• Login
  • Search Icon

Om te meet is om te weet: Groot "spilpunt-foute" ontdek — verklaar sommige produksiefoute

November 2011

image

CORNEL DE VILLIERS, GWK

Effektiwiteit is die basis waarop koste bespaar kan word. Sommige foute ontstaan en die fout is baie keer versteek in iets anders as wat algemeen verwag word.

Die rede vir verskille in opbrengste wat ontstaan, word telkens gesoek by die kunsmis- of saadverskaffer se aanbevelings, maar dit is nie noodwendig die oorsaak nie.

Ek wil myself verstout om te sê dat ons weer na die basiese dinge ten opsigte van gewasverbouing moet gaan kyk (soos grondvoorbereiding, plantdiepte en waterbestuur) en dan sal baie van ons probleme ten opsigte van opbrengste opgelos word.

Baie toerusting word vandag nie korrek of effektief gebruik nie. So word daar byvoorbeeld implemente gebruik waarvan die tande reeds so geslyt is dat die effektiwiteit daarvan onder verdenking is. Die aantal kilowatt per tand wat benodig word om effektief te werk, word ook baie keer erg onderskat. Die vraag is: Toets ons die effektiwiteit van die implemente op ‘n gereelde basis?

Met die rekenaartegnologie wat tans beskikbaar is en alles wat daarmee beplan en ontwerp word, is daar steeds niks so goed as die ou gesegde van “Om te meet is om te weet” nie. Dit wat gemeet word, kan dan bestuur word en ingeligte besluite kan geneem word.

‘n Basiese beginpunt van effektiewe besproeiing lê by effektiewe spilpunte.

Kom ons bespreek in kort die effektiwiteit van watertoediening (ook kunsmis en onkruiddoders). Baie keer is daar ‘n verskil tussen twee spilpunte se opbrengste en word die fout gesoek, maar nie gevind of aangespreek nie.

Soos reeds genoem, is daar verskeie oorsake wat ondersoek word.

Baie min bestuursinligting is beskikbaar oor ‘n spesifieke spilpunt op ‘n spesifieke plaas, byvoorbeeld:

  • Hoeveel elektrisiteit verbruik die spilpunt per hektaar?
  • Wat is die lewering, toediening en verspreiding van water op die land?
  • Wat is die druk in die stelsel en is dit konstant?
  • Wat is die doeltreffendheid van die pomp? Is daar nie ‘n pomp met ‘n beter doeltreffendheid nie?
  • Werk my elektriese motor optimaal of is hy oorontwerp?
  • Is die grootte van die moederlyn korrek ontwerp?

Al die boonste vrae moet gevra en geantwoord word. Nie om te sien waarvoor is die stelsel teoreties ontwerp nie, maar eerder wat die werklikheid is wat op landvlak realiseer.

Die situasie is kommerwekkend en met die voorsiening in die verhoging van die elektrisiteitstariewe is daar begin om aandag te gegee aan die scenario. In samewerking met ‘n besproeiingsingenieur, mnr Neels Bezuidenhout van Eskom, Bloemfontein, is die effektiewe aanwending van elektrisiteit in besproeiing ondersoek.

Na aanleiding hiervan het mnr AP Botes van GWK, spilpunte geëvalueer en is die vermoede met praktiese evaluering van stelsels bevestig, naamlik dat die waterverspreiding van die stelsels nie meer die water eweredig toedien soos wat voorheen gedink is nie. Kunsmis, gif en waterverspreiding is swak en die resultaat kan niks anders as ‘n swakker oes wees nie. Die afwykings by die stelsels wat ondersoek is, wek groot kommer. Hierdie proses is tans steeds in die ondersoekfase, maar daarna sal aanbevelings gedoen word oor wat die effektiefste manier sal wees om die probleme te kwantifiseer en dan aan te spreek.

In die proses is 15 spilpunte in verskillende areas in die land, met behulp van Bezuidenhout ondersoek en die verslag word eersdaags verwag. Voorlopige resultate dui op ongelooflike afwykings met eweredige watertoediening by sekere stelsels en ook dat sekere pomp-installasies sub-standaard is.

Die besproeiingsprodusent verloor in dié opsig redelik baie geld met die wanaanwending van sy stelsel asook met die gebruik van die elektrisiteit wat tye van besproeiing betref.

Verskeie faktore het ‘n invloed op ‘n kosteeffektiewe stelsel vir besproeiing.

  • Die optimale stelsel wat die pompgrootte en motor betref asook die kragleweringspunt.
  • Die infiltrasievermoë van die grond.
  • Die helling, indien enige, en die invloed op die drukking in die stelsel.
  • Die tipe spuitkop (nozzle) wat gebruik word.
  • Die bestuursinligting wat bestaan vir die besproeiingsprodusent vanaf sy stelsel om te weet of hy reg besproei al dan nie.

Die koste van elektrisiteit en die inset koste van kunsmis en bewerking, kan alleen met goeie opbrengs gediens word. Die verskil in opbrengs op ‘n 60 ha sirkel met koring met ‘n 6 ton oes teenoor ‘n 8 ton oes, is R350 000 per oes.

In opvolgartikels sal riglyne gegee word oor hoe produsente hul spilpunte moet evalueer en hoe om die effektiwiteit van die spilpunte te verbeter. Vir verdere navrae, kan Cornel de Villiers van GWK by (053) 298-8200 gekontak word.

Publication: November 2011

Section: Input Overview

Search