• Login
  • Search Icon

Onkruid in die winterreënvalstreek: Deel 3

August 2014

Predikantsluis (Ripgut brome)
 

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Bromus diandrus
Afrikaanse naam: Predikantsluis
Engelse naam: Ripgut brome


Naas raaigras en wildehawer, is predikantsluis (Bromus diandrus) seker die belangrikste grasonkruid in gesaaidesin die winterreënvalstreek.

Die suiwer spesie B. diandrus en naverwante spesie B. rigidus is aparte spesies in Europa, maar in Suid-Afrika verbaster hulle vrylik en staan dus as die B. diandrus kompleks bekend. Daar is nie hier plaaslik drastiese verskille tussen die spesies nie en hulle word dus saam behandel as die B. diandrus kompleks.

Dit is ‘n yl vertakte polgras wat tot 1 m hoog kan word. Alhoewel die halms haarloos is, is daar digte hare op die blare. Die liguul (blaartongetjie) is ‘n 4 mm - 6 mm lange, wit membraan. Kenmerkend van jong saailinge is die fyngestreepte (perserig gestreep) blaarskedes. Die bloeiwyse is ‘n skurwe, slaphangende pluim en die blompakkies is lank en reguit, tot 6 cm lank met skurwe kafnaalde.

Kleure is groen of groen met pers in die onvolwasse stadium. Die sade is lig- tot donkerbruin, tot 1,1 cm lank en gerond aan die een kant en ingeduik aan die ander kant. Predikantsluis is ‘n redelike strawwe kompeteerder.

In Australië is daar gevind dat waar 400 predikantsluisplante vir 71 dae met koring gekompeteer het, het die droë massa per koringplant met ongeveer 65% gedaal en die aantal koringhalms per vierkante meter met ongeveer 45%. In dieselfde studie is gevind dat 100 predikantsluisplante per vierkante meter die koringopbrengs met 30% kan verlaag.

Die plante word ook nie in die volwasse stadium geredelik deur vee benut nie omdat die kafnaalde in hulle bekke en neuse steek. Dit kan ook die wol van skape kontamineer en saad hiervan kan graderingsroosters verstop. Boonop kan dit as gasheer optree vir 'n aantal graanwortelsiektes.

Voorkoms en verspreiding

Predikantsluis kom redelik wydverspreid in die winterreënvalstreek voor, maar veral in die Sandveldgebiede waar raaigras nie juis aard nie en in die naburige Swartland is dit 'n belangrike onkruid van ekonomiese belang. Dit groei ook langs paaie, in tuine en op klam plekke langs riviere. Koring-monokultuur en beperkte grondbewerking het getalle van hierdie onkruid laat toeneem.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir predikantsluis geregistreer is wat in die publikasie A Guide for the Chemical Control of Weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen predikantsluis is as daar nie weerstand is nie.

image

Dit is noodsaaklik dat produsente en/of chemiese vervaardigings- en bemarkingsmaatskappye probeer vasstel wat die weerstandstatus van predikantsluis in 'n land is voordat onkruiddoders daarop toegedien word.

Indien daar nie weerstand teen ‘n spesifieke onkruiddoder is nie, moet sorg gedra word dat die onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.

Té hoë en té lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in 'n ander werkswysegroep).

In Tabel 1 word aangedui teen watter onkruiddoders, wat geregistreer is vir beheer van predikantsluis, daar alreeds bewese of vermoedelike weerstand waargeneem is. Alhoewel weerstand teen onkruiddoders in predikantsluis nie op so groot skaal voorkom as in raaigras nie, is daar tog ook baie gevalle van weerstand aangeteken en waargeneem.

Dit is egter makliker om weerstand in predikantsluis te beheer veral as dit in die vroeë stadium waargeneem kan word. Omdat predikantsluis selfbestuiwend is, sal 'n weerstandbiedende plant se weerstandsgene net deur middel van saad oorgedra word en dit kom dus kol-kol op ‘n land voor waar die weerstandbiedende moederplant die vorige jaar gestaan het.

Indien predikantsluisplante opgespoor kan word voordat die saad ryp word en uitgestort word, kan die kolle plante maklik met die hand uitgetrek word of met ‘n nie-selektiewe onkruiddoder lokaal doodgespuit word.

image

Alternatiewe beheer
Dit is uiters noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheermetodes staatgemaak word om predikantsluis te beheer nie. In Australië is bewys dat predikantsluis wel redelik goed bestuur kan word indien geïntegreerde beheermetodes gebruik word.

Dit behels dan kombinasies van chemiese, biologiese en fisiese metodes soos die situasie vereis. Die volgende aksieplanne kan gebruik word:

  • Uitputting van die saadbank (stoppelbrand, vroeë, ligte herfsbewerking en uitgestelde saaidatums).
  • Vernietiging van lewende plante (voorsaaibespuiting met nie-selektiewe middels, vooropkoms onkruiddoders en selektiewe na-opkoms onkruiddoders).
  • Verhoed saadvorming (aarspuitwei [saadsterilisasie] in weidings, hooi en kuilvoermaak en beweiding).
  • Verhoed dat sade die saadbank aanvul (vang kaf op en vernietig tydens oes).
  • Verhoed dat sade van eksterne bronne die lande binnekom (pasop om besmette hooi van ander gebiede/plase af aan skape te voer op die land).

As gevolg van die groot sade wat van redelik diep af kan vestig, is landbewerking om predikantsluis-saadpopulasies te verminder, nie so effektief soos vir raaigras nie. Aan die ander kant kan ligte bewerking sade stimuleer om te ontkiem en die plante kan dan vernietig word.

Die saad het ‘n redelike sterk saadrus in die somer, maar sodra toestande gunstig raak en die saad is naby die grondoppervlakte, sal dit geredelik ontkiem.

Indien dit diep begrawe is, kan dit vir tot twee jaar in die grond lewenskragtig bly. Vir meer metodes om weerstand te bestuur, word verwys na die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand wat by enige van die chemiese vervaardigings- of bemarkingsmaatskappye beskikbaar behoort te wees.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnre Org Lotter (Bayer CropScience), Jim McDermott (Du Pont), Hannes Schoeman (Monsanto), Frik Potgieter (Nulandis) en Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaatverkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Ditis ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Publication: August 2014

Section: On farm level

Search