• Login
  • Search Icon

Onkruid in die winterreënvalstreek: Deel 9

February 2015

Gousblom (Cape marigold)
 

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Arctotheca calendula
Afrikaanse naam: Gousblom
Engelse naam: Cape marigold

Daar kom vier Arctotheca-spesies in Suid-Afrika voor, maar Arctotheca calendula (gousblom) veroorsaak ernstige probleme veral in boorde en graanlande in die Wes-Kaap. Dit is ook ‘n lastige onkruid op grasperke.

Gousblom is ‘n inheemse plant. Dit word deur diere gevreet – in Australië is gevind dat skape eerstens raaigras, dan klawers, dan gousblom verkies voordat hulle turknael vreet.

Onder beweiding gee dit dus die onkruide ‘n kompetisievoordeel. Gedurende die groeiseisoen het gousblom koolhidraat- en ruproteïenvlakke wat vergelykbaar is met dié van klawers en raaigras, maar in die somer verswak die gehalte vinnig.

Dit kan egter ook hoë vlakke van stikstof akkumuleer wat dan oorsprong gee tot nitraat- en nitrietvergiftiging in perde, varke, skape en beeste. Dit is besonder gevaarlik nadat die plante met hormoononkruiddoders, soos 2,4D gespuit is, veral wanneer daar vroeg in die seisoen in warm weer gespuit is. Dit kan ook ‘n slegte bysmaak aan melk gee wanneer koeie dit vreet.

Gousblom is ‘n matige mededinger en plant slegs deur middel van saad voort. In Australië word aanbeveel dat dit regverdigbaar is om te spuit indien daar meer as 15 gousblomplante per vierkante meter is as dit saam met die gewas ontkiem het. Indien dit egter die voor-plantbeheer en plantproses oorleef het, is drie tot vier plante genoeg om bespuiting te regverdig.

In Wes-Australië het sewe tot 90 plante per vierkante meter, koringopbrengs met 28% tot 44% verminder. In lupiene is gevind dat tien plante per vierkante meter, wat ses weke voor-plant ontkiem het, algehele standverlies veroorsaak het, terwyl dieselfde digtheid wat saam met die lupiene ontkiem het, geen opbrengsverliese veroorsaak het nie. Indien daar egter 30 gousblomplante per vierkante meter saam met die lupiene ontkiem het, was die oesverliese 20%.

Gousblom is ‘n eenjarige plant met ‘n kompakte ondergrondse stingel wat soms bo die grond uitgroei en tot 50 cm hoog kan word. Stingels het klieragtige grys hare en is fyngeriffeld wanneer dit teenwoordig is.

Die gesteelde blare word in ‘n roset op die grond gedra en is onreëlmatig gelob met skerp getande rande; grys, wollerige onderkante en is byna haarloos en groen aan die bokante. Indien stingels teenwoordig is, lyk die blare ook so, maar is sittend en af wisselend gerangskik en omvat die stingel. Die lig- tot heldergeel blomme is alleenstaande, eindstandige hofies wat tot 5 cm in deursneë kan wees en gedra word op bloeistele wat tot 20 cm lank is en met klieragtige hare bedek is. Die vrugte is dopvrugte wat met digte, wollerige hare bedek is. Die vrugte is bruin tot perserig, tot 3 mm lank en 1 mm breed, vlak gerib met vratagtige uitsteeksels. Die vrugpluis bestaan uit vyf klein, membraanagtige skubbe.

image

Voorkoms en verspreiding

Gousblom kom wydverspreid in Suid-Afrika voor, maar dit veroorsaak veral in die winterreënvalstreek groot probleme in wingerde, graanlande en weidingslande. In sekere areas in die Vry staat, Noordwes Provinsie en KwaZulu-Natal kom dit ook as ‘n onkruid in landerye voor. Dit het waarskynlik as kontaminant met voer en verpakkingsmateriaal na Australië versprei in die laat 1880’s en kom ook nou in die Middellandse See-gebiede voor.

Gousblom plant slegs met saad voort. Die sade is klein en is vlak ontkiemers. Gousblom het nie vegetatiewe voortplantingsorgane nie, maar kan baie maklik verplant word onder klam toestande, met ander woorde as jong plantjies nie heeltemal bo-op die grondoppervlak geplaas word deur meganiese bewerking nie, begin dit weer groei en kan dan erg met nuut ontkiemde gewassaailinge kompeteer.

Die sade kan enige tyd ontkiem, maar daar is ‘n hoogtepunt in die herfs. Dit is nie baie rustend nie en afhangende van omgewingsomstandighede en die ekotipe, ontkiem al die saad in die daaropvolgende jaar. In sekere gevalle ontkiem slegs 20% van die saad, maar daar is nog nie gevind dat saad langer as twee jaar kiemkragtig bly nie.

Dit groei in meeste grondtipes, maar verkies sanderige tot sandleem gronde en ook gronde met hoë P-inhoude. Aanhoudende swaar beweiding op weidingslande bevoordeel gousblom en dit help ook mee met grondversuring. In Australië is gevind dat gousblom floreer wanneer vroeë reën opgevolg word met ‘n vier- tot vyfweke-droogteperiode.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir gousblom geregistreer is, wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen gousblom is as daar nie weerstand is nie.

image

Daar is in 1986 weerstand teen diquat in Australië aangeteken en sedertdien ook teen paraquat, maar geen ander gevalle van onkruiddoderweerstand in gousblom is aangeteken nie.

Dit is egter belangrik dat antiweerstandsmaatreëls toegepas word om te verhoed dat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel. Dus moet sorg gedra word dat enige onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie. Té hoë en té lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in 'n ander werkswysegroep).

Alternatiewe beheer
Met die oog op die voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. Bewerking en fisiese verwydering is effektief, maar baie tydrowend.

Vlak bewerking is effektief om gousblomsaailinge te beheer, maar die plantjie moet heeltemal met wortels bo die grond land anders groei dit verder – vermy bewerking wanneer die grond klam tot nat is.

Indien saadvorming vir twee tot drie jaar verhoed kan word, kan die populasies van gousblom baie verlaag word aangesien die saad se lewensduur redelik kort is.

Afsny/slaan van plante is net effektief indien dit gereeld gedoen word naby die grondoppervlakte om blomvorming te verhoed. In weidings het wisselweiding gehelp om gousblom te onderdruk deurdat dit die graskomponent van die weiding gestimuleer het.

In Australië het spray topping met glifosaat (360 g ab per liter) teen 400 ml per hektaar tydens blom, die gousblompopulasie in die daaropvolgende seisoen met 90% verminder. Die toepassing van geïntegreerde bestuursaksies is baie belangrik, nie net om weerstand te voorkom nie, maar ook om onkruidbeheer meer omgewingsvriendelik te maak.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer CropScience), mnr Jim McDermott (Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Dit is ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Publication: February 2015

Section: On farm level

Search