• Login
  • Search Icon

Om iets na te laat

December 2014

image

image

Beste Grootneef

Dit is deel van elke mens se vesel om iets na te laat om aan onthou te word. Van die vroegste tye af. Kyk maar na die Farao’s van Egipte – hulle piramides staan ná al die eeue steeds buite Kaïro. Net so met die klomp Romeine – hul colosseum in Rome beïndruk vandag nog, ‘n Loftus uit Caesar se dae!

Die geskiedenis van die Farao’s en die Romeine is letterlik uit klip gekap – en só kan ons vandag nog op ‘n manier verstaan hoe hul geleef en gedink het.

Gaan jy egter verder terug die eeue in, kry jy bouvalle en strukture van voor menseheugenis. Niemand weet hoekom 'n plek in Engeland soos Stonehenge gebou is nie. Om daardie tonne klip staan te maak, moes ‘n bomenslike taak gewees het. En vandag weet niemand eers wie dit vermag het nie!

In ons eie landjie aan die suidpunt van Afrika, het die vroegste inwoners ook daarvan gehou om hul merk te maak. Kyk maar onder die holkranse en grotte, dan sien jy eeue gelede se skilderykranse. Jagters met pyl en boog, olifante, elande en wat nog, uit vergange se dae. Herinneringe uit die vroegste tye op klip vasgepen, wat die toets van die tyd deurstaan het.

Stap ‘n mens deur valleie en berge, kan jy maar uitkyk vir die hoop klippe op die hoogste piek. Elke reisiger van toeka tot nou, pak sy klippie op die stapel, om daardeur te sê “Ek het dit gemaak”. En om vir dié wat nog op pad is, te herinner aan wié reeds deur die dal gereis het. Soms is dit ‘n dal van doodskaduwee, soms ‘n vallei van verlatenheid. Ander kere weer is dit ‘n vallei van vreugde en oorvloed wat anderkant die klipbaken gevind word. Dit is maar hoe die lewensreis werk. Maar elk wat op sy lewensreis deur die kloof is, het sy klippie met woord en daad op die lewensbaken gelaat.

Die mens se onthou, hou egter omtrent net vir drie geslagte voordat dit in die vergetelheid verdwyn. Soos die verhale uit die boere-oorlog. Oupa se ervarings op die ope velde, is nou bloot net 'n vae herinnering.

Die grootste bouwerk is egter nie altyd met klip en sand nie. ‘n Goeie plan kan selfs langer hou as die grootste monument. Vlugvoetige denke wat mense besiel, kan ‘n veilige hawe skep. Net so kan 'n vrot plan se geur egter ‘n leeftyd draal, voordat die gevolge daarvan verdwyn.

Wense vir die nuwe jaar? Dat ons bouwerk met denke en dade die toets van die tye sal deurstaan. En dat die planne wat ons maak en die ervarings wat ons deel, ‘n veilige vesting sal bied.

Sodat die jong boere van môre wat ná ons kom, nie eendag in verwondering staan en kopkrap en wonder wát die oumanne van destyds met die hoop klippe wou doen nie. Maar dat dit ‘n baken van hoop vir die nuwe geslag sal wees, ‘n baken van helder denke wat 'n verskil gemaak het toe dit die nodigste was. Want 2015 gaan 'n moeilike neut wees om te kraak.

Geseënd ou Neef. Geseënd op die Oosgrens, so oor die Kerstyd.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: December 2014

Section: Features

Search