• Login
  • Search Icon

Onder die vergrootglas: Die ekonomiese evaluasie van grondboonkultivars

March 2012

BARRETT SCHOEMAN, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA EN WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die Landbou Navorsingsraad (LNR) het die afgelope vyf seisoene die Nasionale Grondboon Kultivar-evaluasieprogram binne die grondboonproduksiegebiede van Suid-Afrika behartig. Toetse is deur die LNR op 21 proewe, met 14 kultivars asook belowende teellyne, op droëland en besproeiing onder verskeie klimaats- en geografiese toestande in die 2010/2011-seisoen gedoen. Die versamelde data is statisties ontleed om objektiewe inligting vir produsente se besluitnemingsproses oor die mees geskikte kultivar wat aangeplant moet word, te verkry. Weens die verskillende produksietoestande wat gedurende die afgelope paar seisoene ondervind is, is deurlopende evaluering dus noodsaaklik.

Die inligting wat uit die proewe verkry word, word onder andere gebruik om die stabiliteit en winsgewendheid van die onderskeie kultivars te bepaal. Belowende teellyne sowel as geregistreerde kultivars word in die grondboonprogram geëvalueer. Dit is ook van kritieke belang om die verskillende teellyne in die groot produserende gebiede van grondbone te evalueer, aangesien dit beter insig oor die aanpasbaarheid van kultivars oor verskillende seisoene, bied.

Die 2010/2011-seisoen is gekenmerk deur ontydige reënvalpatrone wat die beheer van siektes belemmer het en die stroopproses van grondbone vertraag het. Gevolglik is groot opbrengsverliese en in sommige gevalle ‘n afname in die kwaliteit van grondbone ondervind.

Die 21 proewe wat aangeplant is gedurende Oktober 2010 tot November 2010, is in drie kategorieë verdeel, naamlik:

  • Besproeiing/Gespuit (9)
  • Besproeiing/Nie-gespuit (3)
  • Droëland (9)

Vir die doel van hierdie artikel word die winsgewendheid van die volgende populêre kultivars onder besproeiing en droëland bespreek, naamlik: Akwa, Anel, Tufa, PC 366 – K9 (ARC Opel1) en SA Juweel. Vir die droëlandproewe is Hoopstad, Schweizer-Reneke en Vaal harts as vergelykende grondboonproduksiegebiede gebruik, terwyl Brits, Douglas en Vaalharts as besproeiingsvoorbeelde gebruik is. Die verskillende lokaliteite het elk ‘n unieke klimaat en grondtipe wat verteenwoordigend is van die grondboonproduksiegebiede in Suid-Afrika. Die gemiddelde grondboonprodusenteprys wat in die 2010/2011-seisoen behaal is, is gebruik om die winsgewendheid van die kultivars in R/ton en R/ha te bepaal. Die gemiddelde keur-, divers-, eetbare- en oliepers-grondboonprys was onderskeidelik R7 400/ton, R4 500/ton, R3 500/ton en R1 500/ton.

Droëlandproduksiegebiede

Op Hoopstad het Anel, ten spyte van ‘n relatief lae keurpersentasie, die hoogste opbrengs (3,02 ton/ha) van die vyf kultivars behaal.

Gevolglik is Anel die winsgewendste kultivar in R/ha (R18 805). Die hoë keurgraad van Akwa (89,1%) in vergelyking met die ander kultivars het Akwa in R/ton egter die winsgewendste gemaak gevolg deur ARC Opel1, Tufa en Anel. Weens die lae opbrengs van die SA Juweel en omdat die kultivar geen keurgraadgrondboon opgelewer het nie, het SA Juweel die swakste op Hoopstad gevaar (Tabel 1).

image

Tufa het op Schweizer-Reneke bogemiddelde goeie opbrengste van 3,58 ton/ha behaal. Tufa oortref die ander kultivars met tussen R4 000/ha en R8 000/ha ten opsigte van winsgewendheid. Die swakker persentasie keurgraad wat verkry is in vergelyking met die ander kultivars, plaas Tufa egter vierde op die lys van winsgewendheid in R/ton. Alhoewel SA Juweel beter opbrengste op Schweizer-Reneke behaal het, is die keurpersentasie steeds laag en het die kultivar in vergelyking met die ander kultivars die swakste presteer (Tabel 2).

image

In Vaalharts het Tufa weer eens goed presteer en op droëland ‘n opbrengs van 6,06 ton/ha behaal. Die hoë opbrengs lei daartoe dat Tufa ‘n winsgewende produksie van R41 592/ha behaal het. Die naaste vergelykende kultivar is ARC Opel1 wat R32 471/ha behaal het. Die keurpersentasie van Tufa is egter swakker as Anel en Akwa en is naas laasgenoemde, derde in terme van R/ton ten opsigte van winsgewendheid. SA Juweel het op Vaalharts ‘n baie swakker opbrengs (1,70 ton/ha) in vergelyking met die ander kultivars opgelewer. Die kultivar het die swakste ten opsigte van winsgewendheid op Vaalharts gevaar (Tabel 3).

image

Besproeiingsproduksiegebiede

Onder besproeiing op Brits het Tufa die hoogste opbrengs van 3,44 ton/ha behaal. Die laer keurgraadpersentasie van Tufa het egter daartoe gelei dat Anel die winsgewendste kultivar in R/ha was. Tufa het in verhouding met die ander kultivars ‘n hoë persentasie diverse graad en hoë persentasie persgraad grondbone gehad. Anel se hoë keurpersentasie en goeie opbrengs maak dit die winsgewendste kultivar in R/ha en tweede winsgewendste in R/ton. ARC Opel1 se uitsonderlike hoë keurpersentasie van 90,6% lei daartoe dat dit die winsgewendste kultivar in R/ton is. In terme van winsgewendheid (R/ha) het SA Juweel die swakste gevaar (Tabel 4).

image

Behalwe vir SA Juweel het die ander vier kultivars op Douglas goeie opbrengste van bo 5 ton/ha behaal. Die hoogste opbrengs was Tufa met 5,71 ton/ha, gevolg deur Akwa, ARC Opel1 en Anel. Tufa was gevolglik weens die hoë opbrengs en relatief hoë persentasie keurgraad, die winsgewendste kultivar in R/ha om op Douglas aan te plant. Akwa, ARC Opel1 en Anel was ook kompeterend in dié opsig. Alhoewel ARC Opel1 ‘n taamlike lae persentasie keurgraad behaal het, was die persentasie diverse graad se volume goed op 21,8% en het die kultivar kompeterend gebly en die beste plek in R/ton winsgewendheid behaal (Tabel 5).

image

Onder besproeiing op Vaalharts het Tufa ‘n uitsonderlike opbrengs van 6,28 ton/ha behaal. Die gemiddelde opbrengs van die vyf kultivars was 5,26 ton/ha. Die uitsonderlike goeie opbrengs maak Tufa die winsgewendste kultivar (R/ha) in die Vaalharts-gebied om onder besproeiing te plant. Naas Tufa, het ARC Opel1, met ‘n opbrengs van 5,88 ton/ha, ‘n winsgewendheid van R39 651/ha behaal.

Tufa se laer persentasie keurgraadgrond-bone lei daartoe dat die kultivar die vierde winsgewendste kultivar in R/ton was. Anel se hoë keurpersentasie van 84,3% het tot ‘n winsgewendheid van R6 870/ton gelei wat die hoogste in R/ton is (Tabel 6). Let egter daarop dat die persentasie keurgraadgrondbone vir al die kultivars vir die proef relatief laag was.

image

Opsomming

Droëlandproewe
In terme van winsgewendheid per hektaar, het Tufa op Vaalharts en Schweizer-Reneke die beste gevaar en Anel op Hoopstad. Anel het die beste opbrengs teenoor die ander kultivars op Hoopstad behaal. Tufa het die beste opbrengs op Schweizer-Reneke en Vaalharts behaal. Akwa se persentasie keurgraadgrondbone was die hoogste op Hoopstad en Schweizer-Reneke. Akwa se lae opbrengs het veroorsaak dat die kultivar se winsgewendheid per hektaar nie die hoogste was nie. Tufa het op Vaalharts die hoogste winsgewendheid van R41 592/ha behaal, terwyl SA Juweel die laagste winsgewende syfer (R/ha) van R5 858/ha op Hoopstad behaal het.

Besproeiingsproewe
In terme van winsgewendheid per hektaar het Tufa op Vaalharts en Douglas die beste gevaar en Anel op Brits. Tufa het die beste opbrengs op Vaalharts, Douglas en Brits behaal. Anel se persentasie keurgraadgrondbone was die hoogste op Douglas en Vaalharts en ARC Opel1 op Brits. Tufa se winsgewendheid per hektaar was die hoogste op Vaalharts (R41 778/ha) en SA Juweel het die swakste gevaar met R14 016/ha op Brits.

Publication: March 2012

Section: Input Overview

Search