• Login
  • Search Icon

ONBETROKKENHEID - DIE EINDE VAN VOORUITGANG

August 2013

image

“Vooruitgang is onmoontlik sonder verandering, en diegene wie nie hul mening kan verander nie kan niks verander nie.” – George Bernard Shaw

Die definisie van onbetrokkenheid is die gebrek aan belangstelling of besorgdheid oor iets of iemand en die onwilligheid om betrokke te raak. Ons het almal ‘n rol te speel in die volhouding van hierdie mooi land.

Ons het uit die geskiedenis gesien dat onbetrokkenheid op alle vlakke gelei het tot selfpromovering en diskriminasie, die begunstigdes (rykes) en die onbegunstigdes (armes) wat ons uiteindelik geskeur en bykans vernietig het. Gelukkig is ons ‘n nuwe begin gegun om uit die verlede te put wat goed was en nuwe idees vir die toekoms te vorm. Hierdie proses kan nie sonder welwillendheid en begrip begin nie, ‘n bereidwilligheid om na die groter prentjie te kyk en op die eindresultaat te fokus.

Die graanbedryf verskil geensins nie. Die eindresultaat is voedselsekerheid en die volhouding van ‘n voorspoedige bedryf wat op ‘n internasionale vlak kan kompeteer. Ons het die infrastruktuur, ons het die staatsdepartemente, ons het die bronne, ons het die vaardighede en ons het die produsente.

Laat ons die beleidmakers onder die loep neem, die regering – die entiteit wat die gesag het om beleide en prosedures in plek te sit om die volhoubaarheid en groei van die industrie te verseker. Miskien as ons die woorde “te verseker” uithaal en vervang met “help met”, is dit ‘n beter beskrywing van wat hul rol behoort te wees.

Terwyl die regering wel die mag het om belangrike besluite te neem en wetgewing uit te vaardig wat die industrie vorm, is die fokus dikwels nie op daardie sake wat die meeste aandag verg nie. Om te “help met” die ontwikkeling en vooruitgang van die bedryf moet hulle weet wat die behoeftes en die realiteite van die situasie is. Indien die beleidmakers beter ingelig en betrokke was by produsente en navorsers om die operasionele sy van die industrie te verstaan, sou die burokratiese rompslomp nie so moeilik gewees het om te oorkom nie; befondsing sou in relevante projekte belê wees en antwoorde en besluite rakende kritieke sake sou baie vinniger geneem word.

Navorsers het ‘n belangrike rol te speel in die bedryfswaardeketting. Hulle het die vermoë om die gaping tussen produsente en die beleidmakers te oorbrug. Te midde van uitermatige onderspandering in openbare navorsing, kan die navorsers se werk in ‘n groot mate die regering help om die regte besluite te neem en beleide daar te stel wat die landboubedryf in sy geheel sal baat.

Mits die wetenskaplikes hul mandaat en doelwitte nakom, sal hulle navorsing in die finale instansie bydra tot die verbetering van voedselsekerheid en mededingendheid, die aantrek van toekomstige beleggers in openbare navorsing en ontwikkeling en ook die skep van ‘n positiewe beeld van die graanbedryf in Suid-Afrika. ‘n Kern aangeleentheid op hierdie tydstip is die bou van plaaslike kapasiteit en opvolgbeplanning.

Om die toekoms van navorsing en ontwikkeling te verseker, is dit belangrik om kontinuïteit te behou en deurlopend die huidige institusionele vermoë aan te vul. Die graanbedryf kan nie vooruitgaan sonder noodsaaklike navorsing en die beskikbaarheid van voldoende opgeleide navorsers nie.

Produsente is nog altyd as die ruggraat van enige land in terme van voedselsekerheid beskou. Dikwels onderskat hulle egter die krag van hul invloed. Deur hulle behoeftes bekend te maak en beleidmakers en navorsers te beïnvloed, kan hulle positiewe en noodsaaklike veranderinge in die bedryf aanmoedig.

Net soos wat die beleidmakers en navorsers die kwessies wat produsente konfronteer moet begryp, net so moet die produsente op hul beurt bewus wees van die manier waarop die regering opereer – sy beleide en prosedures, sy politieke sienings en standpunte en die protokolle in plek met betrekking tot landbou. Produsente moet betrokke raak by die beleidsformulering van hul plaaslike regering of munisipaliteit en hul gemeenskappe. Hulle het die mag om verandering teweeg te bring in landelike Suid-Afrika deur die beïnvloeding en oorreding van plaaslike gesagstrukture.

Elke sleutelrolspeler in die graanbedryfwaardeketting het die uitsonderlike vermoë om sy talent en invloed aan te wend om positiewe veranderinge in die groter belang van die hele land te bewerkstellig. Deur hierdie verantwoordelikheid te aanvaar en te glo dat ons ‘n verskil in die uitkoms van ons toekoms kan maak, is die stryd teen onbetrokkenheid halfgewonne.

image

Dr Marinda Visser, bestuurder: Bedryfsdienste, Graan SA

Publication: August 2013

Section: Editorial

Search