• Login
  • Search Icon

Om waarde toe te voeg, is tot ons voordeel

May 2015

— Richard Hobson
 

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Mnr Richard Hobson is die bestuurder van die Nonen Ranch Boerdery wat deel vorm van die Botselo-groep. Die Botselo-groep is ‘n familiebesigheid wat al geslagte lank besigheid doen.

Hobson is verseker ‘n waardige draer van die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die jaar 2014-titel. Hierdie boerdery word bedryf in die Setlagole-omgewing waar daar hoofsaaklik met mielies, vee en wild geboer word. Die gewasse word hoofsaaklik op watertafellande verbou en ‘n oorlêstelsel word ook geïmplementeer om risiko’s te verskans.

Aan die hoof van die Botselo-groep is mnr Carey Hobson en hy word ondersteun deur sy broer, Adrian, asook Carey se twee seuns, Richard en Garth. Hierdie viermanskap werk saam om die belange van die groep tot die maksimum uit te brei. Hulle werk as ‘n span en vergader gereeld om te beplan, ontledings te doen, resultate te meet en strategie te bepaal en die belangrikste: Om te sorg dat dit geïmplementeer word. Vier koppe kan altyd beter dink as een en dít lei daartoe dat beter besluite geneem word.

image

Waardetoevoeging

‘n Oogmerk van hierdie groep is om soveel as moontlik van die ver bruikersrand na hulle besigheid te kanaliseer. Deur waardetoevoeging te gebruik, land ‘n groot gedeelte van die verbruikersrand in hulle sak en dit maak dit moontlik om soveel meer te kan doen.

Om egter te dink dit val net in jou sak, is verseker ‘n fout. Baie harde werk, implementering van strategieë, goeie bemarking en die konstante lewering van goeie produkte is ‘n voorvereiste.

Waardetoevoeging is begin deur eie produkte op die plaas te begin maal wat oor tyd gegroei het tot vandag se meule wat ongeveer 250 000 ton graan per jaar verwerk. Later is ‘n voerkraal ook tot stand gebring om die meule se afvalprodukte in wins om te sit.

Om die meule se finale produkte te vervoer, is ‘n vervoerbesigheid begin wat sommer ook vervoerwerk vir die omgewing kan doen. Die saaiboerdery gebruik die afvalstowwe van die voerkraal en sodoende skakel die vertakkings lekker by mekaar in en die meeste afvalstowwe word gebruik om wins te maak.

Agtergrond

Hierdie groot boerdery en besigheid het verseker nie uit die lug geval nie.

“Ons voorgeslagte het die visie gehad om die familie saam te voeg en te laat saamwerk. In die laaste paar jaar het die besigheid egter drasties uitgebrei. Die jong Hobsons moes hulself rat om die besigheid vorentoe te neem en daarom is die werk tussen die broers verdeel,” vertel Richard.

Richard is verantwoordelik vir die boerdery, terwyl sy broer, Garth, vir die ander vertakkings verantwoordelikheid neem. Adrian is verantwoordelik om die meule se produkte te bemark.

Hier was die besigheid uiters wys. Baie geld is belê om ‘n handelsmerk te vestig. Die konstante lewering van kwaliteit produkte is wat die verbruiker wil hê en daarom is dit belangrik dat alles moontlik in die produksieketting gedoen word om juis dít te bewerkstellig. “‘n Verbruiker het net een keer ‘n slegte ervaring van ‘n produk en hy sal nooit weer die produk koop nie,” beklemtoon Richard.

Saaiboerdery

Onder Richard se leiding, is die saaiboerdery drasties uitgebrei. Dit het die aankoop van grond ingesluit en hier het die besigheid weer eens baie wys opgetree. Richard het vinnig besef om te kan bly boer, moet die beperkte hulpbronne geoptimeer word. Vog is in hierdie wêreld altyd ‘n groot beperking en daarom moes hy maniere vind om dit te optimeer.

Richard sê hy onthou uit sy kinderdae, op pad see toe, dat die mielies in die Wesselsbron- en Bultfontein-area altyd mooi van die pad af gelyk het. Daarom het hy gaan ondersoek instel hoekom dit die geval is en gou het hy besef dat dit die grond is.

Hy het toe sulke hulpbronne in hul omgewing gaan soek en dit bekom om op te boer. Winsmaksimering is ook verder uitgebrei deur hulpbronne volgens hul potensiaal te begin bestuur en te sorg dat hulle optimaal produseer. Ten einde hierdie doelwit te bereik, is alle gronde eers fisies en toe chemies gekarteer, chemies reggestel en tans word presisieboerderytegnieke toegepas om die opbrengste te optimeer. Deur hierdie beginsels toe te pas, word die grond volgens die grondpotensiaal bestuur.

Hy het ook besef dat dit nie net die hulpbronne is wat die opbrengs bepaal nie, maar eerder die hoeveelheid vog tot die plant se beskikking. Vog is altyd ‘n beperkende faktor en daarom poog Richard om hierdie skaars hulpbron te optimeer.

Sonder om prestasie te meet, kan vordering nie bepaal word nie en daarom span die boerdery ook die nuutste tegnologie in om opbrengste te meet. Daar is ook sekere doelwitte opgestel wat gemeet moet word. Een hiervan is die kilogram graan per millimeter reën geproduseer.

“Ons poog om hierdie syfer konstant uit te brei en neem ook aktief stappe om dit te verbeter en te meet. Tans word daar gekyk na nouer rye, hoër plantesand, en bewaringstegnieke om die voginfiltrasie te verhoog en die vogverlies te beperk,” sê Richard.

Oesrestebestuur en oesrestebewaring is van die kritieke aspekte wat bestuur word. Beeste word wel toegelaat om die oesreste lig te be wei, maar as dit kan, word die beeste nie in die lande toegelaat nie.

image

Onkruidbeheer

Dit is ook belangrik om aksies se totale koste te bereken voor besluite geneem word. Só word onkruid chemies beheer as die plantjies nog baie klein is. ‘n Lae dosis onkruiddoder is dan nodig en sodoende word koste bespaar. Indien weer bespuit moet word, doen hulle dit. Winteronkruid word ook so spoedig moontlik beheer. Jong, klein win teronkruid word maklik beheer en sodoende word baie vog bewaar.

“Dit help nie jy weet wat om te doen, maar die spuitslaankrag is nie daar nie,” verduidelik Richard. Daarom is dit vir hom belangrik om oor die nodige slaankrag te beskik om die doelwit van vogbestuur uit te voer.

Toerusting

Kapitaal belê in ysters is ‘n groot gedeelte van die boerdery se totale kapitaalbehoefte. Richard het die besluit geneem om hierdie belegging ook te meet en baie fyn te bestuur. Die besluit is geneem om die effektiwiteit van die kapitaal belê in toerusting te meet en te optimeer.

Masjiene word nou vir meer as een taak aangewend en só kon ‘n groot besparing in ysters bewerkstellig word. Hoër effektiwiteit van die trekkers en implemente is ook verkry deur van GPS-tegnologie gebruik te maak en hierdie toerusting word ook ingespan om presisieboerdery toe te pas.

“Hierdie toerusting bring ook vir jou as bestuurder meer verantwoordelikheid. Dit is jou taak om te sorg dat die tegnologie die nodige inligting insamel om die metings te kan doen. Verder moet die groter implemente en masjiene baie goed in stand gehou word. ‘n Breek in ‘n kritieke tyd kan jou baie geld kos,” verduidelik hy.

Belangrikste bate

Geen boerdery werk net met toerusting nie: Daar is altyd mense ook nodig. Die Hobsons glo dat hierdie bate van die boer dery die belangrikste bate is. Om as ‘n span saam te werk, is ononderhandelbaar en hulle glo vas dat die nodige erkenning vir hierdie span gegee moet word.

Soos ons almal weet, staan daar agter elke suksesvolle man, ‘n baie goeie vrou. Paula, Richard se vrou, het die administrasie van die boerdery onder haar sorg en sy voer dit besonder goed uit.

“Baie van die besluite wat ons moet neem, kom vanuit die data wat Paula byhou,” sê Richard. “Ons ontleed die data, probeer sin maak daaruit en neem dan besluite daarvan af. Só het ons norme daargestel om te bepaal watter grond potensieel nog winsgewend en volhoubaar kan graan produseer.

“Begrotings word jaarliks opgestel en berus op die hoeveelheid vog in die grond en op die vorige jaar se opbrengste. Hierdie boerdery poog ook om krisisbestuur tot die minimum te beperk. Planne word voor die tyd vir alle gebeurlikhede gemaak en soos tyd vorder, word die planne aangepas en geïmplementeer.”

Graanbemarking

Graanprysverskansing is baie belangrik vir hierdie besigheid, daarom word dit aktief toegepas en in stand gehou.

“Sonder graan kan die meule nie funksioneer nie en sonder ‘n koper kan die boerdery ook nie werk nie. Dit beteken ons is afhanklik van mekaar,” aldus Richard.

Hy besef ook die belangrikheid wat kundige buitepersone in hulle boerdery speel.

“Elke produsent moet homself met kundigheid omring, maar tog pa staan vir die eindbesluit. Nie net kundige mense nie, maar ook ‘n goeie ondersteuningsbasis is noodsaaklik vir elke produsent. Verhoudinge is waaroor dit gaan en waaroor dit in die toekoms ook sal gaan.”

Hulle poog daarom om altyd goeie verhoudinge met alle mense te handhaaf. “Per slot van rekening koop hulle ons produkte en ons koop hulle s’n.

“Om te vra is die beste manier om jou eie kennis uit te brei. Deur van hierdie kundiges te leer en toe te laat dat hulle van jou leer, is tot voordeel van almal.”

Persoonlike, gefokusde doelwitte is ook ‘n vereiste tot sukses. Langtermyndoelwitte moet in plek wees en moet nagejaag word. “Die belangrikste is egter dat jy jou werk moet geniet. Hierdie besigheid het vaste doelwitte, maar een daarvan is om weer vir die gemeenskap terug te gee. Dit is so maklik om selfsugtig te raak en dan kom ons almal tweede,” sluit Richard af.

As daar verdere vrae is, kan Richard Hobson gedurende die dag gekontak word by 082 944 6151 of skakel Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: May 2015

Section: On farm level

Search