• Login
  • Search Icon

OLIESADE-OORSIG: Oliesaadmarkte kry hupstoot van Suid-Amerikaanse droogte

February 2012

image

– 17 Januarie 2012

PROF JOHAN WILLEMSE, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Oliesaadpryse het in die laaste twee weke van Desember 2011 en die eerste twee weke van Januarie 2012, ‘n goeie opwaartse hupstoot gekry, met swak reënval en hoë temperature wat opbrengsskade aan graan en oliesade in Suid-Amerika veroorsaak het.

Aanduidings is dat die verwagte opbrengste sowat 6 miljoen ton kleiner gaan wees dié jaar, teenoor verlede jaar in Suid-Amerika. Die totale internasionale produksie van sojabone word verwag om so 12 - 15 miljoen ton kleiner te wees, wat beteken dat daar ‘n daling in internasionale voorraad van sojabone verwag word vir 2011/2012.

Die afgelope VSA sojaboonoes is begin Januarie 2012 effe groter aangepas, na net bokant die 82 miljoen ton, wat in die jongste VSA Departement van Landbou se skattings die internasionale aanbod effens verbeter het.

Oos-Europese sonneblomsaadoeste is redelik goed en ‘n baie sterk uitvoerprogram is op dreef asook die uitvoer van sonneblomolie en sonneblomkoek uit die Oos-Europese lande.

In die geval van grondbone, het internasionale pryse verder gestyg na nuwe rekord dollarprysvlakke, weens tekorte in Indië en sterk invoere vanaf Sjina.

Die verswakking in die waarde van die rand teenoor die dollar oor die tydperk het ook bygedra om randpryse ‘n opwaartse hupstoot te gee, wat nie noodwendig gaan voortduur nie. Die risiko internasionaal is dat, met ‘n swak ekonomiese groeivooruitsig in die belangrike ekonomies groeiende lande – selfs met die moontlikheid van ‘n ekonomiese insinking, daar reeds tekens is dat die vraag na oliesaadprodukte effens verswak het. Dit beteken dat die mark moeilik nog prysstygings sal kan absorbeer tensy daar ‘n groot droogte of produksieprobleme in Suid-Amerika toeslaan.

Internasionale ontleders is van mening dat die opwaartse neiging in dollarpryse, van veral sojabone, tydelik is en dat hul ‘n daaltendens verwag in die volgende weke. In dié stadium wil dit egter voorkom of die skade van so 5 - 10 miljoen ton in Suid-Amerikaanse oeste, wel voorraad effens sal inkrimp, maar nie genoeg om die markpryse skerp op te jaag nie.

Dit is ook nog te vroeg om te spekuleer oor die VSA se aanplantings en verwagte oesgroottes, met ‘n produksieseisoen wat eers in Maart/April 2012 ‘n aanvang gaan neem.

Pryse op die Suid-Afrikaanse mark was middel-Januarie op redelike goeie vlakke en dit sal nie ‘n slegte idee wees om nou reeds ‘n kleiner gedeelte van die aanplantings se pryse te verskans nie.

image

image

Internasionale pryse

Die verloop van die internasionale sojaboon- en sonneblomsaadpryse word in Grafiek 1 getoon, terwyl Tabel 1 ‘n opsomming gee van die pryse teenoor ‘n jaar gelede. Die grafiek toon die rand teenoor die dollar, waar die rand verswak het, wat beteken dat Suid-Afrikaanse pryse hierdeur opgedruk is.

Afgesien van die droogte in Suid-Amerika, wat die nuwe aanbod van sojabone beslis kleiner gaan maak en pryse gaan stut, is die groot probleem dat baie lande erge ekonomiese probleme het en dat die verbruik van oliesaadprodukte daal; weliswaar nie baie nie, maar genoeg om die kleiner oeste te neutraliseer en voorraad net effens te laat daal.

Die VSA ekonomie is ook nog onder druk en veral ook die Europese Unie (wat ‘n groot invoerder van sojaprodukte is). Die situasie is egter nou aan die ontvou – die internasionale beleggersgemeenskap sien Suid-Afrika as ‘n groter risiko as die VSA en Europese Unie en die kredietgraderingsagentskappe het die afgelope twee maande die Suid-Afrikaanse ekonomie se kredietgradering verlaag.

Dit is veral die swak beleid in Suid-Afrika en debatte rondom nasionalisering van privaatbates wat internasionale beleggers die skrik op die lyf jaag. Dit bring nie net wisselkoersswakte nie, maar plaas ook opwaartse druk op rentekoerse wat die Suid-Afrikaanse regering op staatskuld betaal. Tensy die VSA en Europese Unie ekonomieë nog groter probleme kry, wil dit voorkom of die rand relatief swak gaan bly vir die volgende paar maande, maar daar word nie ‘n groot verswakking voorsien nie.

Internasionale grondboonpryse het nog verder gestyg, soos in Grafiek 2 aangetoon word. Dit is die resultaat van kleiner oeste in Indië en die sterk vraag uit Sjina. Dollarpryse is op rekordhoë vlakke en die verwagting is dat dit produksie in die volgende jaar of wat sal aanmoedig, veral in Indië en sommige Afrika-lande asook Argentinië.

image

Suid-Afrikaanse pryse

Die plaaslike sojaboonoes is later geplant as gewoonlik en die stand is ook nie wat produsente graag sou wou gehad het nie. Daar is waarnemers wat van mening is dat die aanplantings groter is as verlede jaar, maar dat die uiteindelike Suid-Afrikaanse oes nie soveel groter gaan wees teenoor dié van verlede jaar nie, sodat dit nie problematies is om plaaslik te verwerk nie.

Daar was dan ook nog bekendmakings teen einde 2011 van nog verwerkingskapasitiet wat beplan word om plaaslik opgerig te word. Die groei in die produksie van sojabone moedig beleggings in nuwe verwerkingseenhede aan. Van die verwerkingseenhede is van so ‘n aard dat dit kan omskakel tussen ‘n sojaboon- en sonneblomsaadpers.

Die Oos-Europese lande is besig om al hoe meer dominant te word in die produksie van sonneblomsaad en die verwerking hiervan in olie en koek, wat teen mededingende pryse uitgevoer word. Die goeie oeste van 2011 asook groot volumes wat verwerk word, het tot gevolg dat die Oekraïne tans sowat 50% van die wêreld se sonneblomolie uitvoer – hoofsaaklik na Europa. Dit het tot gevolg dat sonneblomoliepryse tans teen ‘n diskonto verhandel teen sonneblomolie op die internasionale mark. Sonneblomoeste in Argentinië is nie so erg deur die droogte beskadig nie en verwagtinge is dus dat sonneblomoliepryse eers later in 2012 kan herstel.

Plaaslike aanplantings van sonneblom was gekniehalter deur saadbeperkinge, maar swak produksietoestande het teen middel-Januarie 2012 gedui op aanplantings wat nie na wense is nie en dat die kans op ‘n groter oes as in 2011, nie goed is nie.

Pryse het ‘n effense opwaartse tendens getoon in beide sojabone- en sonneblomsaad sedert middel-Desember 2012 tot middel-Januarie 2012 – wat weer ‘n goeie basis gee vir kleiner prysverskansings, soos uit Grafiek 3 blyk.

image

Grondboonpryse op die internasionale mark is op rekordvlakke met ‘n stewige vraag weens kleiner oeste. Plaaslike uitvoerders beleef ‘n baie lewendige vraag en afhangende van hul vooruitpryskontrakte met internasionale kopers, kan daar goeie agterskotte wees. Die groot probleem is swak produksietoestande in sekere streke op die oomblik en dan ook die uiteindelike kwaliteit van die oes wat gelewer word.

Hierdie Oliesade-oorsig word moontlik gemaak deur die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust.

Publication: February 2012

Section: Markoorsig

Search