg besmet is met die onkruid. Daar moet egter nie gou weer geploeg word nie, want hoe dieper onkruidsaad begrawe is, hoe langer bly dit kiemkragtig en dieselfde saad kan dan oor ‘n jaar of selfs twee weer boontoe gebring word deur ‘n ploegbewerking.

Vir meer metodes om weerstand te bestuur, word verwys na die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand wat by enige van die chemiese vervaardigings- of bemarkingsmaatskappye beskikbaar behoort te wees.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnre Org Lotter (Bayer CropScience), Jim McDermott (Du Pont), Hannes Schoeman (Monsanto), Frik Potgieter (Nulandis) en Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Ditis ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Publication: September 2014

Section: On farm level

Search